Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Wêreldpersvryheidsdag: Wie bedreig SA se vryheid die meeste?

verslaggewers sonder grense

verslaggewers sonder grense

Gister was Wêreldpersvryheidsdag. Die organisasie, Verslaggewers sonder Grense het verskeie projekte geloods, onder meer ‘n betoging in Parys teen die Siriese bewind se onderdrukking van mediavryheid. Dié instansie het voorts ‘n lys bekend gestel van die grootste roofdiere op persvryheid, waarvan sewe op die Afrika-kontinent is. Twee hiervan is aan die Suid-Afrikaanse grens – Robert Mugabe en koning Mswati III van Swaziland.
Suid-Afrika is al etlike jare lank nie meer die mees persvrye land in Afrika nie, en het verlede jaar met 5 plekke tot die 38ste plek op die persvryheidsindeks teruggesak. Nog ‘n buurland, Namibië, beklee die 21ste posisie wat hy met Kanada deel, en is net een posisie laer as die VSA . Ander Afrikalande wat Suid-Afrika klop is Ghana, die Kaap Verde en Mali. Benin wat lank ‘n beter posisie as Suid-Afrika beklee het, is nou in die 70ste plek.
Boonop het Freedom House Suid-Afrika verlede jaar tot slegs gedeeltelik mediavryland geherklassifiseer.
Met die afgradering van Suid-Afrika verlede jaar het Verslaggewers veral drie redes uitgesonder: Die beplande wet op toegang tot inligting, dreigemente van ‘n mediatribunaal, en Julius Malema se gedrag teenoor ‘n BBC-joernalis wat hy by ‘n mediakonferensie uitgejaag en ‘n “bastard” genoem het.
‘n Land se posisie op die persvryheidsindeks het immers ‘n regstreekse invloed op ‘n land se posisie op die korrupsiepersepsie-indeks, en dit weer op die beleggersvertroue-indeks. Met Suid-Afrika se werkloosheidskoers is daar dus ‘n lang vinger te wys na die mate waarin Malema se roekelose bekpraatjies die land benadeel.
Dit plaas dan ook sommer die volgende saak op die tafel: Word pers- en mediavryheid eers vry wanneer dit absoluut bandeloos is?
Die kort antwoord is “nee.” Om dit te demonstreer – verlede jaar het Nederland van die sewende plek op die persvryheidsindeks na die gesamentlike eerste plek verbeter. Tog, gister, met die herdenking van Wêreldpresvryheidsdag het ‘n juris van die Rijksuniversiteit van Groningen in ‘n lesing daarop gewys dat die Nederlandse Wet Openbaarheid van Bestuur dikwels joernaliste laat tou opgooi om spesifieke inligting te bekom. Anders as die beoogde wet in Suid-Afrika verhinder die Nederlandse wet nie die openbaarmaking nie, burokrasie versmoor gewoon die tydsraamwerk, en in die media is ou nuus geskiedenis, nie meer nuus nie. Boonop is Nederland verlede jaar geruk deur ‘n hofsaak waarin die veiligheidsdiens ‘n koerant en joernalis wat oor die besoek van die Dalai Lama berig het, se kommunikasie afgeluister het. Die owerheid het die kous oor die kop gekry. Die slotsom is dat persvryheid soos alle ander menseregte ‘n grens het waar dit die regte van ander ontmoet. Dit is dus reg as die media hom vasloop waar dit laster, lieg of haatspraak aanblaas.
Terwyl dit verstaanbaar is dat Suid-Afrika nie met volle oorgawe persvryheid gedenk het nie – en die Redakteursforum eintlik ‘n baie bedrukkende verklaring uitgereik het, verdien die 18 joernaliste en twee media-medewerkers wat vanjaar reeds in die uitvoering van hul werk gesterf het, groter erkenning. Bykans 300 joernaliste en internetnuusverskaffers het hulle reeds vanjaar agter tralies bevind.
Dat die Suid-Afrikaanse media ‘n tipe selfopgelegde vryheidssnoer, bekend as politieke korrektheid, aantrek is nie nuut nie. Enkele jare gelede het Tim du Plessis, toe nog redakteur van Rapport, geskryf oor die skielike verbreking hiervan en dat die uittog uit hierdie selfopgelegde snoering deur veral swart redakteurs gelei is. Wit redakteurs het gevolg, met die gevolg dat die ANC skielik aan dieselfde soort mediakritiek blootgestel is as partye in ander lande waar regerings droogmaak. Die ANC het nie goed op die einde van sy wittebroodstydperk gereageer nie.
Kort hierna is pres. Thabo Mbeki egter deur pres. Jacob Zuma vervang, en het van presies dieselfde redakteurs wat Tim as skeibrekers gelys het, hulle in die lysie bevind van redakteurs en ander meningsvormers soos dr. Nico Smith wat veral die wit media met ‘n bloedbad gedreig het sou kritiek op swart mense, of dan die ANC, so voortgaan. Die indruk is geskep dat die tydelike rugkeerdery op politiek-korrekte selfsnoering deel van die veldtog was om Mbeki die trekpas te gee. Gelukkig het baie koerante nie na hul vorige posisie teruggekeer nie.
‘n Mens hoef ook bloot die verskille in mediadekking tussen Suid-Afrikaanse Engelstalige koerante, en sommige Afrikaanse koerante oor die Reitz-vier en die Malema-haatspraakverhoor te ontleed, om te besef dat politieke agendas steeds sommige media se selfopgelegde mediasensuur bepaal. Soms is die aanbieding van feite so uiteenlopend dat dit moeilik is om te aanvaar dat sommiges nie doelbewus kluitjies bak om ‘n politieke agenda te bedryf nie.
Nogtans het die ANC nie net met ‘n mediatribubnaal en ander wetgewing bly dreig nie, en onder meer met ‘n gedagte aan ‘n eie koerant – op die rekening van die belastingbetalers – vorendag gekom.
Stil-stil – vir die meeste Suid-Afrikaners – het Radio Pretoria ‘n lansie vir mediavryheid in die land gebreek, deur suksesvol te veg om die bykans drakoniese politieke voorskrifte van IKOSA grondwetlik te betwis, en die beste daarvan af te kom.
Koerante is egter onder druk. Wêreldwyd is daar ‘n neiging dat die gedrukte media onder kostedruk kom. In Suid-Afrika het die kwotastelsel ‘n bepalende invloed by koerante se vermoë om knap, ervare joernaliste te kan behou. Slegs iemand wat die professionele kwaliteite van ‘n goeie joernalis erg onderskat, sal meen ‘n groot meningsvormingsblad kan suksesvol deur groentjies behartig word. Die spreekwoord lui immers ‘n advokaat se foute word opgehang, ‘n dokter se foute begrawe, maar ‘n joernalis s’n gepubliseer.
‘n Vrye pers is onontbeerlik vir ‘n demokrasie en sy stryd teen korrupsie.
Dit moet gekoester en beskerm word. En hulle wat hul lewe en vryheid opgeoffer het, verdien om nie met ‘n louwarm reaksie beledig te word nie.