Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Totale aanslag teen die landbou

‘n Boek met ‘n ouderdomsbeperking oor plaasaanvalle, maar wat nie eens by benadering al die plaasaanvalle kon opneem nie, veldbrande wat lewens eis en miljarde rande se skade aanrig, ‘n smeerverslag deur Human Rights Watch wat maklik deur Agri SA vol gate geskiet is, veediefstalle van enorme omvang, politici wat negatiewe uitlatings oor boere maak en sing – en die lekkerbekkige Jan Publiek wat kla oor die prys van ‘n tjoppie op die kole…

Daardie tjoppie het teen ontsaglike koste op die winkelrak beland.

Amptelik, volgens die polisiestatistiek, is Suid-Afrika se moordkoers 34 per 100 000 per jaar, maar volgens die Mediese navorsingsraad is die syfer veel hoër. Volgens Interpol is die moordkoers onder Suid-Afrikaanse boere 300 per 100 000 per jaar. Normaalweg word steenkoolmynwerk in China, waar die ongevallesyfer sowat 130 per 100 000 per jaar is, as die gevaarlikste werk ter wêreld beskryf, maar as Interpol se syfer net naastenby korrek is, het Suid-Afrika se boere die gevaarlikste werk ter wêreld, nog voor die normale ongevalle as gevolg van bedyfsongelukke ingereken is.

Volgens ‘n ondersoek enkele jare gelede loop die boeregesin erg onder moorde tydens plaasaanvalle deur, en die werkersgesinne onder verkragtings.

Volgens die 2002 verloor boere jaarliks in die orde van R500 miljoen weens veediefstal, meer as R200 miljoen weens die diefstal van gereedskap en implemente en amper R500 miljoen weens gewasdiefstal.

Vir ‘n sektor wat vir byna ‘n miljoen mense van werk en huisvesting voorsien, is dit gevoelige verslae, en die miljarde rande skade wat veldbrande en weidingdiefstal jaarliks aanrig, is nie eens ingereken nie.

En dit is juis nou weer brandseisoen, met veral Noordwes en die Vrystaat wat deurloop. Elke jaar word enkele brandstigters gevang, maar die erns van brandstigting word blykbaar nog lank nie deur die wetstoepassingsowerhede besef nie. Voorkomende maatreëls word, volgens ‘n skrywe deur Agri Noordwes bemoeilik deurdat munisipale gebiede en verwaarloosde plase van bemagtigdes, nie aan dieselfde streng regulasies onderwerp word nie. Selfs staatseiendom, soos die verwaarloosde Jim Fouché-oord was volgens Vrystaat landbou die oorsaak dat omliggende boere groot brandskade opgedoen het. Dié gevaar is vooraf herhaaldelik per skrywes onder die aandag van die owerhede gebring, maar is nie eens met ‘n erkenning van ontvangs beloon nie.

Landbou, so lyk dit, word gruwelik deur die institusionele omgewing versaak.

Pas het Agri SA ergerlik op ‘n verslag van Human Rights Watch oor beweerde wantoestande op vrugte- en wynplase in die Wes-Kaap gereageer. Hoewel die Wes-Kaapse boere gereeld in verslae gestriem word, het die landbou elders ook al deurgeloop, soos die berugte aspersie-verslag wat beteken dat aspersies, veral wit aspersies, nou ‘n relatiewe rariteit is, en dat baie seisoenale werkers – ook uit Lesotho, nou geen inkomste het nie. In die Vrystaat het die destydse premier, Winkie Direko, ‘n peperduur ondersoek na beweerde wantoestande op plase laat loods. Mense is van heinde en verre aangery om te kom getuig. Geen verslag het egter die lig gesien nie.

Die Wes-Kaap is skynbaar egter deurlopend die teiken. Dit het uiteindelik daartoe gelei dat Agri Wes-Kaap ‘n gesamentlike veldtog met die destydse ANC-beheerde provinsiale departement van Landbou van stapel gestuur het, en in ses maande talle beweerde gevalle ondersoek het. Twee hiervan het selfs in die howe beland. Daardie sake, asook al die ander, het egter geblyk wolhaarstories te wees. Dit het sogenaamde belanghebbendes uit die Wes-Kaap egter nie verhinder om kort hierna op die nasionale grondberaad hul monde erg oor die beweerde wantoestande in die Wes-Kaap uit te spoel nie.

In elke bedryf, ook in die landbou, is daar vrot appels. Vir die uitvoer-sensitiewe landbou, veral in die Wes-Kaap, is dit gebiedend noodsaaklik om hierdie vrot appels te identifiseer en te isoleer. Die onderskeie bedrywe word deur internasionale invoer-organisasies gemonitor om wantoestande aan die lig te bring.

‘n Vorige minister van Landbou, Lulu Xingwana, het by ‘n Kerkplein-saamtrek haar mond oor die landbou uitgespoel. Die grondslag van haar tirade was ‘n verslag wat toe lank reeds deur die polisie se Onafhanklike Klagtedirektoraat as vals bevind is, en dié feit was toe ook lank reeds aan ANC-parlements- en wetgewerlede bekend gemaak. Die klaagster het ook intussen tot bekering gekom, en die boer wat sy beskuldig het vir die valse aantygings om verskoning gevra.

Dan kom Human Rights Watch met ‘n verslag wat bedenklike navorsingsmetodiek aan die dag gelê het en maak daarop aanspraak dat dit die allerantwoord gekry het, en hang dit aan die groot klok.

In die Wes-Kaap word die bewerings van wantoestande skynbaar aan die lewe gehou deur NRO’s wat spesifiek vir hierdie doel uit die buiteland en deur vakbonde gefinansier word. Dit lyk ongemaklik baie of daar wantoestande moet wees om die voortbestaan, en dus werksgeleenthede, van die NRO’s te verseker.

Die probleem is dat sulke wolhaar-beskuldigings, tesame met die sing van liedjies soos “Maak dood die Boere” nie bevorderlik vir plaasveiligheid is nie.

Mense word vermoor – en dikwels ontsettend grusaam vermoor. Tog haal dit omtrent net die wye nuusspektrum as ‘n babadogtertjie ook vermoor word.

Intussen, so lyk dit, is boere vry buit.

Herman Toerien