Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Weerskante van die mieliegordyn

Dit is reeds byna 21 jaar sedert die laaste apartheidswet uit die wetboek geskrap is. Daar is geen aandklok meer nie, daar is met passe weggedoen, en tuislandgrense word nie meer op landkaarte aangedui nie.

Maar die mieliegordyn staan so onverbiddelik sterk soos wat die Berlynse Muur eens was, en soos die Yster- en Bamboesgordyne waarskynlik nooit kon wees nie.

Dié week het die mieliegordyn deur die mieliedorp, Venstersdorp, geloop. Buite die hofsaal waar die vermoorde AWB-leier, Eugene Terre’Blanche se verdagte moordenaars tereg staan, het die liedjie “Bobbejaan klim die berg” eenkant van die gordyn opgeklink, en aan die ander kant, “Bring my masjiengeweer.”

‘n Week gelede het ‘n storm rondom die DA se studentevleuel, DASO, se omstrede kaalbasplakkaat ontstaan. Verantwoordelike kritici was omsigtig om nie die rassekwessie by te dam nie, maar die skynbare uitbeelding van vrye seks in ‘n land wat onder gebrekkige moraliteit deur Vigs en korrupsie geteister word. Waarskynlik meer as 90 persent van die kritiek van Jan Alleman daarteen is egter teen die raskwessie gemik. Aan smerigheid ontbreek dit nie – van opmerkings oor stank tot DA-ondersteuners wat in hul ergerlikheid tot dieselfde smerige vlak gedaal het en boonop die party se standpunt oor meningsvryheid en verdraagsaamheid ‘n liederlike knou toegedien het.

Die mieliegordyn staan onverbiddelik, en groei geil onder die milde reën van vooroordeel en stereotipering.

Die oes lewer egter nie net kaf en strooi nie. Voorbeelde van volronde pitte is daar daagliks – huishoudings wat hul kosbare kroos vir lang werksdae in die sorg van huishulpe laat, huisvrouens wat skynbaar onverantwoordelik agter die stuurwiel inklim om tydens busstakings hul huishulpe na gevaarlike dele van die stad neem om by die huis te kan kom, ‘n swart regter wat in die appèl van die Reitz-vier die verhoorlanddros se kop was oor wat niks anders as rassebevooroordeeldheid met vonnisoplegging was nie…’n Swart polisieman waag sy lewe deur ‘n boer en sy gesin teen drie plaasaanvallers te beskerm…

Die voorbeelde van die mooi oortref waarskynlik die voorbeelde van die lelike, maar dit is die lelikes wie se pluime in die wind wieg en wat die norm stel.

Dit stel slagordes van polarisasie weerskante van die mieliegordyn op. Aan die een kant appelleer die ANC teen ‘n gelykheidshof-uitspraak oor Julius Malema se sing van “Skiet die Boere” – aan die ander kant word Malema se kop op ‘n skinkbord geëis.

Die mieliegordyn kloof kwessie soos affirmative action, grondhervorming, plaasaanvalle, godsdiens in die politiek, Afrikaanse skole en Afrikaanse universiteitsonderrig; om nie van die persepsies hieroor te praat nie, in die middel deur.

Die mieliegordyn is egter nie altyd ‘n swart en wit verdelingslyn nie. Plek-plek gooi dit esse om danksy Manyi en kie ‘n skynbaar ondeurdringbare skans tussen bruin en swart op te rig, en kort-kort bevind die Asiërgemeenskap hulle ook as’t ware aan die buitekant van die mieliegordyn. Dikwels loop die gordyn dik deur die inkomstekloof, en word skynbaar daagliks meer ondeurdringbaar.

Vyfdekolonners bevind hulle dikwels aan die verkeerde kant van die mieliegordyn, en die enigste verbindingslyne is so broos soos die reënboog wat daaroor span – mooi, maar nutteloos as brug. Op haas elke terrein van politieke sosialisering word die mieliegordyn gevoed – bedoeld of onbedoeld. Politieke sosioloë beskryf die proses goed waar polities-relevante gebeure daagliks die houdingsveranderinge rig. Dit bepaal die karakter van die Zeitgeist – hoe gepolariseerd gemeenskappe ‘n tydsgewrig beleef.

Dit stel groot eise aan ‘n grondwet wat die aanwesigheid van die polarisasie ignoreer wat in die mieliegordyn broei. Trouens, dan werk die realiteit en die grondwet teen mekaar in, en word die grondwet deel van die probleem eerder as die oplossing.

Deur die krakies met politiek-sosiologiese ingenieurswese toe te smeer word niks aan die wankelmoedigheid van die fondamente gedoen nie.

Die omgekeerde geld egter ook – selfs ‘n grondwet op ongelooflike sterk fondamente gaan niks beteken as die gebou met die kaf van die mieliegordyn opgerig word nie. Sommer ‘n alledaagse stofduiwel verstrooi die kaf.

Elke burger het ‘n troffel in die hand waarmee hy behoorlike geboue kan oprig, waarmee hy brûe uit die vervreemding kan bou – sy stemreg.

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien