Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Wilders, die Reitz-4 en Malema

Drie sake onafhanklik van mekaar, en nie eens in dieselfde land nie, maar met ‘n strook gemeenskaplikheid.

Op dieselfde dag as wat die omstrede Nederlandse politikus, Geert Wilders, onskuldig bevind is oor Moslem-uitsprake, is die vonnisse van die Reitz-vier na appél drasties verminder. Intussen wag die land met opgehoue asem op die uitspraak van die Malema-haatspraakverhoor.

Wilders is onder meer onskuldig bevind omdat hy hom teen die Islam uitgespreek het, en nie teen mense in die besonder nie. Nogtans het die regters gemaan dat hy gevaarlik na-aan die grens gekom het van wat toelaatbaar is en wat nie. Wilders se verhoor het, wat die moderne Nederlandse en Europese situasie betref, eintlik grootliks in ‘n juridiese lugleegte plaasgevind waar die juridiese nog grootliks wat dié kwessie betref, by die Nazi’s se volksmoord teen die Jode, en in ‘n mindere mate, die Turkse volksmoord teenoor die Armeniërs vasgehaak het. Al hoe meer Europese lande maak die ontkenning van volksmoord ‘n misdryf, en pas nie by die veranderde vereistes van die veral Moslem-immigrasie aan nie.

Wat die Reitz-4 betref, hulle het skuldig gepleit op ‘n beginsel van verminderde opset. In wese het die verhoorlanddros dié kwessie emosioneel geïgnoreer, en het hy ook hiervoor onder die tonge van die hersieningsregters, M.H. Rampai en M.B. Molemela deurgeloop.

Die aanloop tot die Reitz-4-verhoor was in die konteks van ‘n veronderstelde gevorderde regstaat ‘n skande. So erg, dat ‘n uitstellanddros ‘n spesiale waarskuwing aan die politici en die media moes rig om nie die uitspraak en skuldigbevinding vooruit te loop nie. Dit is wyd geïgnoreer.

Voorts is die feit dat die studente verskoning gevra het, geheel deur sommige koerantgroepe geïgnoreer. Waarskynlik meer fiksie as feite het die verhoorproses vergesel, sodat ‘n senior redaksielid daarna nog in haar rubriek skryf die skoonmakers was onbewus daarvan dat hulle verfilm is. Dié duimsuig-rubriek is in minstens twee koerante gepubliseer.

Die Wilders-saak gaan nou na die VN gevoer word. Hier verval Wilders se verweer dat dit teen ‘n godsdiens, en nie individue gemik was nie. Op 25 Maart verlede jaar het die VN se Menseregteraad ‘n resolusie aanvaar wat godslastering verbied. Dié resolusie is na bewering juis vanuit die Islam afkomstig, en as reaksie op uitsprake soos dié van Wilders.

Verskillende ideologieë plaas verskillende gewigte aan verskillende regte. Die reg op vrye meningsuitdrukking word as ‘n belangrike vrug van die liberaal-demokratiese staat beskou. Ander ideologieë, soos die Christen-demokrasie, plaas die fokus ietwat meer op kollektiewe regte en ontwikkeling. Die uitbalanseer van regte en die benaderings daartoe voorkom anargie.

Nou wag die land op die uitspraak oor die Malema-haatspraakverhoor. Trouens, baie ander sake oor soortgelyke uitsprake van Malema word skynbaar in ander forums soos die Menseregtekommissie teruggehou in afwagting van die komende uitspraak. Ook hierdie kwessie sal waarskynlik internasionaal gevoer word.

Intussen moet Suid-Afrika – of dan die slaphandregering – nie wonder hoekom sy eie Brics-vennote aldus ‘n berig van Sake 24, verkies om sake met ander Afrika eerder as hul Suid-Afrikaanse vennoot te doen nie. Woorde maak saak.

Herman Toerien

One Response to Nuuskommentaar: Wilders, die Reitz-4 en Malema

  1. Sophia

    Junie 24, 2011 at 12:34 pm

    Op ‘n tegniese punt, die VN resolusie op de verbod op defamasie van godsdiens (as dit dieselfde een is waarna verwys word in die artikel) is hierdie jaar in Maart laat vaar. Instede daarvan is die reg op vryheid van geloof inestel.