Subscribe by Email

Oom Herrie se kerrie: Mensdom se beskawing te danke aan…bier

Dié week lees oom Herrie dat ‘n span Kanadese navorsers meen die mensdom het sy beskawing te danke aan bier.

Wat net maar weer bo alle twyfel bewys, oom Herrie kan lees.

Ja, hulle meen die mens het in die eerste plek graan begin verbou vir die vervaardiging van die skopdop, en eers later waarde aan die graan as voedsel begin heg.

Nou maak dit vir oom Herrie sin hoe daar Menseregtedag gevier word terwyl mense agter polisievoertuie aangesleep word, Sharpeville by Marikana ge-re-enêkt is, Suid-Afrika die hoogste verkragtingskoers ter wêreld het, en die land onder die hoogste moordkoerse ter wêreld het.

Die antwoord is maklik. Die ouens wat uitgedink het dat ‘n mens daai dinge deur ‘n dag, genaamd Menseregtedag, kan vier, was volgesuip van die beskawing.

Volgens die navorsers was die oermense so tienduisend jaar gelede baie geïnhibeerd in hul groepe se dissipline. Te geïnhibeerd om met nuwe idees vorendag te kom om die geykte praktyke van die ringkoppe uit te daag.

Maar loop die spulletjie iewers in die veld gegiste vrugte raak, dan het dit saans om die vure gegons van vrypostighede en nuwe gedagtes.

Baie soos nou se dae. Oom Herrie onthou in sy jong dae hoe hy self af en toe op pad huis toe eers gou ‘n draai op die eerste vloer moes gaan maak, en was dan verstom hoe slim die manne oor ‘n beker bier kon raak. Al die land se probleme in ‘n japtrap opgelos, met die een been stewig om die lang stoelpoot gevleg om te keer dat ‘n man afneek. Daai stoele was hoog en ‘n ongeluk kon ‘n lelike ding afgee.

Die rede hoekom die probleme steeds onopgelos is, is dat die manne die volgende dag niks van daai slim planne kon onthou nie.

So jollie het dit volgens die navorsers tienduisend jaar gelede gegaan dat hulle begin graan verbou het om die droë tye tussen gegiste vrugte te kan oorkom. In die Ou Wêreld was dit veral einkorn, ‘n verwant van koring, wat gebruik is en in die Nuwe Wêreld teosinte, die voorloper van die mielie.

Bygesê, die mense moes hulle natuurlik nie te buite gaan nie, want kyk, ‘n oermens met dronkverdriet was glo iets vreesliks om te aanskou. En as die spulletjie veglustig sou raak en mekaar begin timmer, het hulle ook al die allerverskriklikste wapens gehad om mekaar mee te verongeluk.

Baie beskaafd.

En ja, daai tyd kon die mense al land en sand praat, en mens kan mens net indink watter slimstories ‘n man moes uitdink as hy snags laat met ‘n lekker lyf by die grot opdaag waar vroulief hom met ‘n knuppel inwag. As ta vir vroulief sien, het vir homself in die oertaal gesê: “Tjie kô groôd q*k.”

Die gesprek met vroulief verloop min of meer so: “Tjêrre (doef!) ai! (doef!) jai! (doef, doef!). Heeltemal niks kom van sy uitgewerkte toesprakie dat hy vir ‘n vergadering by Knoep se grot was waar hulle in diepte oor die bevordering van beskawing besin het nie.

Nee, kyk, as ‘n man met sy lekkerlyf by die huis aankom en vir vroulief wil wysmaak oom Herrie het gesê dis so danig beskaaf, dan gee oom Herrie vir vroulief toestemming om die koekroller in te span, menseregte of de nôt.

Op Kalahari het Die Reine Waarheid en ander liegstories ‘n vyfster-gradering gekry. Die boek kan dus met vrymoedigheid aan ander aanbeveel word. Dankie aan Elmaré Rossouw vir die resensie.

Die e-boek, Die reine waarheid en ander liegstories is nou beskikbaar by Leserskring, Kalahari, My Books en Amazon deur Boekemakranka se maklike skakel. Onthou die boek tel ook vir klublede van Leserskring se verpligte maandelikse aankoop. Herman Toerien

Herman Toerien se nuutste reusebydrae tot Afrikaanse humor is ‘n moet vir elke Afrikaanssprekende (en Afrikaner) om te lees! Die jonger geslag sal presies agterkom waar Dawid nou eintlik die wortels gegrawe het in ‘n tyd sonder Google of TV, en hulle kan inleef in die ongelooflike vertellings van toeka tot nou. Vir ons wat effe ouer is, herinner die leser hom aan stories wat pa en oupa kleintyd om die kaggel- of braaivleisvuur vertel het, maar jou nou byna heeltemal ontgaan het. So dikwels het jy gewens dat jy hierdie kosbare vertellings neergeskryf het, om dit nogmaals te kon geniet, en vir jou kinders en kleinkinders kon bewaar. Herman se besondere waarnemingsvermoë en unieke skryfstyl met hope humor en fynweg draaksteek, maak van Die reine waarheid en ander liegstories ‘n vreugde om oor en oor te lees en te geniet. ‘n Stukkie Africana op sy beste!

Elmaré Rossouw