Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Timmerwerk vandag aan gister se brouwerk

Die Engelse uitdrukking: “Scramble for Africa” het nog ‘n Engelse uitdrukking, “scrambled egg” tot gevolg.
Met die koloniale magte wat soos aasvoëls op Afrika toegesak het is feitlik geen aandag aan die werklikhede op grondvlak geskenk nie. Die grense is dwarsdeur stamme, gelowe en historiese grense getrek, en só ‘n komplekse situasie nagelaat dat die destydse Organisasie vir Afrika-eenheid die koloniale grense as onskendbaar verklaar het – nie oor dit sin gemaak het nie maar die ontrafeling van die gemors net te kompleks sou wees.
Een van die resultate is dat ‘n land wat eintlik in werklikheid nie bestaan nie, Wes-Sahara, ‘n lidland van die Afrika-Unie is, terwyl Marokko wat die gebied beset en geannekseer het, nomineel nie lid is nie.
Oor die jare het daar egter plek-plek veranderings ingetree. Die Walvisbaai-enklawe het deel van Namibië geword, en Eritrea het onafhanklikheid van Ethiopië verwerf. Soedan is in die proses om tussen ‘n Moslem-noorde en ‘n Christen-animistiese suide te verdeel.
Twee huidige konflikte dui egter daarop dat dit lank nie die enigste plekke is waar koloniale grense nie sin maak nie – Libië en die Ivoorkus.
Min mense het voor die huidige konflik uitgebreek het, besef dat Libië etnies so divers is, en histories eers betreklik onlangs ‘n eenheid geword het. Die mense in die ooste, en die mense in die weste, het min wat hulle aan mekaar bind, en met die bewindsoorname van Maummar Ghaddafi meer as veertig jaar gelede, is die res van die land in werklikheid gekoloniseer. Die stryd tussen Ghaddafi se magte en die rebelle neem sterk geografiese eienskappe aan, en die een vind dit moeilik om in die ander se gebied hond-haaraf te maak.
Die Ivoorkus se bevolking is uiters heterogeen, en bestaan boonop uit ‘n horde stamme wat tradisionele migreerders is, met die gevolg dat die bevolking van groot dele na ‘n ruk heel anders uitsien as ‘n ruk tevore. Die land het ‘n meerderheid Moslems, maar word gewoonlik deur Christene regeer wat meer deur die Franse kolonialisme beïnvloed is. Op sy heel simplistiese is die stryd tussen die twee opponerende presidente ‘n stryd tussen Christen en Moslem. Die wenner van die verkiesing, Ouatarra, is ‘n Moslem.
Verskeie Afrikalande het grondwetlike innovasies begin inspan om die middelpuntvliedende kragte wat heterogeniteit teweeg bring, die hoof te bied. Ethiopië, wat eens deur sewe burgeroorloë gelyk geteister is, het ‘n etniese federasie geword waar elke bevolkingsgroep homself grootliks regeer. Nigerië se grondwet bepaal dat Christen- en Moslempresidente mekaar moet afwissel.
Na die relatiewe sukses met magsdeling tussen ‘n president en Eerste Minister wat as skikking na Kenia se verkiesingsknoeiery in werking getree het, oorskat die Afrikaleiers die potensiaal wat so iets het om soortgelyke probleme in Afrika op te los. Zimbabwe is een geval waar dit vir alle praktiese doeleindes misluk het, en die Ivoorkus is ‘n voorbeeld waar dit nie van die grond af kom nie.
Oppervlakkig gesproke is so ‘n uitweg in elk geval die dood in die pot – ‘n president wat ‘n verkiesing verloor, skop eenvoudig vas omdat hy weet dit uiteindelik daartoe sal lei dat hy president word, en die wenner eerste minister. Hy wen dus steeds, al skop hy demokrasie in die tande.
Die groter probleem is dat blote timmerwerk aan die koloniale foute gemaak word, en so ‘n probleem gaan hom herhaal.
Intussen dra hierdie destabliseringsinvloed, saam met faktore soos korrupsie en nepotisme, daartoe by dat die kontinent nie sy ontsaglike potensiaal kan bereik nie. Miljoene mense is ontwrig en is op trek na ‘n beter lewe – suid of noord na Europa. En Europa sit met die eier in die gesig van hul eie brouwerk.