Subscribe by Email

Ongelooflike oorwinning vir Proteas

“Rather upsetting – we now have a spot of bother, old chap, I say.”
Engeland se wêreldbekerdrome hang aan ‘n dun draadjie na die span, gelaai met oud-Suid-Afrikaners teen Bangladesj vasgeval het, nadat die Iere ook so gemaak het.
Die Proteas se wêreldbeker-krieketplanne is weer goed op koers nadat die Suid-Afrikaners naelskraap met een van die gunstelingspanne, Indië, afgereken het.
Voor die toernooi is baie bespiegel of die senior spelers in die span hul geneigdheid om die rol van “chokers” te speel en onmoontlike druk op die laer orde te laai, afgeskud het. En dié keer is daar nie weer ‘n Lance Klusener, of Albie Morkel of een van die land se befaamde mokermanne om die kastaiings uit die vuur te moker nie.
Indië het soos ‘n sneltrein afgesit, en dit het gelyk of die Suid-Afrikaners ‘n telling van ongeveer 400 sal moet jaag. Maar toe val die paaltjie van die maestro Tendulkar na hy sy honderdtal aangeteken het, en die laaste nege paaltjies tuimel vir 29 lopies. Waar Dale Steyn aanvanklik gelyk het of hy sy kompas kwyt was, het hy in sy laaste skof 5 vir nege laat kantel, en Indië tot 296 beperk. Dit het nieteminh beteken die Proteas moes teen effektief ses lopies per boulbeurt kolf.
Die toporde, Amla, en die senior spelers Smith en Kallis, het almal stadiger as die vereiste tempo gekolf, wat die strawwe taak aan die laer orde gestel het om vuur te maak. AB de Villiers se 52 lopies van 39 balle het die toon aangegee, maar die ander het self die pot bly roer. Uiteindelik het ‘n haastige 23 van net 15 balle deur Johan Botha die Proteas binne trefafstand gebring, terwyl Robin Peterson die wenlopies geslaan het in sy beurt van 18 van net sewe balle.
Dit beteken die Proteas se enigste nederlaag was toe hulle tweede teen Engeland moes kolf en op ‘n haas onspeelbare kolfblad moes raap en skraap aan lopies.
Die oorblywende wedstryde in die liga-gedeelte is teen Bangladesj en Ierland, die twee spanne wat die Engelse aapstert gegee het.
Wie om te kies en wie om weg te laat gaan waarskynlik meer kopsorge as die opponente veroorsaak. Imran Tahir sal stellig sy plek moet herwin, maar ten koste van wie? Die ongelukkige Morné van Wyk sou ‘n voor die hand liggende keuse wees, maar met AB de Villiers wat sy sprankelbeurt met ‘n hardloper moes voltooi, sal dit waarskynlik beteken dat die blonde Blikoor weer stelling agter die paaltjies sal moet inneem.
Omdat die wedstryde teen sogenaamde aspoestertjie-spanne gespeel word, kan die ringkoppe besluit om van die senior spelers ‘n blaaskans te gee. Terwyl Smith en Kallis nog nie die lopietempo teen die gewenste koers handhaaf nie, het hulle dalk kolfoefening nodig, maar die gehalte van die subkontinent se kolfblaaie wissel so baie dat meer kolfoefening in wedstrydsituasies dalk net groter skade sal aanrig. Netoefeninge is waarskynlik ‘n beter opsie. – Herman Toerien