Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Verkiesingsvooruitsigte

Met bietjie meer as ‘n maand oor, wonder al hoe meer kiesers hoe die verkiesingsuitslae daaruit gaan sien.

Omdat dit ‘n munisipale verkiesing is, speel plaaslike streekfaktore ‘n groter rol as waar partye se steun geografies oor groter areas, en ook nasionaal, proporsioneel gemeet word.

Baie onlangs is nog voorspel dat die ANC, ten spyte van groot interne probleme en ongelukkigheid oor munisipale dienslewering, steeds uitstekend sou vaar en selfs nog beter as in die verlede sou doen. Dit lyk nou asof hierdie probleme die ANC plek-plek kan pootjie, en opposisiepartye, veral die DA, kyk ambisieus na plekke soos Pretoria en Johannesburg. In verskeie van die versetoptredes oor dienslewering en ongelukkigheid oor kandidate wat die pyp gerook het, dreig kiesers om van die stembus weg te bly, en selfs om vir ander partye as die ANC te stem. Met ‘n beduidende opname wat aandui dat net een uit tien Suid-Afrikaners tevrede is met dienslewering, is dit te verwagte dat kiesers op plaaslike regeringsvlak dit sal weerspieël.

Dit lyk of die ANC veral in die Wes-Kaap deur uitlatings van Jimmy Manyi en die ANC se lomp reaksie daarop geknou kan wees.

Dit lyk of die DA met ‘n besonder sterk lopie gaan kom, heel waarskynlik sy Wes-Kaapse posisie sal konsolideer, en veral in Gauteng dalk enkele deurbrake sal kan maak. Onder die DA se grootste probleme tel waarskynlik dat daar ongelukkigheid is oor ‘n beeld van arrogansie teenoor ander opposisiepartye, en dat sekere aksies om swart stemme te trek, nie goed in meer tradisionele steunbasisse afgaan nie. Die dansende leier word druk bespreek, en die DA se onvermoë om ook deurlopend mediaverklarings in Afrikaans uit te reik, veroorsaak in sekere media wat nie oor vertaalluukses beskik nie, ‘n soort selfopgelegde sensuur.

Dit is bykans ondenkbaar om nie te glo dat Cope deur sy interne twiste heelwat steun gaan inboet nie. Die party het nietemin ‘n belangrike rol gespeel om ‘n persepsie by baie swart kiesers te vestig dat swart wees nie noodwendig ‘n stem vir die ANC beteken nie.

Verskeie faktore werk negatief op die IVP in. Hieronder tel die uitgediende leierskap, maar ook dat die keuse van Jacob Zuma tot president, met die gepaardgaande aanstelling van Zoeloes in senior poste, ‘n grootskaalse drostery weg van die IVP veroorsaak het.

Min mobiliteit word rondom die UDM verwag.

Die ACDP sal waarskynlik steeds effens verder krimp, hoewel dit ‘n bietjie steun sal terugkry wat aan Cope afgestaan is. Die ACDP se onvermoë om behoorlik in Afrikaans te kommunikeer, sal na verwagting veroorsaak dat dié party in veral die Pretoria-omgewing kleiner as die Christen-Demokratiese Party uit die stryd kan tree. Die ACDP het in verskeie streke, waaronder die Vrystaat en Pretoria-omgewing, blykbaar belangstelling verloor om beduidende wit steun te behou.

Die Vryheidsfront Plus voer ‘n gesofistikeerde en verbete veldtog. Die party se grootste probleem is waarskynlik dat dit net soveel aanslae van regs as van links die hoof moet bied. Uit regse geledere speel beduidende groeperings wat nie aan staatsverkiesings wil deelneem nie om nie legitimiteit aan die post-1994-bedeling te gee nie, ‘n groot rol. Die VF + en die CDP is waarskynlik die twee partye wat die grootste invloed, proporsioneel tot hul getalle, van die kuberruim te wagte kan wees. Dit is die noodwendige gevolg van waar kleiner, nispartye, se ondersteuners hulle ruim tot die kuberwêreld wend omdat die groter media hul beperkte ruimte op groter partye toespits – en boonop dikwels eie politieke agendas bedryf.

Wat die wye spektrum kleiner partye, soos dié in die Pan-Afrikanistiese dampkring betref, word ook min mobiliteit verwag, onder meer weens leierskapsversplintering.

Analiste is ook bewus daarvan dat verskeie partye troefkaarte in die mou hou om op geskikte tye te speel – troefkaarte wat ‘n beduidende uitwerking op steun kan hê.

Uiteindelik, onder buitelandse analiste, begin Suid-Afrika die klassieke vergestalting van kieserirrasionalisme aanneem. Namate die presidentskap van Jacob Zuma neerslag vind, vind al hoe meer dit ongelooflik dat die kiesers so iemand as president kon verkies. Die kort en die lank is dat Suid-Afrikaners se kiesers-keusevermoë geknou word.