Subscribe by Email

Nuuskoommentaar: Aardbewings

‘n Skudding van M 8.6, en kort daarna ‘n naskok in dieselfde omgewing van 8.2 het op letterlik aardskuddende wyse aan die mensdom getoon hoe blootgestel die mens nog aan die natuurkragte op en onder sy planeet is.

Hierdie aardskuddings aan die noordkus van Sumatra het in dieselfde omgewing voorgekom as die skudding van M 9.2 wat in 2004 ‘n reuse tsunami veroorsaak het wat die dood van bykans ‘n kwartmiljoen mense veroorsaak het. Hoewel mense tot in Indië geboue as gevolg van die skudding ontruim het, is nog geen berigte van groot skade ontvang nie.

Die tsunami van M 9 wat verlede jaar soveel dood en verwoesting in Japan veroorsaak het, was die grootste oorsaak dat natuurrampe verlede jaar ‘n rekordvlak van skade op aarde aangerig het. Afgesien van die leeueaandeel van die Japannese aardbewing en tsunami in die totale skade van $380 miljard, het die veel ligter aardbewing wat Christchurch byna verwoes het, ook ‘n groot aandeel gehad. Die vorige rekord – ‘n derde kleiner – was in 2005 toe die orkaan Katrina haar woede oor die VSA laat geld het.

Die USGC gebruik nie die Richerskaal nie, maar die Moment-magnitudeskaal wat meer geskik is om groot aardbewings mee te meet.

Na die 2004-tsunami het navorsers daarop aanspraak gemaak dat hulle vasgestel het wat veroorsaak dat sekere aardbewings tsunami’s, en sommer grotes, veroorsaak, terwyl ander in dieselfde omgewing en van soortgelyke sterkte dit nie doen nie. Die ondersoeke is juis in die omgewing gedoen waar die 2004-ardbewing en die jongstes voorgekom het, en die verklaring wat verskaf is, is dat dit te make het met hoe stewig of solied die seebodem is. Is dit hard, word die see as’t ware hard gewiks en ‘n tsunami word veroorsaak.

Omdat die jongste hoofskudding se episentrum 22,9 km diep was, heelwat dieper as die 16,4 van die naskok, is met die naskok weer ‘n tsunami-skudding uitgereik, al het die sterker skudding slegs ‘n ligte welling veroorsaak. Die lande waarvoor die tsunami-waarskuwing uitgereik is, is Indonesië, Indië, Sri Lanka, Australië, Mianmar, Thailand, Maledive, Maleisië, Mauritius, Réunion, Seychelle, Pakistan, Somalië, Oman, Madagaskar, Iran, die Verenigde Arabiese Emirate, Jemen, Comore, Bangladesj, Tanzanië, Mosambiek, Kenia, Crozet-eilande, Kerguelen-eiland, Suid-Afrika en Singapoer. Die waarskuwing vir die meeste lande, en ook Suid-Afrika, is intussen opgehef.

Tot dusver was vanjaar ‘n veel rustiger jaar vir aardbewings van M 7 of meer as verlede jaar, en veral die jaar daarvoor toe ‘n eietydse rekord van sulke sterk skuddings opgestel is. In 2010 was daar ‘n totaal van 20 aardbewings wêreldwyd van M 7 of meer, waaronder die verwoestende aardbewing van 8 .8 in Chili, en die een van 7 wat dood en verwoesting in Haiti gesaai het. Dit was die hoogste aantal groot aardbewings in ‘n hele aantal jare.

Verlede jaar het 19 aardbewings van M 7 of meer voorgekom waaronder die bielie van Japan van M 9.

Saam met die twee bielies wat pas by Sumatra die aarde geskud het, het vanjaar reeds ses bielies opgelewer.

Op enige gegewe tydstip is daar op die VSA se Geologiese Raad se wêreldkaart vir aardbewings sowat 200 aardbewings vir die voorafgaande week aangeteken. In die VSA self word selfs geringe trillings op die kaart aangebring, terwyl dit elders darem iets onder die lyf moet skud.

Een so ‘n onlangse skudding was by Ohopoho in Namibië, van magnitude 4.8. In die ou dae sou dit seker so ‘n titseltjie meer as 5 op die Richterskaal gewees het.

‘n Interessante aardbewing is die ene wat in Australië onlangs plaasgevind het. Dis nogal ‘n frisserige een vir Doer Onder van M 5,6, waar aardbewings, veral fris aardbewings, so skaars soos hoendertande is.

Suid-Afrikaners wat vir die swerm trillings wat van verlede jaar by Augrabies begin voorkom het wil vlug, en Nieu-Seeland toe wil uitwyk, kan by voorbaat weet hulle gaan weer trek. Hulle kan amper net sowel op die San Andreasfout in Kalifornië gaan woon. Nie dat die res van die VSA so danig stil is nie.

Die veiligste plek as mens aardbewings wil vryspring? Antarktika.

Maar voor daar ‘n eksodus na die yskontinent plaasvind, daar het ook al ‘n grote van M 8.1 in 1998 plaasgevind. Japannese wetenskaplikes het bevind dis van die smeltende ys.

En wat van Bloemfontein? Woon ‘n mens in die noorde van die stad, voel ‘n mens gereeld die trillings van die aardbewings wat in Welkom en omgewing ontstaan. Woon ‘n mens in die suide van die stad, is dit weer Luckhoff se trillings. Dis nog nie bekend wat Luckhoff s’n veroorsaak nie, maar met die bou van die Van der Kloofdam is dit nogtans in die ontwerp verreken. Orania hoef dus nie te sweet nie.

Suid-Afrika is wel vanjaar onregstreeks deur redelike sterk aardbewings “getref” toe aardbewings by Tristan da Cunha aan die een kant van die kontinent, en Marion-eiland aan die ander kant, waar die land weerstasies bedryf, voorgekom het. Die aardbewings word nie meer op die kaart aangedui nie.

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien