Subscribe by Email

Ontvoerde tiener veilig terug by huis

’n Kaapstadse tiener, wat naby die Nuwelandse rugbystadion ontvoer was, is veilig terug by haar ouerhuis. Die polisie soek na haar ontvoerders en het die publiek gevra om enige inligting oor die voorval bekend te maak.

Die graad 11 tiener sê sy het gedink sy gaan doodgemaak word. Die sage het begin laas Saterdag toe ’n swart jeep-motor langs haar gestop het in Claremont Boulevard om padaanwysings te vra. Daar was twee wit mans persone voor in die voertuig en een wit vrou en ’n gekleurde manspersoon agter in. Die vrou het haar ewe skielik aan die arm gegryp en met behulp van die mans in die voertuig gedwing. Sy is toe ’n drankie, wat na Fanta Grape geproe het, ingeforseer, waarna sy haar bewussyn verloor het.

Sy het wakker geword in ’n vertrek in ’n huis, met twee enkelbeddens en ’n toilet daarin. Nog ’n jong meisie, van Malawiese afkoms was saam met haar in hierdie kamer toegesluit. Kort daarna het die mans in die kamer gekom en aan hulle foto’s gewys van meisies wat kaal poseer, op onbehoorlike wyses. Die mans het hulle beveel om ook so te poseer as hulle nie seergemaak wil word nie.

Hulle is na ’n aangrensende vertrek geneem wat gedekodeer was vir die fotosessie. Daarna is foto’s van hulle geneem.

Die volgende dag is die meisie geblinddoek en na ’n ander huis geneem, waarna die foto’s daar gewys was aan ’n ander wit man, wat partykeer geklink het of hy Duits praat. Hierdie man het toe opdrag gegee dat die Malawiese meisie moet bly en die tiener weggeneem moet word.

Hulle het haar toe teruggeneem na die eerste huis en Maandag oggend dou voor dag, het hulle haar gaan aflaai naby Somerset-Wes, waarna sy haar weg na haar ouerhuis gevind het.

Intussen was haar ouers al rasend van bekommernis en het oral navrae gedoen by haar vriende en familie om haar te soek. Hulle was dankbaar dat sy skynbaar ongedeerd terug is en het haar ook na ’n dokter geneem vir ’n ondersoek.

Adjudant-offisier Henry Abrahams, van die Steenberg Kinderbeskermingseenheid, het ’n beroep gedoen aan die publiek om te help in hierdie saak. Hy kan gekontak word by 021 799 1315. Die Jeep is swart, met getinte ruite en geen registrasie nommers op nie.