Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Vigsgenesing

Wêreldwyd werk navorsers hard om ‘n kuur vir Vigs te vind.

Die hoof van UNAids, die VN se Vigsprogram, Betrand Audoin, het egter pas in ‘n onderhoud met die BBC ‘n ongemaklike stelling gemaak – dat ‘n middel wat Vigs sal genees nog 25 jaar in die verskiet lê.

Die prentjie is gelukkig nie heeltemal so donker nie. Op die oomblik is daar verskeie middels op die mark wat as MIV-remmers bekend stel, terwyl anti-retrovirale middels vir byvoorbeeld verkragtingslagoffers goud werd is.

‘n Geneesmiddel bly egter uiters belangrik omdat daar statisties vir elke een persoon wat met behandeling met ‘n remmiddel begin, nog twee mense met die virus besmet raak. Veral Afrika word nog baie hard getref.

Binne ‘n omvattende bekampingstrategie maak hoë morele kodes en goeie inligting belangrike onderdele uit. Baie dikwels rysmier ander aspekte van so ‘n strategie weer juis hierdie elemente. So het die regering, veral aanvanklik, die doelpale oor die verspreiding van kondome ‘n paar keer verskuif nadat aangevoer is dat die kondoomstrategie juis immoraliteit in die hand werk, en dat dit die Vigsverspreiding aanhelp, eerder as beperk. Die teenargument is dat die land se morele standaarde in ieder geval so hopeloos is, dat die kondoomstrategie noodsaaklik is.

Vir diegene wat gehoop het dat ‘n geneesmiddel op hande is, of kan wees, en dat dit nou oor die beste bestuur van die gevolge handel tot dit ‘n realiteit word, is Audion se mening ‘n nugter wekroep. Dit gaan byvoorbeeld vir mediese fondse en staatsgesondheidsprogramme baie moeilik wees om die golf uit te ry sonder om die bottel iewers te laat bars nie, veral in lande waar die siekte hand oor hand versprei.

Dit is belangrik dat, wanneer rolmodelle vir die jeug gesoek word, nugter gedink word om die gevolge te voorsien. Indiskresie word nie maar weggestort nie, en immoraliteit is ‘n baie duur vryheid.

Herman Toerien