Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Vryheidsdag en die oproepe vir dialoog of heronderhandelde skikking

Op die vooraand van Vryheidsdag reik die Afrikanerbond ‘n ope brief aan pres. Jacob Zuma uit om nasionale dialoog te voer. Twee dae tevore het mnr. Willie Spies van Afriforum daarop gewys dat die hofsaak teen Julius Malema deel uitmaak van ‘n poging om ‘n opvolgskikking te bewerkstellig, met die fokus op minderheidsregte.

Daar was ook al verskeie oproepe om ‘n heronderhandelde Kemptonparkse skikking.

Die aksies staan nie in isolasie nie, al is dit nie doelbewus gesinchroniseerd nie. Die land is waarskynlik meer gepolariseerd as wat dit in dekades was, en die tipe taalgebruik van ANC-getuies in die Malema-haatspraakverhoor, veral dié van Malema, kan nie anders nie as vertolk word dat die Kemptonparkse skikking nie meer eerbiedig word nie.

Dit is kwalik meer relevant of iemand gelukkig is of was met die skikking se resultaat.

Die afgelope naweek is Max van der Stoel oorlede, wat twee termyne as minister van Buitelandse Sake in Joop den Uyl se kabinet gedien het. Hy was dus ‘n sleutelfiguur in die Nederlandse anti-apartheidsveldtog, maar het sy laaste aktiewe jare hom toegespits op die bevordering van minderheidsregte.

Minderheidsregte elders, anders as in Suid-Afrika, word nie as regs en verkramp beskou nie.

Om ‘n lidland van die Europese Unie te word, moet die betrokke lande minderheidsregte behoorlik erken. So het die Baske en Kataloniërs in Spanje groter selfbeskikking gekry, en het dit ook elders op ander maniere gemanifesteer. Turkye, wat graag deel van die EU wil word, kry dit egter hotagter, onder meer oor die wyse waarop met minderhede omgegaan word. Geleidelik is daar egter vordering, soos ten opsigte van die Koerde, terwyl ‘n monument van vriendskap naby die grens met Armenië opgerig is.

Die swaartepunt van ou Armenië het voorheen in twee gebiede in Turkye gelê, maar na die eerste wêreldoorlog is die Turks-Armeense bevolking, bykans uitgewis. Turkye ontken nog amptelik die volksmoord, wat onheilspellender word namate die eeuherdenking hiervan nader kom.

Die monument van vriendskap, weliswaar nooit voltooi nie, het ‘n klein bydrae gelewer om verhoudinge tussen Turkye en Armenië te verbeter. Pas egter, het die Turkse premier, Erdogan, opdrag gegee om dit af te breek omdat dit Islamitiese monumente sou oorskadu. Die Armeniërs is Christene.

Daar is maniere om met minderhede om te gaan, en die slegte behandeling van minderhede is nie een nie, al is dit ook net verbale slae wat uitgedeel word.

Die oproepe wat nou gehoor word wat vra dat herbesin moet word oor die koers waarin die land nou gevoer word, is die gematigde stemme. Die radikale “regse” stemme druk dit veel sterker uit, en wissel van deeglik akademiese beredenerings tot hoogs emosionele uitsprake.

Selfs vanuit die geledere van die ANC is al frustrasie met die grondwet uitgespreek, weliswaar om die teenoorgestelde redes.

Heel moontlik het die land nou by die punt gekom waarna dr. Tjaart van der Walt, voormalige president van die RGN reeds in die tagtigerjare verwys het toe hy gesê het dat as ‘n land se inwoners mekaar nie verstaan en vertroue nie, sal selfs die beste grondwet ter wêreld eenvoudig nie werk nie.

‘n Grondwet – selfs ‘n grondwet wat in besonder voorsiening maak vir minderheidsregte – is lank nie al voorvereiste vir ‘n suksesvolle land met ‘n heterogene bevolking nie. Maar dit is ‘n belangrike element – natuurlik op voorwaarde dat die grondwet die werklikhede vierkantig in die oë kyk en aanspreek. ‘n Grondwet wat dit nie doen nie, is deel van die probleem en nie die oplossing nie. Indië, wat sy binnelandse taalgemeenskappe in federale deelstate ondervang, het betreklike rustigheid oor hierdie aspek. D ie buurland, Sri Lanka, het egter ‘n grondwet waar die meerderheid, die Singalese, oorheers, en is die Tamil-opstand militêr onderdruk. Dit begin egter reeds groot nuus word hoe Tamilgroepe in diaspora Tamilgemneenskappe in verskeie lande Mafia-agtig dwing om bydraes te lewer tot die voortgesette stryd. Wil Suid-Afrika regtig, onder die vaandel van ‘n “moderne” en “goeie” liberale grondwet dieselfde paadjie loop? Veral as daar ander opsies soos die Spaanse, Indiese, Nieu-Seelandse en Switserse is wat ook as modern en goed beskou word?

Die situasie roep nou hard daarom dat minstens met oop gemoed besin moet word of die grondwet wél aan die eise van die werklikheid voldoen. As dit nie deel van die agenda is nie, sal geen dialoog of ideaal oor ‘n voortgesette of heronderhandelde skikking sin maak nie. Dan moet steeds, soos die fanatiese ondersteuners van die huidige grondwet gereeld gesê word, hard gewerk word om dit te laat werk. Maar dan moet almal saamwerk, en dit gebeur nog nie.

En iemand sal nie op Vryheidsdag vry voel net omdat vir hom gesê word hy is vry nie. – Herman Toerien

One Response to Nuuskommentaar: Vryheidsdag en die oproepe vir dialoog of heronderhandelde skikking

  1. Wil

    April 27, 2011 at 9:32 pm

    Blanke Afrikaners, die arrogante onderdrukkende Afrikaner(broeder)bond was nooit tot hierdie dag verkies deur Afrikaners nie. Hul ooreenkoms met die vreemde oorheersers is ook nooit deur ons goedgekeur nie. Daaom hoef ons nie te “her” oor hul “wonderwerk” nie. Hul het ons volkeregtelike reg van ‘n eie soewereine land gesteel. En sederdien help maak hul net vir eie gewin die barbaarse wette waarmee ons bloedig onderdruk word en uit ons land geforseer word. Ook het hul ons wagters op Sion’s mure stil gedwing. Vertrou nie hul verraaierswoorde nie. Sorg dat jy by elke geleenheid aandring op ons onafhanklike land totdat daar so ‘n dag breek.