Subscribe by Email

Nuwe kinderregte wet beskerm 15 jarige moordverdagte

Tlali Tlali, foto M&G

‘n Woordvoerder van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Tlali Tlali, sê die saak van die 15-jarige verdagte in die Eugene Terre’Blanche moord, is waarskynlik die eerste ernstige oortreding wat ingevolge die nuwe Wet op Kinderreg hanteer sal word.

Die wet het op 1 April 2010 in werking getree. Die wet bepaal dat kinders onder 18 wat daarvan aangekla word dat hulle ‘n misdaad gepleeg het, deur die hof vir kinderreg hanteer sal word, in plaas van deur die normale strafregtelike stelsel.

Die nuwe wet maak voorsiening vir ‘n ondersoek na die omstandighede waarin die kind na bewering die misdaad gepleeg het. Tlali sê dit moet in ‘n ander atmosfeer as die hofsaal plaasvind. Hy sê die nuwe wet voldoen aan die vereistes van die Grondwet, die VN se Konvensie oor die Regte van die Kind en die Afrika handves oor die regte en welsyn van ‘n kind.