Subscribe by Email

Olimpiese Spele: Sakkerollers en medaljes

‘n Week voor die Olimpiese Spele begin, werk die Britse Bobbies hard aan ‘n plaag – sakkerollers.

Tot 1 700 slagoffers per dag kla dat hulle niksvermoedend onder dié diewe met die lang vingers deurgeloop het, berig die Daily Mail.

Sakkerollers se “wins” beloop tot 4 000 pond per week. Die skelms is veral uit Oos-Europa, en veral Roemenië afkomstig, maar van hul “kollegas” is ook van Suid-Amerika. Hulle werk in groepies saam. Terwyl een die niksvermoedende slagoffer aanwysings vra, stroop sy kollegas sy sakke. Die items word dan op die swart mark in Roemenië verkoop.

Tagtig mense wat die lang vingers inspan is al aangekeer, en daar word ten nouste met die polisie van Roemenië saamgewerk.

Die grootste Nederlandse vakbond FNV Bondgenoten het sy stem gevoeg by die stroom van protes omdat die internasionale mynmaatskappy, Rio Tinto, die metaal verskaf waarmee die Olimpiese Spele in Londen se medaljes vervaardig word.

Protesoptrede het al vroeg vanjaar in verskeie dele van die wêreld begin, veral tydens ‘n arbeidsdispuut by Rio Tinto se alluminiumsmeltery in Kanada. Rio Tinto word nie net van die swak behandeling van sommige van sy werkers beskuldig nie, maar ook dat dit lug en riviere wêreldwyd met sy bedrywighede besoedel.

FNV het nou op die vooraand van die spele gesê die medaljes het ‘n swart randjie weens die swak toestande waaronder baie van Rio Tinto se werkers hul brood moet verdien.

Rio Tinto het sy skenking van die medaljes as deel van ‘n beeldbou-aksie geloods. In sy bemarkingstrategie, bekend as From mine to medals, word ‘n pragtige verhaal van sy nederige begin in die 19de eeu as kopermyn in Spanje. Hierdie myn het eeue gelede metaal aan die Romeinse leër verskaf. Dier maatskappy het wêreldwyd 77 000 mense in diens, en spog dat dit aansienlik tot die ekonomieë bydra van die lande waar dit bedrywig is.

Foto: Die medaljes van die Londense Olimpiese Spele

Herman Toerien