Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Vryheidsdag: Wie het die vryheid gesteel?

Henry Jeffreys, oud-redakteur van Die Burger en die New Age, sluit sy rubriek oor Vryheidsdag af met die vraag: “Dit is wat ons ongelukkig op Vryheidsdag van hom (pres. Jacob Zuma) en ander gaan hoor – ’n retoriese ophemeling van die demokrasie en hoe die bewese planne om dit stelselmatig af te takel, dit eintlik opbou en verdiep. Enige sotte vir Vryheidsdag?” Die volledige artikel is by http://www.dieburger.com/Rubrieke/HenryJeffreys/Enige-sotte-vir-Vryheidsdag-20120425

Die adjunk-redakteur en rubriekskrywer, Willem Jordaan, sluit hierby aan: “Suid-Afrika se demokrasie is … 18 jaar oud. Maar is ons demokrasie gereed om die storm en drang van puberteit agter te laat? … Die vraag oor die volwassenheid van ons demokrasie het immers ten diepste met die gehalte daarvan te make. Ter sprake is kwessies soos die verantwoordbaarheid van ampsdraers, die lewenskragtigheid van demokratiese instellings, die doeltreffendheid van wigte en teenwigte, politieke en ekonomiese stabiliteit en ’n atmosfeer van verdraagsaamheid. En dit is juis hier waar die huidige ANC-leiers baie het om oor verantwoording te doen. Dit is húlle wat die land stelselmatig laat vasval in die Zumakrasie – ’n verwaterde toepassing van die demokratiese beginsels waarvoor talle gesterf het. Hy lys voorts agt kommerwekkende gevalle. Volledige artikel by

http://www.dieburger.com/Rubrieke/WillemJordan/Bly-SA-n-tiener-met-puisies-20120426

Dié selektiewe aanhalings kan maklik die indruk skep dat die skrywers – en daar is baie ander – nou moeite doen om die silwer rand mis te kyk, en hulle aan die donker wolk blind staar. Dis egter duidelik dat by diegene daar eerder ‘n hartseer is oor iets wat was, en wat nou verslons word. Dié waarnemings is egter nie heeltemal sonder inhoud nie.

Baie onlangs het die “Open Society Foundation” ‘n lywige verslag bekend gemaak en die stelling gemaak dat Suid-Afrika nou minder vry is as twee jaar gelede.

Baie ingewikkelde en subjektiewe norme, soos die regering se verbintenis tot die grondwetlike demokrasie, kan beoordeel word.

Daar is enkele min of meer objektiewe norme waarmee elemente van vryheid met twee jaar gelede kan vergelyk. Twee jaar gelede was Suid-Afrika 33ste op Verslaggewers Sonder Grense se persvryheidsindeks, nou 42ste. Ses Afrikalande vaar beter op hierdie indeks as Suid-Afrika, en baie Suid-Afrikaners sal die kop skud dat Tanzanië een van hulle is. In 2003 het Suid-Afrika die 21ste plek beklee en was die mees persvrye land op die kontinent.

Suid-Afrika beklee nou die 64ste plek op die korrupsiepersepsie-indeks. ‘n Jaar gelede was dit nog tien plekke beter daaraan toe. Volgens die Wêreldbank beroof korrupsie ‘n land van sy toekoms, en sonder toekoms is daar immers geen vryheid nie.

Een en twintig jaar na die laaste apartheidswetgewing geskrap is, is die ANC-regering van mening dat dit nog rassediskriminerende praktyke moet verstewig.

Julius Malema is uiteindelik uit die ANC geskop, maar die ANC het nog nie die appèl teen Malema se skuldigbevinding in die gelykheidshof een haatspraak laat vaar nie. Gevolglik is vlakke van polarisasie hoog, maar erger nog, dit lyk nie of dit die ANC-ringkoppe pla nie, soos blyk uit plek- en straatnaamsveranderings terwyl daar ander opsies beskikbaar is.

Deurlopende aanvalle word op die beginsel van grondwetlike demokrasie geloods en dit klink of die ANC ten gunste is van wat die politieke wetenskaplikes die diktatuur van die meerderheid noem.

Die Afrikanerbond sluit hom hierby aan. Die voorsitter van die AB, mnr. Pieter Vorster druk dit so uit: “ʼn Verdere bydraende faktor tot die steeds verslegtende verhouding tussen die burgerlike gemeenskap en die regering is die enorme skaal en omvang van korrupsie en diefstal uit die staatskas. Nie alleen word gemeenskappe van broodnodige ontwikkelingshulp ontneem nie, maar word die hart van ons demokrasie deur die oënskynlik ongebreidelde misdadigheid en kriminaliteit uitgeruk.” Vorster verkwalik ook die ANC dat dit so afwysend op ‘n versoek vir dialoog gereageer het. Volledige verklaring by:

http://www.koerant.co.za/uncategorized/ab-oor-vryheidsdag-7690

Hierdie Vryheidsdag word gevier te midde van die meeste aanduidings ooit dat die grafskrif eensydig oor die Kemptonparkse Akkoord geskryf is, en met rewolusionêre retoriek vervang word.

Die posisie van die Afrikaner en ander minderheidsgroepe is ‘n tameletjie op sy eie. Die VN deklarasie oor die Regte van Persone wat aan Nasionalistiese of Etniese, of Godsdienstige en Taalminderhede, waarvan Suid-Afrika ‘n mede-ondertekenaar is, vind min of geen neerslag, soos al minder Afrikaanse skole, die aanslag teen Afrikaans as tersiêre onderrigmedium, die posisie van Afrikaans in veral semi-staatsinstllings en groot banke. Die geheel kan immers nie op vryheid aanspraak maak as dele nie vry is nie – en as slegs ‘n deel vryheid kan uitjubel, beteken dit ‘n vorm van onderdrukking van ander.

Vryheid, in welke vorm, is egter selde iets wat vanself aangestap kom.

Om bloot ad hoc te lawaai wanneer kultuurregte bedreig word, soos nou by die Tygerbergse kampus van die US, is helaas nie genoeg nie. Iets meer omvattend soos die aksie van die nuutgestigte Solidariteit Beweging moet volmondig ondersteun word, anders word tot kulturele vryheid geroof.

Om die saak van vryheid onbeskof of potsierlik te dryf, dien ook nie die saak nie. Soos die ou mense gesê het: “Met die hoed (beleefdheid) in die hand kom mens deur die ganse land.” Tensy beleefdheid as swakheid vertolk word, natuurlik, en daar bietjie spierkrag ook is. En dit bied die Solidariteit Beweging. Of soos Pieter Vorster van die AB dit uitgedruk het: “Die burgerlike samelewing het die redelike verwagting dat hulle stemme ook gehoor word. Saam kan ons weer betekenis gee aan Vryheidsdag as ʼn dag waarop ons demokrasie en grondwetlike waardes gevier word.”

Opgestel vir MaroelaMedia
Heran Toerien