Subscribe by Email

Opdrifsels

Na ‘n regtige warm, droë midsomer is die Vrystaatse reën dikwels meer as net lafenis. Dis uitkoms, en selfs die amper ryp druiwe op die prieel wat skielik roes en wegvrot is bloot ‘n jammer-nagedagte. Dis so eie soos die geelperskereën wat die heerlikste taaipitperskeoes in bruin hopies op die grond laat beland.

Daai druiwe, troos jy jouself, sou in elk geval voëltjie en byekos gewees het. En ken ‘n man dit nie? Om die hand om die mooiste druiwetros te vou vir die nodige pluk vir ‘n goue oes, maar tandeknersend die hand terug te pluk met die by se angel sierlik wat aan ‘n vingerpunt pronk.

Na die lang hittevasbyt is dit dikwels ook raakvat.

Terwyl dit nie reën nie, is erfdreinering soos ‘n dak wat lek – as die son skyn lek dit nie. As dit nie reën nie, is die inrypad nie ‘n grag nie.

Maar dan kom die harde bui, en in ‘n ommesientjie is die erf onder water, en die inrypad lyk soos ‘n foto van Amsterdam.

Net baie anders.

Die doringbome wat so verbete vir ‘n skadulafenis in die hitte gesorg het, se bloeisels het intussen grond toe gesuiker. Fyn, effense blaarjies wat skaars ‘n skoonvee werd is.

Maar dan kom die reën en daai einste bloeisels, saam met ‘n klomp piepklein blaartjies maak opdrifsels, en verstop dreineringslote op die onmoontlikste plekke. Dit maak sulke lang boogwalle oor die inrypad en dié lyk kort voor lank soos ‘n Chinese ryslandskap uit die lug.

Wanneer dit begin reën is ‘n mens nie altyd so voorbereid soos ‘n mens moet wees nie. Die gesin se enigste sambreel lê agterin een van die motors na ‘n uitgaanslag toe dit gelyk het of dit dalk sou reën. Om die sambreel in die hande te kry, moet ‘n mens sopnat reën.

Met die sambreel gewapen, word die opdrifsels getakel, en van die bukkery is die kortbroek se sitkant sommer gou deurnat – dié neig om onder die sambreel uit te steek as die opdrifsels met die hand bymekaar gehark en in die beddings gegooi word.

Intussen hoop die werk op – dit donder en dis nie baie wys om die breëband vir die internet aan te los nie. Dus word herbeplan, geherposisioneer, en werk gedoen wat agterweë sou bly as dit nie reën nie.

Met die dreinering wat soos die Oranje in vloed afsit straat toe, is dit tyd om Pumba uit haar besmartlikheid te verlos. Daai hond soek nie water uit die lug nie, maar die lus vir die stappie om die koerant by die keraats te gaan kop, weeg baie swaarder.

Met die wegtrekslag drup dit skaars, en Pumba loop die ketting kort-kort so styf soos ‘n kitaarsnaar soos sy skynstormlope op keffende brakke agter die duiwelsvurk-heinings loods. Maar geleidelik begin dit weer harder reën en ‘n man sit kort-kort met ‘n bedremmelde boerboel onder die voete. Nou weet Pumba van die dilemma van opdrifsels optel onder ‘n sambreel. Is die kop uit die reën, raak die agterstewe nat. Is die stert droog, wiks die druppels die ore en lippe.

Pumba is naderhand aan die boogloop soos sy haar voor- en agterpote so na as moontlik aan mekaar probeer kry.

Later is die reën en donder oor, die werksaamhede word hervat. Buite is die damme water gedreineer en die opdrifsels in die beddings waar dit ‘n lagie teen die volgende sonaanslag kan vorm.

In die natuur is die damme wat dié fyn blaartjies kollektief kan vorm noodsaaklik om water op te vang en te laat wegsink. Dit keer erosie. Dit bemes, en dit bied voedsel aan ‘n klomp termietspesies, wat weer luggange in die grond grou.

Die kleinste, kleinste, wat ‘n rol kan speel.

In ons beskawing word die dammetjies met mening opgeruim. Dit mag nie muskiet-broeiplekke word nie. Want bly die walletjies kan ‘n mens maar weet – steek jy jou neus by die huis uit skree die muskiete: “Kos is op die tafel.”

Herman Toerien