Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Versoening en ‘n openbare dialoog: Deurstaan die grondwet die toets van die werklikheid?

Versoeningsdag is skaars agter die blad of die stemme word weer gehoor … die behoefte aan ‘n openbare dialoog, selfs ‘n opvolgskikking, om nie eens te praat van optredes wat versoening blatant in die doofpot plaas en polarisasie aanmoedig nie.

Vanoggend se Volksblad berig oor die groot haas waarmee die Vrystaatse pleknamekomitee plekname in die Vrystaat, soos Kroonstad. wil verander. Die klaarblyklike oogmerk is om die ratte in werking te hê wanneer die ANC se eeufees vroeg in die nuwe jaar in Bloemfontein gehou word.

Die vlakke van polarisasie hieroor word waarskynlik ten beste geïlustreer deur die naam van ‘n organisasie wat ‘n petisie teen Kroonstad se naamsverandering geloods het, Gatvol Kroonstad. Polarisasie staan breed oor die kwessie geskryf.

Sondag het die City Press ‘n artikel geskryf deur oud-minister Jay Naidoo gedra wat nou ook in Die Burger geplaas is, waarin Naidoo onder meer meen dis belangrik dat die politici ‘n opknappingskursus kry oor die reis van apartheid na demokrasie.

Naidoo het dit teen kritiek wat nou vanuit die ANC op die grondwet geloods word. Hy noem Ngoako Ramatlhodi, lid van die ANC se uitvoerende komitee, by die naam as iemand wat meen die ANC is deur die toegewings vir die skryf van die grondwet uitverkoop. Dit strem glo veral transformasie.

Naidoo meen hierdie houding is verraad teenoor die integriteit van oud-president Nelson Mandela “en duisende comrades.”

Naidoo bepleit dit dat die grondbeginsels waarop die grondwet geskoei is, afgestof en behoorlik gekoester moet word.

Kritiek op die grondwet kom egter nie net vanuit die ANC nie. Ander rolspelers in die Suid-Afrikaanse politiek beskryf dit al lank as uitverkoop en selfs verraad teenoor onder meer die Afrikaner.

Elke probeerslag van die regering om wetgewing op die wetboek te plaas, asook uitvoerende optredes wat klaarblyklik ongrondwetlik is of teen die gees van die grondwet en die grondwetlike beginsels indruis, is nog ‘n koeël in die geweer van diegene wat meen die grondwet is nie so ‘n wonderlike produk soos wat gereeld voorgehou word nie.

Dis egter nie net politici en mense wat die saak deur ‘n politieke bril betrag, wat meen daar is sake aan die grondwet wat haper nie. Verskeie staatsregkenners het ook al stelle probleme van ‘n tegniese en regstegniese aard uitgelig, waaronder veral die skynbare afwesigheid van meganismes om die beginsels toegepas te kry.

Trouens, daar is selfs ‘n toutrekkery oor die status van die einste grondwetlike beginsels – dws die beginsels waarop by Kemptonpark ooreengekom is. Dié beginsels is in die oorgangsgrondwet opgeneem, maar nie in die finale grondwet nie. Een denkskool meen die beginsels het verval na die beginsels in die grondwet ingeskryf is, ‘n ander skool meen dit dien minstens as gekodifiseerde konvensie. Cosatu het byvoorbeeld pas weer ‘n pleidooi vir die wegdoen van provinsies gelewer, terwyl die grondwetlike beginsels bepaal dat die land drie vlakke van regering sal hê.

Omdat die beginsels die produk was van ‘n onderhandelde skikking na ‘n vredesverdrag gesluit is, is die status daarvan besonder belangrik. Dit dien onder meer as waarborg dat die een groep nie die status van oorwinnaars, en die ander as verloorders verwerf nie.

Word na die aanhef van die grondwet en die grondbeginsels daarvan gekyk, is dit alles afgestem op versoening. Uit die aanhef kom die versugting dat dit wat die gemeenskappe in die verlede uitmekaar gedryf het, genees moet word, en dat die potensiaal van elkeen ontsluit kan word.

Maatreëls is dus ingestel soos dat dorpe en munisipale strukture verskillende name kan hê, maar die ywer waarmee met dorpsname weggedoen word genees beslis nie die wonde van die verlede nie. Die ontsluiting van elkeen se potensiaal word beslis nie bewerkstellig deur die wyse waarop affirmative action toepas word nie, en ‘n vakbond soos Solidariteit het ‘n deurlopende taak om toe te sien dat die regering by die grondwet bly waarvan die ANC ‘n mede-opsteller was.

Sommer vroeg in die grondbeginsels van die grondwet, Hoofstuk 1, word verwys na die ideaal om van Suid-Afrika ‘n nie-rassige land te maak. Op die oomblik appelleer die ANC teen ‘n hofuitspraak wat die sing van die lied, Skiet die Boere, tot haatspraak verklaar. Julius Malema is in sy dissiplinêre verhoor nie skuldig bevind aan opmerkings in toesprake in die teenwoordigheid van pres. Jacob Zuma dat wit mense misdadigers is nie.

Naidoo vervolg: “Die versoeningsgesprekke toe die apartheidsregime met die ANC-alliansie en talle ander partye om die tafel gaan sit het om ’n padkaart vir ’n demokratiese toekoms te skep, was ’n spesiale tydperk. Geswore vyande het deur gesprekvoering die land van die randjie van die afgrond weggekeer en die “reënboognasie” help skep. Toegewings was noodsaaklik. Ons wat daar was, weet dit was geen maklike staptog na vryheid nie. Die winste wat hard beding is, mag nie nou ligtelik afgemaak word nie. Dit is boonop absurd dat een van die partye wat ’n ooreenkoms oor ’n grondwet bereik het, dit na enkele jare afskiet as een van die hoofoorsake van die gebrek aan transformasie.”

(Sy rubriek, in Afrikaans, kan gelees word by:

http://www.dieburger.com/Rubrieke/Gasrubriekskrywers/Die-Grondwet-is-onder-beleg-20111221 )

Onder diegene wat met Versoeningsdag in die media aangehaal is oor die nodigheid van voortgesette gesprek, dialoog en selfs ‘n opvolgskikking, tel prof. André Duvenhage van die Puk, mnr. Dave Steward van die FW de Klerkstigting en dr. Fanie du Toit, uitvoerende hoof van die Instituut vir Geregtigheid en Versoening.

Benewens die skynbaar onversoenbare grondwetlike ideale wat byvoorbeeld by die heethoof-vleuel van die ANC aan die een kant, en diegene op die ander kant van die ideologiese spektrum teenwoordig is, is die vernaamste struikelblok waarskynlik die onwilligheid van baie ideoloë om te erken dat daar wel probleme met die grondwet is, of selfs net te erken dat dit ruimte vir verbetering bied.

Tog, as die grondwet na byna twee dekades steeds ‘n hoogs gepolariseerde samelewing baar, moet noodwendig besin word of die grondwet nie groter sinchronisasie met die Internasionale reg, veral vergeleke met die grondwette van ander lande met heterogene samelewings, sou verg nie.

In ‘n hoogs gepolariseerde samelewing waar die vuur van twee kante aangeblaas word, verg dit dat leiers bo die politiek moet kan uitstyg, met ‘n oop gemoed en behoorlike tegnokratiese insette.

Naïwiteit is ‘n luukse wat waarskynlik nie meer bekostig kan word as van die land ‘n land ooreenkomstig sy grondwetlike beginsels gemaak wil word nie. Indien prof. Susan Booysens korrek aangehaal is dat sy sou sê almal is net klakouse, sou dit ongelukkig wees. Volstruispolitiek gaan die land in die sand laat vasval.

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien