Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Verskille kan bloed laat vloei

Die Indiese finansiële hoofstad, die metropool Mumbai, is gister deur drie bomontploffings geskud – ‘n stad wat sedert 1993 al meer as ‘n halfdosyn kere onder soortgelyke aanvalle deurgeloop het.

In gister se aanvalle wat deur die owerhede as goed ge-orkestreerd beskryf is, is minstens 17 mense dood en meer as 140 beseer.

Die stad het nog die littekens gedra van ‘n aanval in 2008 toe 166 mense dood is. Daardie aanval was die werk van die Pakistans-gebaseerde Islamitiese groep, die Lashkar-e-Taiba.

Hoewel dié organisasie vir die jongste aanvalle verdink word, wil die owerhede nie die vinger reguit daarna wys nie. Bewyse ontbreek nog. Dié organisasie se Islamitiese doelwitte is onder meer ten sterkste met dié van Kasjmir verweef – ‘n Islamitiese gebied op die grens tussen Indië en Pakistan en waarvan beide Pakistan en Indië ‘n deel beheer.

Die twee state, Indië en Pakistan, is die produk van ‘n verdeling van die Indiese subkontinent tussen Hindoes (Indië) en Moslems (Pakistan) met Bangladesj – ook oorwegend Moslem – wat later weer van Pakistan afgeskei het.

Dit is ook nie so eenvoudig as om aan te voer Indië moet sy deel van Kasjmir aan Pakistan oordra nie. Volgens die Indiese grondwet is dié land ‘n etniese federasie, waar die verskillende volke ‘n redelike mate van selfregering het. Anders as Pakistan het die demokrasie goed gevestig, en dit is dus nie vreemd dat baie inwoners van Kasjmir meen hulle geniet meer vryheid en selfregering as deel van Indië, as wat hulle onder Pakistan sou geniet wat gereeld in ‘n militêre diktatuur omskep word nie.

Dié verdeling van die subkontinent het egter nie absolute skeiding gebring nie, en baie mense het heen en weer oor die grens verhuis om in die land wat oorwegend hul godsdiens verteenwoordig, te vestig. Daar is egter steeds miljoene Moslems in Indië woonagtig. Moslems, soos ander minderheidsgodsdienste, geniet ingevolge die Indiese grondwet godsdiensvryheid, en enkele jare gelede is die Indiese krieketspan selfs deur ‘n Moslem aangevoer. Kom dit egter by Kasjmir, bly die kwessie ‘n klip in die skoen. Dit versuur verhoudinge tussen Indië en Pakistan, en die Indiese regering het al dikwels met Islamitiese opstande te kampe gehad.

Dit is nie net Mumbai wat vir terreuraanvalle uitgesonder word nie. In Februarie is nege mense dood toe ‘n bom in Pune in ‘n vol restourant ontplof het. In 2006 het sewe bomme op voorstedelike treine van Mumbai ontplof, en 187 pendelaars het omgekom, en 800 is beseer.

Pakistan het die jongste aanvalle baie gou veroordeel.

Dié aanvalle sal na verwagting bydra tot die persepsie dat Pakistan nie sy eie grondgebied behoorlik kan beheer nie, met allerlei terreurgroepe wat amper openlik daar opereer en opleidingskampe het. Onlangs het dit geblyk dat die Al Kaïda-leier, Osama bin Laden, vlak onder die neus ‘n Pakistanse militêre basis gewoon het. In die land van Sind is die owerhede skynbaar sterk geïnfiltreer deur mense wat die radikale Islam goedgesind is.

Intussen kan mense wat terrorisme bestudeer, weer ‘n teksboekles uit die jongste aanval neem. Die doel van ‘n terroris is nie so seer om te dood en verwond nie, maar om ‘n wêreldgehoor te trek, en dikwels om vrees te saai. Mense moet kennis neem van die saak. Danksy moderne tegnologie is dit presies wat gebeur. Mense neem kennis.

Herman Toerien