Subscribe by Email

Ontwikkelingshulp in 2011 af

Westerse lande het in 2011 drie persent minder aan ontwikkelingshulp in ontwikkelende beskikbaar gestel as die vorige jaar. Dit is die eerste beduidende afname sedert 1997.

Dit blyk uit ‘n VN-verslag van MBG Gapingtaakspan. Dit het betrekking op die ontwikkelingsfondse wat 23 skenkerlande aan die Ontwikkelingshulpkomitee van die VN se OECD beskikbaar stel. Sestien van dié lande het in 2011 hul bydraes verminder. Dié bedrag het in 2011 $133,5 miljard beloop, of te wel 0,31 persent van die skenkerlande se BNP. Die riglynbedrag is 0,7 persent van die BNP.

Griekeland se daling in hulp het 39 persent beloop, terwyl nog een van die sparrelende Pigs-lande, Spanje, se ontwikkelingshulp met 32 persent gedaal het. Oostenryk met 14 persent minder, België met 13 persent en Japan met 10,9 persent minder het ook erg teruggesnoei, terwyl Nederland, Swede, Noorweë en Luxemburg se hulp dieselfde gebly het. Dit is egter reeds bekend dat Nederland, een van die bitter min lande wat by die VN-riglyn van 0,7 persent van die BNP vir ontwikkelingshulp hou, ook hierop gaan terugsnoei.

MBG wys daarop dat die wêreld-ekonomiese krisis sy tol eis.

Skenkerlande word versoek om hul vereistes meer deursigtig aan die ontvangelande te kommunikeer, terwyl die VN ook nou na ander bronne vir ontwikkelingshulp begin kyk. Dit sluit nie-Westerse lande en ryk korporasies in.