Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Wag voor die mond en plaasaanvalle

Nou weet Suid-Afrikaners wat almal diep in hul harte reeds geweet het – die lied: “Skiet die Boere” ís haatspraak. Trouens, dit gaan verder – dit kom op aanhitsing tot moord neer.

Heel toevallig is gister berig oor nog drie plaasaanvalle die afgelope paar dae. Hoewel niemand dood is nie, is ‘n vrou van Joubertina deur die kop geskiet, en ‘n egpaar is so erg aangerand en verneder dat lewensverlies kon voorkom. Ook ‘n ader boer is erg aangerand. Die aanvalle het in twee uithoeke van die land voorgekom.

Hoewel gister se uitspraak – ‘n uitstekende stuk regswerk van sowat 80 getikte bladsye, nie regstreeks op die Julius Malema-haatspraakverhoor betrekking het nie, sal die regspanne in hul slotbetoë waarskynlik mildelik uit hierdie uitspraak en presedente put. Daar is verskeie ander klagtes oor dieselfde lied teen Malema aanhangig, onder meer verskeie deur die Afrikanerbond by die SA Menseregtekommissie wat skynbaar vir uitsprake wag voor hulle met hul ondersoek begin.

‘n Kern-belangrike aspek van die waarnemende regter se uitspraak is dat dit irrelevant is wat persoon wat die haatspraak uiter se bedoeling daarmee was, dit is hoe die aanhoorder of slagoffer dit vertolk. Dit is nie ‘n nuwe presedent nie, soos al geblyk het met uitsprake waar iemand aan die pen gery het omdat hy na swart mense verwys het deur die k-woord te gebruik. Of dit kwetsend bedoel is, was irrelevant, die feit dat swart mense daardeur gekwets voel is voldoende. Die woord is nou net as’t ware in die ander mond.

Die Hooggeregshofuitspraak kom twee dae voor die landswye munisipale verkiesing, maar of dit ‘n beduidende impak op die uitslag gaan hê is onseker.

Intussen dui die jongste peiling – dié van Ipsos-Markinor, daarop dat die ANC wel minder as 60 % van die stemme sal trek, met die DA wat ook swakker vaar as met vorige peilings, en waarskynlik nie 20 % sal haal nie.

Cope en die immer-krimpende IVP is die ander partye wat meer as 1 % van die stemme behoort te kry.

Die Vryheidsfront Plus sal waarskynlik nie met die peiling saamstem dat dit slegs 0,2 persent van die geregistreerde kiesersteun, en 0,1 in die algemeen geniet nie, en sal waarskynlik ook in die wyke waar meegeding word beter vaar. Trouens, onder die kleiner partye se steun kan kritiek op Ipsos-Markinor se peiling uitgespreek word, onder meer omdat ‘n alliansie wat nie aan die verkiesing deelneem nie, ook gemeet is. Een van die alliansievennote wat wel regionaal deelneem kan egter heelwat inspirasie uit die peiling put.

‘n Groot gevaar van ‘n peiling van hierdie aard is dat dit kiesers kan ontmoedig om vir die partye van hul eie oortuigings, of dan die naaste aan hul eie oortuigings te stem, en dat sommiges van die stembus kan wegbly, of teen hul eie beginsels in vir ‘n groter party gaan stem. So kan die munisipaliteite in die hande beland van partye wat nie werklik die steun van die bevolking het nie, en wat nie die belange en beginsels van die inwoners verteenwoordig nie. Later, op provinsiale en nasionale vlak kan die burgers vind hulle word regeer deur ‘n toeloop van omstandighede eerder as die produk van demokrasie. Die leemtes in die grondwet waar dit van internasionale reg en die verskansing van minderheidsregte afwyk, word ook tydens verkiesings die meeste aan die kaak gestel en daarna gevoel.

Demokrasie plaas ‘n groot verantwoordelikheid op die kiesers: In ‘n demokrasie kry die inwoners die regering wat hulle verdien, ongelukkig ook dié individue en groepe wat wél reg gestem het maar te min was. En op die regeerders wag net so ‘n groot verantwoordelikheid – hulle moet in algemene belang regeer – nie net die belang van diegene wat vir hulle gestem het nie, want waar ‘n regering in sektorale belang regeer, is dit gewoon ‘n diktatuur van die meerderheid.

Herman Toerien