Subscribe by Email

Nuwe opgrawings by Troje

‘n Groep argeoloë onder die leiding van prof. William Aylward van die Universiteit van Wisconsin-Madison ruk volgende jaar op om opgrawings in Troje te doen.

Hierdie span sal egter benewens die tradisionele skroppe en tandebolsels ook uiters moderne toerusting inspan, soos biotegnologiegereedskap.

Troje is deur die antieke Griekse skrywer, Homerus en sy verhaal van die skone Helena, asook die Trojaanse perd, bekend gestel. Daar is lank geglo Troje se bestaan was bloot ‘n mite, maar die Duitse amateur-argeoloog, Heinrich Schliemann was vas oortuig die stad het werklik bestaan.

Hy het in die 1870’s aan die kus van Wes-Turkye begin opgrawings doen, en betreklik gou die ou stad ontdek.

Dit het egter gou geblyk dat Troje reeds in die Bronstydperk bewoon is, en dat die stad verskeie kere verwoes, en weer opgebou is.

Argeoloë het gou vasgestel dat die laag wat Schliemann gemeen het die Troje van Homerus se Iliad was, nie die ware Jacob was nie.

Na raming is sowat ‘n vyfde van die terrein van Troje, vandag ‘n erfenisgebied, reeds ondersoek. Aylward se span het dus heelwat werk wat gedoen kan word, maar hulle wil met die moderne tegnologie ook nuwe data haal uit dele wat reeds ondersoek is. Hulle hoop om uit die ontleding van residu in potte meer te wete te kom oor wat die inwoners geëet het. Hulle hoop om ook deur die genoomstudies van dierlike en menslike reste meer oor die inwoners te wete te kom.

 

 

Herman Toerien