Subscribe by Email

Oorlewende van Rwandese volksmoord praat by Kovsies

‘n Bekende oorlewende van die Rwandese volksmoord, Marguerite Barankitse, is een van die hoofsprekers tydens ‘n simposium oor die verbreking van siklusse van die verlede, wat van 5 tot 8 Desember by die Vrystaatse Universiteit aangebied word. Die doel van die konferensie is om nuwe ondersoekmetodes te vind oor die invloed wat trauma wat oor generasies strek, op gemeenskappe het wat erge geweld beleef het.

Marguerite het verskeie pryse en toekennings ontvang vir haar werk wat daarop gemik is om die lewens van Hutu- en Tutsi-kinders wat deur die oorlog ontwrig is, te verander. Dit sluit onder andere in die gesogte humanitêre prys, die Opus-prys, die UNESCO-prys en die Wêreld se Kinders-prys wat ook bekendstaan as die ‘Nobelprys’ vir humanitêre werk, wat ten doel het om die lewens van kinders te verbeter en hulle ‘n kans op ‘n beter toekoms te bied.

Een van die geleenthede by die konferensie, getiteld “South Africans speak about the crisis of moral leadership: A public dialogue,” wat op Vrydag 7 Desember van 18:00-19:30 in die Eeufeeskompleks aangebied word, sal oop wees vir die publiek. Een van die bekende deelnemers is prof. Pierre de Vos.

 

 

Herman Toerien