Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Weer- en klimaatsvoorspelling

Vanoggend lui twee opskrifte in Volksblad: “Vloedwater laat spoor van verwoesting” en “Droogte knel N-Kaap boere.” Boonop teister hittegolwe die Wes- en Suid-Kaap, en veldbrande stel reuse eise aan mens en dier.

Dit werp ‘n treurige blik op ‘n stuk onbekookte wetgewing wat darem intussen koue voete gekry het – om die SA Weerdiens in wese die monopolie oor stormwaarskuwings te gee.

Op die weerdiens se webwerf word verduidelik dat die wyse waarop die weervoorspelling verander is, die gevolg is van verbeterde rekenaar-tegnologie.

Veral op die randgebiede bly weervoorspellings maar so onbetroubaar soos …die weer. Tuine verdroog onder byna daaglikse voorspellings van betreklike stewige buie reën wat nie materialiseer nie, of waar veel minder uitsak as wat voorspel is.

Een van die besware een die beoogde wetgewing oor die weerdiens, is dat dit skynbaar van die standpunt uitgaan dat die beste weerkundiges noodwendig by die weerdiens werk, en dus die beste voorspellings kan maak. Dit is egter nie noodwendig so nie – baie mense ontvang as deel van hul opleiding, soos geografie en landbouweerkunde, weerkunde-opleiding, en kan heel gemaklik sinoptiese gegewens vertolk. Die isobare wat op die TV-weervoorspellings vertoon was, het vir baie veel meer vertel as die weervoorspelling self. Bykomende inligting oor die bolugtoestande kon maklik op die internet opgelees word.

Die weerdiens het wel min of meer die beste toegang tot die sinoptiese gegewens omdat dit nie meer vir elke internetgebruiker toeganklik is nie. Die waarnemers wat bietjie kennis het oor die verband tussen die gedrag van Argentynse miere en rysmiere, kon dit ook as waardevolle insette gebruik om ‘n idee te vorm van wat voorlê.

Met klimaatverandering tree meer gevalle van uiterstes na vore, en die oorsake word wetenskaplik gesoek by faktore wat nog nie werklik in weervoorspellings verreken word nie. Twee van die bekendste opkomende velde is die sogenaamde kosmoklimatologie waar sonaktiwiteite met klimaatstoestande verband hou en deur die gebruik van paleoklimatologie die ooreenkomste na byvoorbeeld vorige ystye kan terugvoer.

‘n Tweede is die sogenaamde Agulhaslek – die verskynsel dat minder, of meer water van die warm Agulhasstroom in die koue Benguelastroom beland, en waarvan wetenskaplikes meen, die impak tot in Wes-Europa gevoel kan word. Dit veroorsaak byvoorbeeld dat Europa nie reeds kouer word wanneer ‘n nuwe ystydperk aanbreek nie. Die siklus hiervan word met die aarde se oriëntasie op sy rotasieas in verband gebring waarvan die intervalle se siklusse sowat 40 000 jaar is.

Hoewel die bevindings opwindende resultate oplewer, is dit in die toe-passingsin nog in die kinderskoene.

Intussen bly die weer so veranderlik soos …wel, die weer.

Met die aarde se bevolking wat reeds die 7-miljardkerk verbygesteek het, raak akkurate weervoorspellings en klimaatprojeksies juis belangriker soos wat die onstabiliteit daarvan minstens deels weens menslike aktiwiteite toeneem.

Wetenskaplikes sit intussen ook op ander terreine nie met hul hande gevou nie. Daar word deurgaans navorsing gedoen om meer droogtebestande variëteite te ontwikkel, en oeste in marginale gebiede is nou algemeen. Verbeterde verbouingsmetodes word ontwikkel.

Betroubare weervoorspellings het vir baie aspekte van die lewe bykans ononderhandelbaar geword. Wanneer ‘n besoekende krieketspan se reisplan opgestel word, sal dit dom en dalk baie duur wees om nie die beste kundige oog oor die mediumtermyn-weervoorspelling te werp nie. Beplanning daarsonder kan daartoe lei dat ‘n aantal wedstryde onnodig uitreën.

Mense se vakansieplanne kan in ‘n tragedie ontaard as vloede en oorstromings nie taamlik akkuraat voorspel word nie.

‘n Land wat sy vermoë om die akkuraatste moontlike weervoorspelling te kan doen afskeep, kan ‘n baie honger land word. Om El Nino en sy impak verkeerd te interpreteer kan veroorsaak dat boere minder droogtebestande gewasse plant as wat nodig sou wees.

In hierdie stadium behoort die land se fokus te wees op die maksimale ontwikkeling van databasisse en interpretasievermoëns, eerder as om die ‘n deel van die kundigheid in effek van ander kundiges te isoleer.

Die land gaan slegs met die beste kollektiewe poging daardeur kom.

Die land word gereeld weens weer- en klimaatstoestande op die knieë gedwing wanneer bidure vir reën gehou word, en soms word selfs onthou om dankdienste te hou wanneer die gawe van Bo neergesak het.

‘n Bietjie meer as ‘n jaar gelede het Beaufort-Wes ‘n waterkrisis beleef, en verbygaande motoriste het kanne drinkwater op die dorp afgelaai wat gewoonlik eerder verwens word omdat dit nie ‘n verbypad het nie.

Gereeld word gehoor van boere in een deel van die land wat wavragte voer na ander dele van die land neem om boere in nood uit te help. Anderdag is die skoen aan die ander voet.

Net so is daar verhale van skenkings wanneer vloedwater toegeslaan het. Die beste sy van mense se medemenslikheid word opgeroep. Soms ook die minder mooie, soos die sersant op ‘n oorstroomde dorp in die Wes-Vrystaat wat jare gelede met die enigste boot eers sy eie varke na veiligheid geneem het voor hy mense wat op hul huise se dakke vasgekeer was, te hulp gesnel het.

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien