Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Verskeie lesse te leer uit keuse vir nuwe IMF-baas

Die hoof van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) bly Frans. Die Franse minister van Finansies, Christine Lagarde, is pas deur die 24 direksielede van die IMF as baas vir die volgende vyf jaar aangewys. Sy sal haar nuwe pos op 5 Julie oorneem. Haar enigste teenstander, Augustine Carstens, president van die Meksikaanse sentrale bank, kon na berig word nie genoeg steun kry om dinge vir Lagarde moeilik te maak nie.

Legarde volg haar landgenoot, Domnique Strauss-Kahn op wat op aanklagte van seksuele teistering in New York aangekla word.

Aspirasies uit die derde wêreld dat iemand buite die tradisionele geledere die leierskap sou oorneem, het lank reeds in die sand uitgeloop. Ook Suid-Afrika se vorige minister van Finansies, Trevor Manuel, het die skrif reeds vroeg aan die muur gesien.

Lagarde gaan inderdaad ‘n taai tameletjie nader tuis erf. Die IMF is weliswaar sekondêr, maar saam met die Europese Unie betrokke by die ekonomiese vlotmaak van die sogenaamde PIGS-lande. Hulle is Portugal ($122 biljoen Ierland ($113 biljoen), Griekeland ($134 biljoen) and Spanje ($600 biljoen).

Veral Griekeland is vir die Europese Unie en die IMF ‘n kopkrapper. Die Europese Unie maak dit duidelik Griekeland sal – ongeag die domino-gevolge – pas is berig die Griekse tragedie laat hom ook op die Johannesburgse effektebeurs geld – net gehelp sal word as die land homself ook help. Dit beteken in wese dat daar nie ruimte vir ‘n bakhandsindroom is nie.

Die IMF help gewoonlik lande om betalingsbalansprobleme te oorbrug terwyl dit probeer om die betrokke land se reserwes nie onaanvaarbaar laag laat daal nie. Terwyl bekostigbaarheid belangrik is, stel die IMF se beleid dit duidelik dat van so ‘n land verwag word om in ruil beleid te moet aanpas en hervormings moet aanbring.

Die gewone Grieke is duidelik nie entoesiasties om die hande uit die moue te steek nie – soos onder meer blyk uit die jongste 48-uur staking. Portugal, Griekeland en Ierland was in Mei vanjaar die IMF se grootste leners. Die grootste “voorkomende leners” in daardie stadium was Meksiko, Pole en Colombia – ‘n duidelike aanduiding dat Meksiko nie die nuwe president behoort op te gelewer het nie.

Die Grieke is lank nie die enigstes nie, en ‘n groot deel van die versugting van ‘n hoof uit ‘n ander wêrelddeel het waarskynlik baie daarmee te make om meer fokus op die bakhand, en minder op die hande uit die moue, te plaas.

Lagarde het in Mei verlede jaar sterk op die voorgrond getree toe dit gelyk het of verwikkelinge op die Asiatiese markte, saam met die Griekse krisis, die Euro sou laat ondergaan. Sy het die leiding geneem na die Duitse Minister van Finansies skielik siek geword het, en deur die nag aan ‘n ‘n triljoen Euro’s- pakket gewerk. Teen die tyd dat die Asiatiese markte geopen het, het die Europese Unie ‘n communiqué uitgereik waarin die besonderhede van die reddingsplan uitgestippel is, en is genoeg vertroue gekweek om ‘n potensiële ramp af te weer.

Lagarde se opgang was eerder as juris in arbeidsreg te danke as die ekonomie. Sy het ook ‘n meestersgraad in Politieke Wetenskap. Haar aanvanklike betrokkenheid by die finansiële wêreld het in 2005 begin toe sy as die Franse Minister van Handel aangestel is en dadelik haar stempel afgedruk het. Vandag twyfel min mense dat sy die regte persoon vir die werk is.

En na Strauss-Kahn se beweerde manewales, kan die wêreldekonomie ook op die oog af nie ‘n soortgelyke aanslag verwag nie – Lagarde is ‘n geheelonthouer, wat lank aan verskeie gedissiplineerde sportkodes deelgeneem het.

Herman Toerien