Subscribe by Email

Nuwe Coega-hawe oortref sy handelsteikens

PORT ELIZABETH – Die vraghouer terminaal by die nuwe diepwater Ngqura-hawe (Coega-hawe) het al sy handelsteikens oortref, en skep reeds bykomende nuwe werkgeleenthede, het senior Transnet bestuurders gister tydens ‘n besoek aan die hawe gesê.

Karl Socikwa, hoof uitvoerende beampte van Transnet hawe terminale en Nosipho Damasane, bestuurshoof, het statistiek bekendgemaak wat die sukses van die operasie in die eerste ses maande van bedryf illustreer.

“Die volume van die vraghouers wat by Ngqura hanteer is sedert handelsbedrywighede in Oktober 2009 ‘n aanvang geneem het, het ons verwagtinge ver oortref,” het Socikwa gesê.

Volgens Damasane was een van die min beperkinge op die hantering van die meer as 50 000 vraghouers so ver die tekort aan personeel om op- en aflaai bedrywighede te hanteer.  Dit word tans aangespreek.

“Ons het oorspronklik beplan dat drie spanne die hyskrane en ander toerusting sou bedryf om die voorspelde verkeer te hanteer.  Die groter vragvolumes noodsaak die indiensneming van meer personeel.  Daar is reeds begin om twee addisionele spanne, bestaande uit 12 werkers elk, op te lei.”

Volgens Damasane is die volgende prestasies so ver bereik:

–  52 688 vraghouers is teen die einde van Februarie hanteer, met die sesmaandelikse syfer (teen einde Maart 2010) wat heelwat hoër sal wees, terwyl die beplanning 50 000 houers was.

–  Die vragvolume het toegeneem van 2 921 vraghouers in Oktober 2009 tot 19 583 in Februarie.

–  ‘n Totaal van 89 vragskepe het reeds vasgemeer, met twee skepe wat dikwels gelyktydig hanteer is op die kaai van 630 meter.

–  146 treinvragte is tot die einde van Februarie hanteer.

–  Meer as 12 000 vragmotors het die hawe in die eerste ses maande besoek.

In die lig van verbeterde vragresultate, is die syfers vir die volgende finansiële jaar aangepas van ‘n voorspelde 100 000 vraghouers na 286 000, met versnelde groei op ‘n jaarlikse basis totdat die hawe se kapasiteit van 418 000 na verwagting in 2014/15 bereik sal word.

Na aanleiding van vrese dat die Ngqura-hawe Port Elizabeth se hawe nadelig sal beïnvloed, het beide Damasane en Socikwa gesê albei hawens sal floreer in die lig van toenemende handelsverkeer noudat die wêreldwye resessie sy greep op ekonomieë begin verloor.

Terwyl die ou hawe steeds vraghouers sal hanteer, word dit hoofsaaklik ‘n hawe vir die motor industrie.  Ngqura sal beide vraghouers en grootmaat uitvoerprodukte hanteer.

Socikwa het samevattend gesê hy voel opgewonde en vol vertroue oor die handelsvooruitsigte.  Die biljoene iwat in die hawe belê is sal gewis oor ‘n aantal jare ‘n goeie beleggingsopbrengs lewer.

Bron:  www.theherald.co.za