Subscribe by Email

Nuwe lig gewerp op Toetankamen se lewe en dood

Kaïro. – Die tiener-koning Toe-tankamen, een van Egipte se bekendste farao’s, is gebore uit ’n bloedskandelike verhouding, het navorsers eergister gesê, wat verduidelik hoekom hy aan gebreke en genetiese defekte gely het.

Hy was ’n tingerige seun wat ’n misvormde voet en ’n gesplete verhemelte gehad het. Hy is dood aan komplikasies van ’n gebreekte been wat vererger is deur malaria, het die navorsers bevind ná ’n studie wat DNS-toetse op en skanderings van sy 3 300 jaar oue mummie, wat in 1922 in die Vallei van Konings gevind is, ingesluit het.

Bloedskandelike verhoudings was algemeen onder Egiptiese koninklikes, het dr. Zahi ­Hawass, Egipte se hoofargeoloog, gesê.
“’n Koning kon met sy suster en dogter trou, want hy was ’n god…en dit was ’n gewoonte slegs onder die konings en koninginne.”

Toet het in 1333 v.C. op tienjarige ouderdom farao geword en het nege jaar lank geregeer.

Hy is vermoedelik op 19-jarige ouderdom in 1324v.C. dood.

Die navorsers het farao Akhenaten, wat die Egiptiese godsdiens probeer verander het in geloof in een god eerder as talle gode, as Toet se pa geïdentifiseer.

Akhenaten het eers met Nefertiti getrou, maar sy het hom geen seuns gegee nie.

Hy het toe met een van sy susters getrou in ’n poging om ’n seun by haar te verwek.

DNS-toetse het bevestig Toet se ma was ’n suster van sy pa, maar volgens Hawass sal dit nog ’n paar maande duur voordat meer inligting oor die identiteit van Toet se ma bekend gemaak kan word.

Volgens dr. Howard Markel, ’n mediese geskiedkundige aan die Universiteit van Michigan in die VSA, was sommige van Toet se gebreke en siektes waarskynlik te wyte aan sy ouers se bloedskandelike huwelik. Kinders met ouers wat so na aan mekaar verwant is, ly dikwels aan genetiese afwykings, het hy gesê.

Die toetse het bevind Toet het soos sy pa ’n gesplete verhemelte gehad en soos sy oupa, farao Amenhotep III, het hy ’n misvormde voet gehad en aan Kohler se sindroom, wat die bloedvloei na die voetbene belemmer, gely.

In Toet se geval het dit die bene in sy linkervoet vernietig.

Die studie het ook teorieë verwerp dat Toet en lede van sy familie aan seldsame afwykings gely het wat hulle vroulike eienskappe gegee het.

Dié teorieë het ontstaan weens die kunsstyl van daardie tyd wat koninklike mans met prominente borste, verlengde koppe en heupe wat bol staan uitgebeeld het.

“Dis onwaarskynlik dat ­Toetankamen of Akhenaten ’n bisarre liggaamsbou gehad het,” het die navorsers gesê.

– Reuters

BEELD