Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Werkloosheid

Cosatu se ontkenning dat dit bydra tot die werkloosheidsituasie in die land is pikant, om dit sagkens te stel. Terwyl 4 uit elke tien mense wat veronderstel is om te werk volgens die ekonoom, Mike Schussler, werkloos is, word bo-inflasie-eise aan werkgewers gestel

Volgens die amptelike syfers het werkloosheid in Suid-Afrika in die tweede kwartaal tot 25,7 % gestyg. Dit beteken 174 000 meer mense is nou werkloos as die vorige kwartaal, en amptelik is meer as 4 en ‘n half miljoen mense in die land nou werkloos.

Die vakbonde se groot kommer is die skerp afname van werksgeleenthede in die formele sektor, wat in die bestek van ‘n kwartaal met 21 000 afgeneem het. Wat vakbonde betref, bestaan werksgeleenthede kwalik in die informele sektor omdat dit baie ver staan van die werkersuptopia s van werksekerheid, mediese fondse, huisvestingtoelaes, betaalde vakansies en vele meer.

Om ‘n vergelyking te tref: In die VSA wat onder werkloosheid gebuk gaan, het die werkloosheidskoers in Junie tot 9,2 persent gestyg, aldus vandag se Berliner Umschau. Hul posisie is dus aanmerklik beter as dié van Suid-Afrika.

Suid-Afrika se slegte nuus kom op die vooraand van ‘n nuwe moontlike wêreldekonomiese krisis wanneer die VSA sy skuldplafon bereik, en ‘n skikking oor hoe om dit aan te spreek moontlik nie betyds bereik sal word nie. In dié stadium maak beide pres. Barack Obama en sy hoofsaaklik Republikeinse teenstanders die rug styf, en beskuldig mekaar van onverantwoordelikheid. Wêreldwyd reageer effektebeurse negatief, en die goudprys het rekordvlakke bereik soos beleggers ‘n alternatiewe toevlugsoord soek.

Boonop is die verbruikersvertroue-indeks in Suid-Afrika baie laag, en toets die historiese laagtepunte.

Dit help natuurlik ook nie dat die ANC-jeugliga nasionaliseringspraatjies aanhef, en nie behoorlik deur die ANC tot orde geroep word nie. ‘n Ekonomie floreer nie op weifelende leierskap en agter die hand oorfluistery nie.

Ongeveer al simpatie wat die vakbonde verdien, is dat die bestuur van veral staatsondernemings aan hulself astronomiese salarisverhogings toeken, en dan die hand toehou as dit by die laer vlakke kom. Eskom is ‘n voorbeeld. Vanoggend is byvoorbeeld berig dat die Tshwane-metroraad ‘n salarispakket van tussen R2,1 en R2,7 aan sy stadsbestuurder goedgekeur het. Dit is niks vreemds nie dat ‘n hoogsbesoldigde amptenaar en ‘n laagbesoldigde amptenaar by ‘n gemiddelde munisipaliteit in die orde van 40 tot 1 staan nie. Suid-Afrika se inkomstegaping is volgens verskeie bronne die hoogste meetbare ter wêreld, en dit skep volgens die model van relatiewe deprivasie ‘n klimaat gunstig vir revolusie. Voeg hierby die groot werkloosheidskoers, en onrus sal bly prut.

Tradisioneel is dit nie vreemd dat die top-mense in die privaat sektor hoë inkomstes gegun word, en selfs belastingverligting daarvoor kry nie, want dit stimuleer entrepreneurskap en die skep van nog werksgeleenthede.

Uiteindelik handel dit egter oor werkloses. Vir ‘n werklose, tensy hy die kort rukkie werkloosheidsversekering kry, beteken selfs ‘n 1 000 % verhoging niks omdat hy steeds niks verdien nie. Baie kategorieë pensioentrekkers se posisie word jaarliks hagliker, al word sommiges se pensioen jaarliks effens aangepas. Brandstof en elektrisiteitsverhogings merkbaar hoër as die inflasiekoers is vir hulle katastrofies, en hulle boer agteruit – al het hulle ‘n leeftyd gewerk en verantwoordelik vir die ou dag voorsiening gemaak. Dit het ‘n rimpeleffek op verbruikersbesteding, en al hoe meer kerke trek noustrop.

Cosatu moet sy woorde beter kies en na die geheelprentjie kyk. Die regering moet dit wat onder sy beheer is, tot orde roep.

En dan is daar nog die rasgebaseerde effek van regstellende aksie.

Herman Toerien

One Response to Nuuskommentaar: Werkloosheid

  1. kayleigh venter

    Mei 12, 2014 at 12:32 pm

    hi ek is in gr 10 en ek moes ‘n taak oor werkloos heid doen en jou berig het my vreeslik baie gehelp ek wil net baie dankie se 🙂