Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Verkiesing duskant die longdrop

In die politiek is ‘n dag ‘n lang tyd – en tussen vandag en oormôre se landswye munisipale verkiesing lê ‘n dag vol slaggate – letterlik – en heelwat slagysters van die onwelriekende soort voor.
Volgens die jongste skattings / peilings gaan die ANC in die orde van 62 % van die stemme trek, en die DA in die orde van 26 %. Dit beteken, as hierdie syfers betroubaar is, dat die ANC die swakste sal doen wat dit nog sedert dit in 1994 aan verkiesings begin deelneem het gaan vaar, en dat ‘n opposisieparty ook die beste in daardie tyd gaan vaar.
Maar ‘n dag is ‘n baie lang tyd.
Die syfers klop hoegenaamd nie met die skynbare omvang van konserwatiewer waardes in die bevolking nie, soos dit manifesteer in onder meer skerp kerktwiste soos onder meer verwikkelinge rondom Belhar in die NG Kerk en ‘n soortgelyke twiste in die NH Kerk en GKSA. Is dit dalk ‘n geval dat kiesers instinktief voel dat die terugkeer na konserwatiewer waardes soos in bykans die ganse eerste wêreld gebeur ‘n luukse is wat eers bekostig kan word as liberale waardes soos mediavryheid, veelpartydemokrasie en menseregte eers behoorlik ingebed en verskans is? Of is Suid-Afrikaners in hul politieke mode doodgewoon ver agter die res van die wêreld?
Hoe vinnig sake vir ‘n party in ‘n yslike verleentheid kan ontaard is blyk uit toe die ANC nog so gesmaal het oor die oop toilette op die Kaapse Vlakte, toe die Viljoenskroon die potjie onder die bas uitpluk en die ander bed plaas.
Dit is egter nie net die toiletsage wat hierdie verkiesing as’t ware sy eie klankie gee nie. Die Malema-haatspraakverhoor het ‘n duidelike neerslag gehad, en dit het deel van die ANC se aksentuering van die rassepolitiek uitgemaak toe die ANC met dienslewering – dit waaroor dit eintlik moes gaan – in tamatiestraat beland het. Die rassepolitiek het vir die ANC ook ‘n nare wegspring gehad danksy opmerkings van Jimmy Manyi oor bruin mense in die Wes-Kaap en Indiërs in Kwazulu-Natal – en aanvanklike skeibrekery deur Trevor Manuel hieroor.
Een van die mees uitstaande kenmerke van die ANC se verkiesingstrategieë – en die element wat ook oor die langste tydperk volgehou is – is dié van omstrede godsdiensuitsprake. Onder die mees omstrede uitsprake tel:
– Die ANC sal regeer tot die Wederkoms
– Zuma is die gesalfde van die Here
– Zuma moet gevolg word soos die mense Jesus gevolg het
– Zuma het soos Jesus gely
– Jesus is ‘n Kommunis
– Die ANC-, SAKP- en Cosatu-alliansie is die Heilige Drie-eenheid
– ‘n Stem vir die ANC is ‘n vrypas na die hemel
– Om die Vryheidsmanifes met die Bybel te vergelyk
– En minstens drie maal is kiesers met ontevrede voorvadergeeste gedreig sou hulle nie vir die ANC stem nie.
Dié keer het verskeie kerke, waaronder die susterkerke, die APK en die AGS beswaar gemaak. Die VGK het ‘n beroep op hul lidmate gedoen om hieroor nie vir die ANC te stem nie, die NG Kerk het gemaan dat hy ook so sal maak as die ANC nie hiermee staak nie – iets waaraan die ANC hom nie gesteur het nie – en die Christen-Demokratiese Party het verskeie kere gemaan dat die Christen God se werktuig is – God is nie die mens se werktuig nie.
Die DA het ook nie strykdeur die wind in die blaaie gekry nie. Nie almal in sy tradisionele stemkring is ewe gelukkig met hul dansende leier nie, en ook nie haar uitsprake dat die DA ook die Vryheidsmanifes onderskryf nie. Op die oog af klink die pro-Mandela- en Vryheiheidsmanifes-uitsprake na ‘n oorreaksie om swart stemme te werf, na die volgehoue venynige aanvalle op Zuma in die vorige verkiesing swart kiesers terug na die ANC gedryf het – so sterk dat Cope waarskynlik ook steun aan die ANC afgestaan het nog voor daardie party vir die eerste keer stembus toe is.
‘n Tesourieverslag oor die stand van munisipale dienslewering wat geskeduleer was om vlak voor die verkiesing vir die ANC ‘n klop op die skouer te gee, was so verdoemend swak dat dit deur die kabinet vir herverpakking terugverwys is. Die gevolg is dat die kiesers in ‘n sekere sin blind gaan stem oor presies wat aangaan op die gebied waaroor hulle nou moet stem.
Maar daarvoor sorg die slaggate en rou riool wat in strate loop – dit kan hulle sien. Kleinhuisiemure is nie altyd te siene nie.
Eers Donderdag en daarna – anderkant die longdrop, wanneer genoeg stemuitslae bekend sal wees, sal die land weet of die stand van dienslewering die ANC aan die hand gepik het, of die omstrede godsdiensuitsprake en die kerke se reaksie daarop die Christenkiesers enigsins beïnvloed het, en of die Manyi-debakel die ANC bruin steun gekos het. Dit sal ook toon of Zille se liberale passies wat soms aan negrofilisme gegrens het – maw daar waar vir swart mense besluit word hoe hulle moet voel, en dan nog meer as hulle oor hul eie lot gevoel word – die DA veral in die noorde van die land in sy tradisionele kiesersteun steun gaan kos.
Met die dagbladpers en ander groot media wat feitlik volledig die geledere agter die DA en ANC gesluit het – in die sin dat ander partye kwalik gehoor kon word, het van dié partye soos selde die internet en ander elektroniese kommunikasie ingespan. In die groot media is die Vryheidsfront Plus byvoorbeeld skaars bemerk tensy dit oor koalisiepolitiek handel, en dit het met die VF + se eie ideologiese rol in die politieke spektrum niks te make nie. In dié stadium lyk dit nie of elektrniese kommunikasie ‘n soortgelyke impak as Twitter en ander in die Arabiese-domino-rewolusie gespeel het nie.