Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Volstruispolitiek

Min waarnemers meen die ANC gaan nie in die komende munisipale verkiesing weer uitstekend vaar nie.
Trouens, met die uitsondering van die Wes-Kaap lyk dit of die land min of meer in die posisie van ‘n de facto-eenpartystaat vasgevang is, waar die mees beduidende opposisiepolitiek in die ANC self afspeel. Tipiese kenmerke is die fel nominasiestryde, wat in effek nou reeds bepaal wie die raadslede gaan wees, en wie nie. Van die ontevredenes wend hulle tot die ontsteltenis van die ANC tot die howe.
Die ANC, by monde van sy sekretaris-generaal, Gwede Mantashe se reaksie hierop is ook kenmerkend van ‘n eenpartybedeling. Sy stellings in die media kom daarop neer dat die howe nie die gesag het om die ANC se grondwet onder verdenking te plaas of te bevraagteken nie. Wat hy versuim om te meld, is dat ingevolge die Suid-Afrikaanse reg die howe se rol in sulke dispute bloot is om te bepaal of die ANC sy eie grondwet reg toegepas het om by die keuse van kandidate uit te kom – mits organisasie se grondwet natuurlik as regsbindende dokument water hou – maar dit is darem nou baie laat in die dag om daardie aspek juridies te toets.
Munisipale verkiesings handel in die eerste plek om dienslewering. Oor die gehalte van dienslewering is daar verskillende persepsies – syfers waarmee die regering verkiesing na verkiesing na vore kom om aan te toon hoeveel mense toegang tot basiese dienste soos skoon drinkwater, riolering en elektrisiteit het, en ‘n teenoorgestelde perspektief soos wat in koerantberigte, briewe en die kuberruim geskep word van geen dienste, en waar dit wel bestaan, dat dit in skokkende swak toestand is, of heeltemal in duie gestort het.
Na ‘n lang periode van volstruispolitiek is uiteindelik erken dat daar ‘n skroef met Johannesburg se rekeningestelsel los is. Sinies word daarop gewys dat een van die persone wat geraak word, die minister van Samewerkende Regering self is. As dit nie die geval was nie, sou ‘n mens bloot kon wonder wanneer die erkenning sou kom dat daar iets is wat reggeruk moes word.
Ironies berig die media nou dat selfs ANC-LP’s die syfers van die departement gogga oor hoe goed met die verskaffing van munisipale dienste landswyd gevorder is.
Verskeie onluste het al oor dienslewering plaasgevind, en verskeie kenners meen dat dit momentum kan kry. Onluste, in plaas van stem vir ander partye se kandidate, dui ook op ‘n onrypheid van gesonde veelpartydemokrasie. Dit word onderstreep deur dreigemente om nie te gaan stem nie.
Pres. Jacob Zuma meen egter nie Suid-Afrika loop gevaar van opstande nie. Dit moet dadelik gestel word dat waarna hy verwys, die soort opstande is wat oor die Arabiese wêreld swiep.
‘n Verdere onheilspellende aspek is dat selfs opposisiekiesers instinktief hulle eers tot ‘n de facto tweepartystelsel wend, en dat ‘n ware demokrasie waar kiesers vir hul eie beginsels kan stem eers moontlik is wanneer die de facto eenpartystelsel gebreek is.
Die probleem is en bly egter dat solank baie kiesers die demokrasie verstaan as iets wat slegs binne die ANC afspeel – in wese dat die terrein daarbuite op verraad neerkom – so lank sal die radikale veranderingsdruk binne die ANC lewend bly. ‘n Opname van TNS het juis aangetoon dat sowat ‘n derde van die kiesers meen die ANC se alliansievennote moet as losstaande entiteite aan die verkiesing deelneem, waarop die ANC-Jeugliga voorspelbaar volstruispolitiek speel deur dié bevinding as opnamebedrog deur opposisiepartye te beskryf.
Die oorhoofse werklikheid is dat werkloosheid en armoede aan die een kant, en ‘n superryk elite aan die ander kant, die ingeboude plofpoteniaal van relatiewe deprivasie saamdra. Koppel dit aan eenpartyperspektiewe en die rol van die kubeberruim waartoe selfs baie armes danksy selfone toegang het, aan absolute standpunte dat daar nie ‘n opstandspotensiaal in Suid-Afrika is nie, en dit is ongeveer so geloofwaardig soos ‘n stelling aan die begin van die jaar dat ‘n groot aardbewing Japan nooit sal tref nie.