Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Vandalisme, sabotasie of hoogverraad?

Meer vrae uit Europa oor ontwikkelingshulp

As Cosatu en die ANC-jeugliga voorbeelde soek van wat gebeur as grond sonder kompensasie gevat word, en as nasionalisering plaasvind, hoef hulle nie ver te soek nie. Hulle kan gewoon kyk na hoe Zimbabwe homself in die voet geskiet het.

Tog probeer jeugliga-woordvoerders mekaar met kommunistiese retoriek oortref, en probeer mekaar oorbie met sotlike uitsprake. Nou begin Cosatu saam op die wa klim.

Dat dié soort onverantwoordelike uitsprake al hier en daar begin deurdring het, blyk uit minder as ‘n handjievol ministers wat saam met die ANC-sekretaris-generaal, Gwede Mantashe oor die skadelikheid hiervan waarsku.

So met bravade vervul is die jeugliga dat hulle hierdie rewolusie ook na Botswana wou uitbrei, en natuurlik Swaziland.

Rapport verwys vandag in sy hoofartikel hierna as ekonomiese vandalisme. Dit is miskien ‘n effe eufemistiese woord vir iets wat eintlik niks anders as ekonomiese sabotasie is nie. As gekyk word hoe die Indiese grondwet vertolk word – wat waarskynlik ook in Suid-Afrika nagevolg sal word as ‘n toetssaak ooit in die Grondwethof beland, kan selfs geargumenteer word dat hierdie sotpraatjies op ‘n aantasting van mense se reg op lewe neerkom, en dus eintlik hoogverraad is. In Indië moes die staat, na hulle ‘n saak op gronde van die reg op lewe verloor het, ‘n pad na ‘n afgeleë gemeenskap bou. Die hof het in wese die reg op lewensgehalte met die reg op lewe gelykgestel.

Om die ekonomie te saboteer en sodoende mense hul werk laat verloor en die brood uit hul hande neem, is veel meer as net die ontneming van lewensgehalte.

‘n Regeringshoof wat hieroor verantwoordelikhede ontduik, moet verwag dat hy nie sommer vir nog ‘n termyn sal kan aantree nie.

Hoe hier met geld en die ekonomie gewerk word, het buite die landsgrense ‘n impak. Pas het ‘n Nederlandse ontwikkelingsakademikus, prof. Ton Dietz, die kombers van verskuilde inligting oor wat van Nederlanders se ontwikkelingsgeld in die buiteland getrek word, as “sleg” beskryf.

Hy meld dat dit groot moeite is om vas te stel hoeveel Nederlandse ontwikkelingsgeld argumentsonthalwe na Kenia gevloei het, en om dan agter die kap van die byl te kom oor wat van die geld geword het.

Dietz het in die vaktydskrif vir Nederlandse ontwikkelingshulp, Vice Versa, ‘n manifes geskryf vir inligtingverskaffing, of soos hy dit stel, ‘n kennisbeleid. Dit is nog nie goed ontvang nie.

Ook die Europese Unie is al jare lank nie begerig om ontwikkelingshulp in bodemlose putte te stort nie. Daar word byvoorbeeld sterk onderskei tussen lande wat die EU as voldoende funksionele state beskou, en dié wat nie so beskou word nie. In eersgenoemde geval word die ontwikkelinggeld aan die ontvangerstaat oorgedra wat dit behoorlik deur sy begrotingstelsel kanaliseer. In ander state, soos Zimbabwe, gaan die hulp aan NRO’s.

Met Europa wat nou te midde van ‘n globale fiskale kopsorg nog met sy eie sukkellande, die sg Piigs-lande te kampe het, kan verwag word dat Europeërs minder bereid sal wees om blindelings die hand oop te maak. Die aanvanklike bydraes tot Somalië het dit reeds gevoel, en harde vrae is gevra of die nodige gedoen word om onnodige herhalings te voorkom.

Teen dié agtergrond is onverantwoordelike uitsprake oor die mees fundamentele ekonomiese beginsels nie sommer vandalisme nie, dis sabotasie. Boonop is die uitsprake nie net ekonomiese bog nie, maar ook meer algemene twak, soos Pofpokkel wat nou te vertel het nasionalisering sal die land verenig.

Verenig ja, maar verenig in armoede. En heel pikant klop die klomp mekaar as patriotte op die skouer en keer die mees bedenklike woordevitrioel op hul teenstanders uit.

Herman Toerien