Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Tweepartystelsel se slaggate

Munisipale verkiesing

Munisipale verkiesing

In die aanloop tot volgende week se munisipale verkiesing is die gedagte aan ‘n tweepartybedeling ‘n paar keer genoem – ook in kringe wat van beter behoort te weet.
Die versugting aan ‘n tweepartybedeling is in hooftrekke gebore uit ‘n versugting om op die gouste wyse die ANC se beergreep op die Suid-Afrikaanse politiek te verbreek. Dit beteken dat van baie kiesers verwag word om hul eie beginsels oorboord te gooi, of minstens tydelik op die ys te gaan plaas sodat die een prioriteit – om die land van die ANC se wanbestuur – te bevry. Kiesers word byvoorbeeld versoek om in ‘n kwalik verskuilde foefie hul stemme vir ‘n opposisieparty te leen.
‘n Tweepartybedeling word gewoonlik aan die hand van die Amerikaanse voorbeeld verduidelik – en daarin lê juis die knoop.
In die eerste plek is die VSA nie werklik ‘n tweepartystaat nie, hoewel dit op federale vlak de facto so ontwikkel het. Hoe laer die vlak van demokrasie – uiteindelik by counties, die verkiesing van sheriffs en skoolbeheerliggame – hoe geringer word die rol van die twee groot partye.
‘n Baie groot verskil tussen Suid-Afika en die VSA is dat verkose verteenwoordigers hier bykans altyd aan hul party-koukus gebind word, terwyl dit veel minder die geval in die VSA is. Die Amerikaanse weergawe van veelparty-regering speel hom dus grootliks af in belangegroepe en lobbies. Daar word ook talle koukusse oor partygrense gevorm, wat na spesifieke belange omsien, soos die Armeense koukus, die swart koukus wat in die tyd van Jesse Jackson en Martin Luther King op hul hoogtepunte baie aktief was, en vele meer.
Die drukgroep, die Christian Coalition of America, is ‘n goeie voorbeeld. Dié drukgroep het sy eie beleid wat nie te onderskei is van die beleid van ‘n Christen-demokratiese party elders ter wêreld nie. Hoewel dit 4 miljoen opbetaalde, ingeskrewe lede het, het dit egter nie ‘n enkele verteenwoordiger wat onder dié organisasie se vaandel verkies is nie. Dit steun gewoon die kandidatuur van politici wat sy beginsels en beleid onderskryf. Hoewel dit in die verlede ook in die praktyk gewoonlik kandidate van die Republikeinse Party was, het dié regstreekse steun onlangs eers meer regstreeks geword.
‘n Kandidaat wat pro-aborsie is, ongeag Republikein of Demokraat, kan maar steun uit daardie geledere op sy maag skryf.
Suid-Afrikaners het onlangs ook gesien hoe die opkoms van die drukgroep, die Tea Party, die politiek in die VSA na die Republikeinse Party kon swaai. Gesoute Demokrate in liberale kiesafdelings in die Ooste van die VSA het in die slag gebly voor die aanslag.
Deelstaat op deelstaat het federale wetgewing oor gay huwelike in die slag laat bly.
Daar is ‘n belangrike rede hoekom so ‘n stelsel Suid-Afrika nie oorweeg kan word nie – in elk geval nie voor korrupsie en veral korrupsie onder verkose politici nie behoorlik nek omgedraai is nie. Selfs die VSA moet deurlopend die maatreëls en toesig verskerp maar tog is daar kort-kort berigte oor ten volle betaalde uitstappies op hierdie of daardie maatskappy se koste na ‘n Skotse gholflandgoed, om maar een voorbeeld te noem.
In ‘n diverse land soos Suid-Afrika sou die twee partye ook ideologies wyer van mekaar moet staan as wat die ANC en die DA van mekaar staan, wat beide die Vryheidsmanifes onderskryf. Om hierdie twee partye as enigste kiesopsies te stel sou beteken dat baie kiesers wat sterk oor nis-aangeleenthede soos selfbeskikking of Christenskap of beide voel in effek ontkieser word.
Dit beteken dat demokrasie baie maklik ongesiens in ‘n minderheidsbewind kan ontwikkel, waar ‘n meerderheid ontkieser is. Die wêreldwye – met die uitsondering tot dusver van Suid-Afrika – na konserwatiewer beleidsopsies toon dat partye wat soortgelyke beleidsrigtings aanvaar soos die ANC en die DA, kort voor lank ‘n minderheid kiesers kan verteenwoordig.
‘n Hebridestelsel is wel volop waar ‘n party ‘n sekere drempel van steun, byvoorbeeld 7 %, moet behaal voor dit verteenwoordiging in ‘n parlement of ander wetgewende liggaam kan verkry. So ‘n stelsel, soos in Nieu-Seeland, word weer aangevul met ‘n stelsel van gereserveerde setels vir ‘n minderheid, soos die Maori’s, en ‘n Maori-kongres.
– Herman Toerien