Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Verkragting van gestremde, padwoede en anomie

Niemand, behalwe die mees versteurde, sal die bendeverkragting van verstandelik-gestremde 17-jarige meisie as iets anders as siek en walglik beskou nie. Om dit boonop op ‘n selfoon video vas te lê oortref selfs die perke van waartoe ‘n siek gees op die oog af in staat is. Tog het dit gebeur.

Volgens maatskaplike werkers net tussen een uit tien en een uit dertig gevalle van verkragting by die SAPD aangemeld. Volgens Interpolsyfers wat pas bekend gemaak is word minder as een persent van die verkragtings by die SAPD aangemeld, terwyl die SAPD nou beraam dat een uit 36 gevalle van verkragting aangemeld word.

Weens die lae vlakke van aanmelding is dit baie moeilik om uit die SAPD-statistieke sinvolle afleidings te maak oor die mate waarin sosiale en stamontworteling tot dié misdaad bydra. Deur die syfers te gebruik kom dit voor of maatskaplike disintegrasie en sosiale alkoholisme soos in die Wes- en Noord-Kaap ‘n groter rol kan speel as die nagevolge van trekarbeid na byvoorbeeld myne (Noordwes en Gauteng), terwyl areas waar nog sterk stamstrukture bestaan soos in Limpopo en KwaZulu-Natal die voorkoms laer is. Juis laasgenoemde syfers kan weer vertolk word as bewys dat die stam-geïnhibeerde vrou minder geneig sal wees om ‘n verkragting by die polisie te gaan aanmeld.

Amptelik was daar in die vorige verslagjaar meer as 66 000 voorvalle van seksuele misdaad in Suid-Afrika. Dit beteken meer as ‘n halfmiljoen tot amper twee miljoen vroue en meisies is in een jaar in die land seksueel aangerand of verkrag, of tot amper 4 000 per 100 000 van die bevolking, en dus byna 8 000 per 100 000 van die vroulike bevolking. Dit is nou as die maatskaplike instellings se syfers gebruik word. Met Interpol se syfers is die aantal verkragtings in die land nader aan 7 miljoen per jaar.

Geen wonder Suid-Afrika word deur Interpol as die verkragtingshoofsetel van die wêreld beskou nie.

Wat dit nog sieker maak is dat baie hiervan binne gesinsverband geskied, en herhalend is. En net om dit nog sieker te maak, is die slagoffers in ‘n bepaalde jaar dikwels tussen enkele maande en ‘n honderd jaar oud. Enkele jare gelede was die gerapporteerde uiterstes van die betrokke jaar ‘n meisie van drie maande en ‘n oumatjie van Qwaqwa van 103 jaar oud.

En weens die hoë voorkoms van MIV-Vigs is verkragting dikwels ‘n doodsvonnis.

Die skuldiges se optredes kan na ‘n wye verskeidenheid sielkundige of sosiologiese probleme herlei word, met sosio-ekonomiese omstandighede wat sterk insette lewer. Waar dit egter met die probleem van padwoede en ander geweldsmisdaad ooreenkom, is dit nodig om ‘n sosiologiese begrip onder die vergrootglas te plaas.

Die begrip dat leiers die verkeerde voorbeeld stel en tot algemene ongehoorsaamheid teenoor die owerheid lei, staan as anomie bekend. Die sosioloë omskryf anomie ook as ’n toestand van wetteloosheid voortspruitend uit ’n gebrek aan maatskaplike norme. Dit tree in weens die verbrokkeling van die maatskaplike bande tussen mense. Dit beskryf ook ’n gevoel van vervreemding voortspruitend uit die gevoel van doelloosheid. Dit dui op ’n gebrek aan etiek of etiese kodes.

Dié saamgeperste beskrywings van anomie is elk ‘n lywige bespreking werd, maar elke leser sal instinktief aanvoel dat dié begrip lewend en wakker in die Suid-Afrikaanse gemeenskap is. Die mees klassieke voorbeeld wat in Suid-Afrika gebruik word is die veelwywer-president wat in effek owerspel as verweer in ‘n verkragtingsaak aanvoer. Byna al die definisies in een.

Onlangs is die miljoenkerf vir die keuse-abortering van babas in Suid-Afrika bereik. Sosioloë, afhangende van hul uitgangspunte, verskil lynreg oor die impak van dié slagting op die morele bindweefsel van ‘n gemeenskap. Dié studies neig om na die filosofies-etiese te swenk, waar groot gewag gemaak word van ‘n algehele indruk dat lewe en moraliteit min werd is, of sielkundig waar sterk op die vrou wat ‘n aborsie ondergaan het se psige gefokus word. Dan word die impak daarvan op die gemeenskap min of meer buite rekening gelaat word. Regressie by individue word dikwels bespreek.

In die VSA word na raming sowat ‘n 1 500 mense jaarliks in padwoedegevalle gedood of beseer. Padwoede word as die uiteinde van die verskynsel van aggressiewe bestuur beskou. Die implikasie is dus dat een van die partye in ‘n padwoedegeval gewoonlik aggressief sou bestuur, soos te kort volgafstande sou handhaaf, deur die verkeer vleg of in die algemeen erg gefrustreerd sou raak met wetsgehoorsame mede-padgebruikers. Sosioloë skryf aggressiewe bestuur aan anomie toe, en in besonder die element van die disintegrasie van gemeenskapswaardes.

Sielkundiges wys op die gevoel van mag en anonimiteit wat die voertuig bied, dieselfde soort vals mag wat ‘n kuberterroris geniet wat lafhartig verskuil agter ‘n skuilnaam sy jaloesie of afwyking deur die uitdeel van vitrioel aan slagoffers uitleef. Deur onskuldige meisies se name op ‘n sletlys te plaas verkry die siek siel ‘n gevoel van mag. Volgens die webwerf www.drivelikeachop.co.za waar padgebruikers die optredes van padvarke aan die groot klok hang, maak die bestuurders van groterige voertuie soos viertrek, luukse sedans en taxies hulle veral skuldig aan dié gedrag.

Op die meganiese vlak; verkeerskenners meen die wisselende snelhede van voertuie dra by tot die probleem.

Wanneer ‘n fietsryer hom op die pad begeef, is hy besonder blootgestel. Weens die koste word strate dikwels smaller gemaak, en is daar in baie strate werklik min ruimte vir twee voertuie wat in verskillende rigtings beweeg, en ‘n fietsryer. Weens agterstande in instandhouding, is dit ook nie vir die fietsryer moontlik om konstant naby die sypaadjie te hou nie – ‘n slaggat kos immers nie net ‘n pap band nie, maar dat die hele wiel gebuig word. Dikwels is daar ook drawwers of ander voetgangers in strate, of op buitestedelike paaie. Kortom, ‘n fietsryer veroorsaak dikwels ‘n onbedoelde obstruksie aan motorverkeer. Maar hy het die reg om daar te wees, maar fietsryers het ook nie die reg om langs mekaar te ry nie.

Diegene wat die slegste van padwoedevoorvalle afkom, is nie noodwendig die oorspronklike slagoffer nie. ‘n Jaar gelede het ‘n fietsryer met sy pepersproei in die motor van die aggressor ingespuit. Of die aggressor oorskat dikwels die onaantasbaarheid wat sy motor aan hom bied, en word bloot deur die slagoffer in ‘n karretjie waarop die aggressor neergesien het, ingejaag, en uiteindelik afgeransel. Dié optrede, al geniet die opgekropte publiek wat oorgefrustreerd met die padboelies is dit ook hoe, se uitkomste is steeds deel van die probleem en nie die oplossing nie.

Die oplossing vereis ‘n holistiese benadering, met as vertrekpunt die sogenaamde zero-verdraagsaamheidsbenadering. Die sosio-ekonomiese omstandighede moet verbeter word, moraliteit moet herstel word, en uiteindelik moet die leiers die voorbeeld stel.

‘n Navolgingswaardige voorbeeld.

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien