Subscribe by Email

OB ondersoek Pelgrimsrus-tenders

Die Openbare Beskermer het die VF Plus in kennis gestel dat ondersoek ingestel word om vas te stel of die statutêre vereistes nagekom is in die toeken van tenders aan nuwe winkelhuurders van staatseiendomme in Pelgrimsrus. Die VF Plus het die OB in Julie 2012 versoek om ‘n ondersoek in te stel nadat die media berig het dat bestaande winkelhuurders deur die departement van openbare werke 30 dae geleentheid gegee is om die winkels te ontruim en om plek te maak vir die nuwe tenderwenners.

“Daar is egter klagtes dat die bestaande winkelhuurders geen terugvoering oor hulle eie tenderaansoeke sedert November 2011 gekry het nie. Dit blyk ook dat sommige van die huurders gedreig was deur regeringsamptenare dat hulle van die persele verwyder sal word indien die huurders nie die persele teen die einde van Julie ontruim het nie. Volgens berigte word die winkelhuurders geteiken omdat hulle wit is,” het adv. Anton Alberts, VF Plus-parlementêre woordvoerder oor ekonomiese sake, gesê.

“Die VF Plus neem sterk standpunt in teen intimidasie van minderhede en sal sorg dat die departement van openbare werke verantwoording doen vir hulle optrede. In die lig hiervan verwelkom ons die besluit van die OB om toe te gee aan ons versoek om die toeken van die tenders te ondersoek,” het Alberts bygevoeg.