Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Volstruispolitiek

Gedagtes wat gereeld geopper word is dat die media gewoon vir Julius Malema moet ignoreer, en dat die media die Kabinetsmediakonferensies moet boikot omdat die woordvoerder, mnr. Jmmy Manyi, in ieder geval met ‘n bek vol tande aangesit kom.

Die twee gevalle kan egter nie vergelyk word nie, en die optrede kan nie identies wees nie.

Wat Manyi betref – dit is reg dat sy mediakonferensies geboikot word tot hy die rol begin vervul waarvoor hy betaal word. Dit beteken nie die publiek sal in die duister hoef te wees nie – die presidensie kan immers steeds mediaverklarings uitreik – behoort dit trouens te doen want nie alle media kan in ieder geval by die nuuskonferensies kom nie, en dit kan via die regering se nuusdiens, Bua News, versprei word.

Nuuskonferensies is weens die samestelling van die moderne media vandag, in ieder geval op die randjie van uitgedien wees. Vir sommige politici is ‘n afwesigheid van nuuskonferensies egter ondenkbaar – dit is ‘n pronk- en vertoongeleentheid, dit is ‘n geleentheid om belangrik te voel, en dis ‘n geleenthgeid om aan die media te wys wie baas is.

Maar die harde werklikheid is dat die media ook reg hanteer moet word. Een van die land se groter partye het enkele jare gelede die verleentheid beleef dat net mooi geen media vir die nuuskonferensie na afloop van sy nasionale kongres opgedaag het nie.

Dit is ook so dat die baie mediadekking wat Julius Malema geniet, die petrol verskaf waarmee hy die land aan die brand praat. Dit is heel waarskynlik ook so dat hy deur die ANC as ‘n tipe stormram gebruik word om die waters te toets. Dit is egter ook so dat sy bekkigheid hom al in die sop laat beland het, en dat Verslaggewers Sonder Grense sy aanval op ‘n BBC-joernalis as een van drie redes lys waarom Suid-Afrika op die persvryheidsindeks geval het.

Dit is ook so dat van die ANC-ringkoppe Malema en Manyi blameer vir die ANC se kreeftegang die afgelope verkiesing.

Dit help dadels dat sommige mense kliphard veg om Suid-Afrika as persvrye land te bestendig, en ander gaan pleeg volstruispolitiek.

Toon eerder hoe ‘n regering se lamlendige optrede teenoor die onverantwoordelike bogsnuiter die land skade berokken. Neem kennis dat hy aanklank by ‘n deel van die jeug vind.

En nog minder: moenie tydig en ontydig die grondwet as ‘n meesterwerk beskryf, maar dan gaan blou moord skree as iemand juis die grondwet se liggame, soos die gelykheidshof, gebruik om die toepassing af te dwing nie.

Almal weet daar is ‘n groter prentjie, en instansies wat die grondwetlike gebreke erken, sal ook nie sommer blindelings daarvan gebruik maak nie.

Herman Toerien