Subscribe by Email

Ontpoldering sleutel tot Nederlands-Vlaamse betrekkinge

Om te sê dat ‘n kleinerige lappie aarde die moontlike toekomstige eenwording van Nederland en Vlaandere in die wiele kan ry is ‘n erge oorvereenvoudiging van die realiteit is.

Die breë staatkundige sentiment, in hierdie stadium altans, blyk ‘n koers te wees wat op die onafhanklikheid van Vlaandere sal uitloop, eerder as samesmelting met Nederland. In ‘n stadium is wyd berig oor die sentimente wat weerskante van die landsgrense binne provinsiale grense aan die ontwikkel is. Met die verdeling van België en Nederland is provinsies middeldeur gesny, en aspekte daarvan blyk vandag nog uit die staatkundige samestelling van die twee lande. Beide Nederland en Vlaandere het provinsies met die naam Limburg, terwyl Noord-Brabant in die suide van Nederland lê, terwyl die provinsie Antwerpen Vlaamse Brabant van Noord-Brabant skei. Brabants is eerder ‘n eie taal as dialek van Nederlands en die eerste Brabantse Bybelvertaling het enkele jare gelede die lig gesien.

Die jongste aanduidings is egter dat Vlaandere na ‘n onafhanklike staat mik indien, of wanneer, België staatkundig vou.

‘n Skrale 100 hektaar staan nou breed in die handhawing van gesonde betrekkinge tussen Nederland en Vlaandere. Vanuit ‘n Suid-Afrikaanse konteks klink dit min, maar dit is baie vrugbare landbougrond in Nederland. Maar meer nog, dit is ‘n droogelegde deel van ‘n polder in Seeland, en in Seeland is die droogleggings van die see vir eeue lank deel van die mens se geestelike samestelling.

Om ‘n polder weer aan die see af te staan gaan as’t ware teen die grein van die DNS van die Seelanders.

Maar dan moet die nuwe DNS van die Vlaminge ook verstaan word. Die selfregerende status van Vlaandere en selfs moontlike toekomstige onafhanklikheid van dié gebied loop sterk. Om Vlaandere politiek en ekonomies sterk genoeg te hou, en te verskans, is dit sleutelbelangrik dat Antwerpen moet gedy. Antwerpen is ‘n rivierhawe, en om die groter skepe wat die hawe te moet aandoen te kan ontvang, moet die Westerschelderivier dieper gebagger word. Op die oomblik kan skepe van 100 000 ton tot tagtig kilometer van die see af vorder. Antwerpen se hawe is een van die grootstes in Wes-Europa en sy binnelandse ligging gee dit ‘n bepaalde voordeel bo ander seehawens.

Europese wetgewing bepaal egter dat die natuur gekompenseer moet word wanneer ontwikkeling ‘n impak daarop het. Nederland het met die Vlaamse regering ooreengekom om die Hedwigepolder van 295 hektaar aan die see terug te besorg. Dit het die Seelanders in opstand gebring, hoewel ‘n klein deel daarvan op Vlaamse grondgebied geleë is. Vlaandere sou dan ook die naasliggende Prosperpolder by die “verdronke” gebied laat aansluit. Vlaandere sou ook volledig die koste betaal.

Van 209 af het die weerstand die Nederlandse regering laat kleitrap.

Met die regeerakkoord vir die huidige Nederlandse koalisieregering is ooreengekom dat die polder nié opgeoffer gaan word nie. Die Europese Kommissie het dit egter nie aanvaar nie, en die Vlaminge nog minder. Die hawe van Antwerpen het gedreig om skadevergoeding van sowat 70 miljoen Euro’s per jaar te eis.

Die Nederlandse regering het na intensiewe onderhandelings met die Europese Kommissie ‘n kompromis voorgestel. In plaas daarvan om die hele polder te oorstroom, sal 100 hektaar, asook die Schorer- en Welzingerpolders opgeoffer sal word. ‘n Skietbaan en ‘n gholfbaan sal ook onder die water verdwyn.

Hieraan byt die Europese Kommissie langtand, omdat die nuwe voorstelle nie tot ‘n aaneengeslote natuurgebied sal lei nie. Dit verplaas die probleem bloot. Boonop is die nuwe plan veel duurder as die oorspronklike, en om dit te betaal, sal nou noodwendig druk op die Nederlandse begroting plaas.

Hoewel die Seelanders as al hartlik poldersat beskryf word, is dit geen uitgemaakte saak dat hulle sal kopgee nie. Hulle kan nie verstaan hoekom dele van Seeland aan die see prysgegee moet word om Antwerpen ter wille te wees nie. Ook in die parlement het genoeg partye aangedui dat hulle die prysgawe met hand en tand sal beveg.

Word die berigte in die Vlaamse pers gelees, is dit ‘n heel ander prentjie wat geskets word. Daar is min begrip vir die Nederlanders se traagheid, en selfs die Vlaamse regering word die kop gewas vir voetesleep en dat te sagkens met die Nederlandse owerheid omgegaan word.

En …Vlaamse belange het ook die afgelope aantal jare sterk en selfs volledige aandeelhouding in van Nederland se groot, sukkelende publikasies oorgeneem.

Vir die voorstanders van ontpoldering het daar nou nog ‘n lastigheid bygekom – die Universiteit van Groningen het pas bevind dat die wêreld teen 2050 tussen 70 % en 100 % meer landbougrond gaan benodig, ongeag tegnologiese ontwikkeling in die landbou. En hiervoor gaan Nederlanders meer vir hul bord kos moet opdok – terwyl vrugbare grond tuis onder die golwe verdwyn.

Die jongste krapperigheid is oor die Nederlands-Belgiese bank, Ageas, voorheen Fortis. Fortis het beleggers groot somme geld gekos deur markmanipulasie en nie die tydige publikasie van gevaartekens nie. Beide Nederland en België het ondersoek ingestel, en Nederland het Fortis met net meer as ‘n halfmiljoen Euro’s beboet.

Toe die Belgiese owerheid se ondersoek na drie jaar afgehandel is en Fortis ‘n boete van 2,5 miljoen Euro’s wou oplê, het die regsreël ingetree dat niemand twee keer vir dieselfde oortreding gestraf kan word nie.

Is die bespiegelinge oor moontlike toekomstige samesmelting bloot akademiese oefeninge?

Daar is immers meer middelpuntsoekende kragte tussen die Vlaminge en Nederlanders as bloot die taalkwessie en oorgrensdialekte. Een van die belangrikste faktore wat in die verlede die verdeling in beton gegiet het, Rooms-Katoliek (België) en Protestants (Nederland) het skynbaar vervaag as na gereelde kerkbywoning gekyk word. Trouens, met die groeiende getalle Moslems in beide lande, lyk dit of daar eersdaags meer aktiewe Islam-beoefenaars as Christene kan wees.

Tog bly kerk- en godsdienskwessies, anders as in Suid-Afrika, deel van die media se hoofstroomnuus. Die Christen-demokratiese partye weerskante van die grens bly groot partye, en handhaaf boonop onderling goeie verhoudinge, al stem almal nie saam dat die “Christen” in die name meer geregverdig is nie.

België hou nou die wêreldrekord van ‘n land wat die langste na ‘n verkiesing gespook het om ‘n nuwe regering te vorm. Die gevolg was dat Vlaandere intussen soos ‘n byna onafhanklike land gefunksioneer het, en die feit dat die nuwe regering in wese Waals-oorheersend is, versterk waarskynlik die Vlaminge se toekomsvisie van ‘n Vlaandere sonder die Waalse blok aan die been. Vlaandere subsidieer immers die Wale, wat dan die luukse aan die dag lë om vir die Sosialiste te stem, met miljarde Euro’s. Daarteenoor het die Vlaminge en ook die Duitssprekende minderheid in die skikking beduidend vordering gemaak vir staatkundige aanpassings wat dié gemeenskappe se posisies verstewig.

Soos die Nederlandse media graag tydens verkiesingstyd aan buitelandse joernaliste sê: “Die Nederlandse politiek is te skisofrenies vir ‘n buitestander om te verstaan.” Maar dan het die Nederlandse media nog nie kennis geneem van hoe moeilik dit vir ‘n buitestander is om die Belgiese politiek te snap nie.

En klits die twee bymekaar om te kyk wat die moontlike toekomstige verloop kan wees, en ‘n verleentheid is die voorspeller se voorland.

Herman Toerien