Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Weer fiskale wêreldkrisis? Schweinefleisch und Kartoffeln of net Kartoffeln?

Toe die meeste Suid-Afrikaners gisteraand gaan slaap het was daar nog net kommer dat die wêreld weer ‘n fiskale krisis kan beleef. Vanoggend word hulle wakker met die nuus dat daar oornag, ons tyd, chaos op die markte was.

Net na tien gisteraand het News 24 berig dat Wall Street aan die bloei geraak het, en dat die Dow Jones-indeks gemiddeld meer as 500 punte, meer as 4 % getuimel het. Selfs die olieprys het met 6 % getuimel.

Later berig die Christian Science Monitor dat Wall Street sy slegste dag sedert Desember 2008 beleef het toe die wêreldresessie ingelui is. Bykans elke indeks op die wêreldmarkte het waarde prysgegee. Selfs die goudprys, gewoonlik ‘n toevlugsoord, het ‘n duik gemaak soos beleggers Amerikaanse staatsuitgifte as ‘n veiliger belegging opgeraap het. Die prys van platinum en silwer was teen twee-uur vanoggend Suid-Afrikaanse tyd ook veel laer.

Vanoggend lyk sake wat die goud- en platinumpryse betref darem weer bietjie meer respektabel op onderskeidelik $1 653.80 en $1 705 per fyn ons. Die olieprys was nog aan die wipplank ry.

Interessant is die feit dat verloop van die Amerikaanse skuldkrisis nie as rede vir die mark-pandemonium genoem is nie. Gister, vroegoggend Amerikaanse tyd was die oorsaak kommer oor die welstand van die Europese bankstelsel. Hierna was die beleggers bekommerd dat die skerp daling in die waarde van die Japan die uitvoergedrewe Japan in ‘n resessie kan dompel, en teen laatmiddag is die hand in eie boesem gesteek en gewonder of die VSA nie dalk in ‘n resessie gedompel kan word nie. En toe is die vet in die vuur, want as Amerika nies, kry die wêreld verkoue.

Die krisis het ook nie heeltemal uit die lug geval nie. Sedert 22 Junie het die Dow Jones reeds 10 % van sy waarde verloor.

Die groot gevaar nou is dat die paniek self die grootste gevaar kan inhou. Sielkunde maak ‘n groot deel van ekonomiese welstand uit.

Dat die olieprys juis nou as deel van die pakket daal, dui egter op ‘n redelike seker verwagting van resessionêre toestande. Met die naderende noordelike winter, en baie lande wat nog ‘n groot deel van hul krag deur olie opwek, is die daling veelseggend. Dit beteken dat die aankopers verwag dat die aanvraag na olie laag gaan wees juis wanneer gebruik tradisioneel hoog is.

Die daling kan egter ook daarmee verband hou dat die wêreld gewoond begin raak het aan die olieryke Libiese konflik in die besonder, en die Arabiese domino-rewolusie in die algemeen. Met die skynbaar eskalerende Siriese krisis binne die hartland van die wêreld se oliemandjie, kan dié posisie egter oornag dramaties verander.

Dit sal interessant wees om te sien hoe die krisis deur die dag ontvou – veral hoe die onrustige Europese markte reageer wanneer hulle die beurs-aflosstokkie by Japan en die ander Oosterse markte oorneem, en dan hoe Wall Street gaan reageer wanneer hulle later die aflostokkie moet oorneem.

Een ding is seker, en dit is dat wêreldleiers vandag sal moet praat, en die regte ding sê. Die oë sal veral op Duitsland se Angela Merckel gevestig wees.

Pres. Barack Obama is nou as gesagsfiguur wat die wêreldekonomie in ‘n gesonder wentelbaan kan stuur bykans van alle kredietwaardigheid gestroop. Hy het die Amerikaanse skuldkrisis veral aanvanklik as ‘n kappokhaantjie-politikus probeer manipuleer, eerder as iemand wat aandagtig na die ander kant van die saak geluister het. Sy beeld het gevolglik baie skade gelei toe hy in effek volledig moes kapituleer.

Wat Merckel vandag hoe sê, gaan dus grootliks bepaal of die wêreld Schweinefleisch und Kartoffeln gaan eet, of net Kartoffeln (aartappels). As mens net aartappels kan bekostig.

Herman Toerien