Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Toearegs en lesse vir Suid-Afrika

Iemand wat nog nie weet dat diversiteit ‘n kwessie is wat met groot omsigtigheid hanteer moet word nie, is ‘n volstruis wat sy kop in die grond druk.
Die jongste wêreldnuusfokus is die onafhanklike staat, Azawad, wat die Toearegs in die noorde van Mali uitgeroep het, na die bekende stad Timboektoe ook verower is. Maar Mali is nie al land waar die Toearegs vir selfbeskikking of onafhanklikheid, of bloot regverdiger behandeling veg nie.
Maar so eenvoudig is alles ook nie. Die Toearegs is wel Moslems, maar nie Arabiere nie. Hulle maak deel van die Berbergemeenskappe uit wat van antieke tye af Noord-Afrika bewoon. En eintlik is Toeareg nie die naam wat hierdie groep Berbers aan hulself gee nie, al is die naam werklik baie beskrywend. Toeareg is afgelei van ‘n Arabiese uitdrukking wat “deur God verlaat” beteken, en hiervan getuig die Toearegs se geskiedenis getrou, veral sedert die einde van die 19de eeu.
Die Toearegs noem hulself egter die Imohag, wat vry manne beteken. Hul skrif is verwant aan ‘n antieke Libiese skrifsoort.
Hoewel hulle verspreid oor verskeie lande woon, soos Mali, Niger, Libië, Algerië en Burkina Faso, is hul glorieryke geskiedenis veel groter as hul getalle. In totaal word hul getalle selfde op veel meer as ‘n miljoen gestel. Die Franse kon eers teen 1922 min of meer dié groep onder die knie kry, met massaslagtings na weerskante toe.
Hoewel die meeste Toearegs as Moslems beskou word, het hulle meer animistiese gebruike as die Arabiere oorgehou. Hulle is skynbaar ook in ‘n stadium deur die Christendom, wat in Romeinse en Bizantynse tye sterk aan die Middellandse Seekus van Noord-Afrika gevestig was, beïnvloed. Toearegsmede was byvoorbeeld bekend vir die kruise wat hulle gemaak het.
Anders as die Arabiere is die mans se gesigte gewoonlik bedek, en dié van die vroue nie. Vroue geniet veel meer vryhede as in die tradisionele Islam, en die samelewings is trouens op verskeie wyses matriargaal.
Die bitter ironie is dat die Toearegs, wie se selfbeskikkingseise waarskynlik goed in ‘n wêreld daarbuite aangehoor sou word, in Mali operasioneel met die radikale Islamitiese beweging, Ansar Dine, saamgespan het. Ansar Dine gebruik die vlag van die Salafiste, ‘n manifestasie van die Islam wat met onder meer Al Kaïda verbind word. (Lees meer by http://herrie.maroelamedia.co.za/2012/03/28/die-christendom-en-islamokrasie-in-afrika/ ) Met die oorname van Timboektoe is Islamitiese wette ingestel, en vroue word verplig om hul gesigte te bedek. Ansar Dine word ook met die ontvoering van Franse diplomate verbind, ‘n stap waarmee die Toearegs glad nie saamstem nie, maar ter wille van operasionele samespanning kondoneer.
Maar Ansar Dine verwerp die onafhanklikheidsverklaring van die Toearegs – hulle wil die hele Mali verower.
Talle kere het in die geskiedenis het die Toearegs in hul stryde hulle al met die semels gemeng, of hul eie optrede met wreedhede hul eie saak benadeel. Al is hul betrokkenheid by trans-Sahara-slawehandel lankal kortgeknip, maak hul kultuur steeds voorsiening vir ‘n kastestelsel waar sommiges in wese maar steeds slawe is – veral in dele van Niger en in die verre noorde van Nigerië.
Tog is daar bekende filantropiese organisasies in verskeie dele van die wêreld wat die Toearegs se saak goedgesind is – gewoonlik meegevoer deur die romantiek van hierdie woestynmense.
Ook in Niger woed Toearegopstande periodiek al vir dekades, en die jongste hou verband met die ontdekkings van groot minerale rykdomme in tradisionele Toeareggebied, maar waarvan die Toearegs voel hulle word uitgesluit.
Die interessantheid is dat die Toearegs tradisioneel in eie geledere ‘n konfederale regeringsvorm gehad het. Met die herindeling in moderne geografiese state vorm hulle in elkeen van daardie state ‘m minderheid. Teenoor die sowat ‘n miljoen Toearegs wat oor verskeie state versprei is, het Mali ‘n totale bevolking van meer as 14 miljoen, en Niger ‘n bevolking van 16 en ‘n half miljoen. Selfs al gaan woon almal van hierdie eens beroemde volk wat al 500 voor Christus in Griekse geskrifte vermeld is, in ‘n enkele land sou hulle daar slegs ‘n klein minderheid uitmaak. Tensy die Toearegs werklike beduidende erkenning geniet, gaan die verwysing na hulself as “vry manne” leeg bly.
Onder die belangrikste lesse wat die Afrikaner en ander minderhede in Suid-Afrika kan leer, is om nie sommer ligtelik van kulturele en ander regte af te sien nie. Dit is nie so maklik om dit, as minderheid, te herwin nie.
En wanneer die stryd vir die herwinning gevoer word, is geweld nie ‘n opsie nie. Soos die Toearegs, Koerde, Armeniërs en Assiriërs goedgesinde belangegroepe in die buiteland het, ondervind die Afrikaner dit ook al hoe meer, en daardie groepe en afvaardigings uit Suid-Afrika se stemme word in die hoogste raadsale van die wêreld gehoor.
Geen land ter wêreld het die onafhanklikheid van die Toearegs in Mali erken nie. Weens sy verkeerde vriende, al beskou hulle dit as omstandigheidsvriende, het die Toearegs hul saak oneindige skade berokken. Al wat die Toeraregs werklik vermag het, is om ‘n staatsgreep te laat plaasvind, wat juis uitgevoer is met die doel om kragdadiger teen die Toearegs te kan optree. Die Toearegopmars het egter die staatsgreepringkoppe die aftog laat blaas, sanksies is oornag opgehef – en oor enkele maande sal die onafhanklike staat waarskynlik net ‘n herinnering soos Biafra wees.
Opgestel vir MaroelaMedia
Herman Toerien