Subscribe by Email

Ontvoering van meisies neem toe in Limpopo

Die ontvoering van kinders en die seksuele uitbuiting van jong meisies is besig om in Musina in Limpopo drasties toe te neem. Die meeste slagoffers is Zimbabwiese meisies wat tussen 13 en 17 jaar oud is.

Hulle kom Suid-Afrika deur die Beitbrug grenspos in of steek die grens onwettig langs die Limpopo-rivier oor. Die woordvoerder van die groep, Regslui vir Menseregte, Thabani Matshakaile, sê daar is meer seuns as meisies in hul skuilings wat kommerwekkend is. Hy sê die meisies kom eers by die skuilings uit wanneer hulle siek of swanger is.

Matshakaile sê die aantal verkragtings neem ook toe. Hy sê meer as die helfte van verkragtings was onwettige immigrante wat deur bendes aangeval is.

Intussen word berig uit Kaapstad dat die polisie binnekort gaan toeslaan op die vermeende leier van ‘n sindikaat wat hulle in Parow in die Skiereiland aan mensehandel skuldig maak. Die owerhede sê hulle win inligting in van die Nasionale Vervolgingsgesag oor die aard van die klag wat gelê kan word teen ‘n sakevrou in die gebied.

Suid-Afrika het nog nie ‘n werkbare wet teen mensehandel nie. Die vyf meisies wat vroeër in ‘n pakhuis in Kaapstad gevind is, is ook te bang om self klagtes te lê. RSG