Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Tegnologie vir kommunikasie

kommunikasie

kommunikasie

Elke generasie benut die tegnologie van sy tyd om sy boodskap oor te dra. Is dit ‘n boodskap waaroor die ondersteuners sterk voel, word die voorpunt van tegnologie dikwels aangewend…
Die Amerikaanse gehaltekoerant, die Christian Science Monitor, bekyk in ‘n onlangse artikel die nuutste verwikkelinge oor hoe mense maak wat vir ‘n saak veg om so vinnig en doeltreffend as moontlik hul boodskap oor te dra. En waar beter as die rebelle in Libië, ‘n land wat danksy sy olierykdomme en streng perssensuur oor dekades, maksimaal buit die kassie moes dink?
Die opskrif lui: “Die vervolmaking van revolusie deur Twitter.”
Baie eeue het verloop sedert Cromwell se bewind in Engeland Payne en sy ewe oorlose makkers uit die tronk bevry het, na die ontevrede koning hul ore laat afkap het omdat hulle nie wou hoor nie, en na die koning se smaak te krities was.
In 1775 het die drukkuns so ver gevorder dat pamflette die “in” manier was om gedagtes te versprei.
Sedertdien het tegnologie nog reuse spronge gemaak, maar het die kommunikasiewetenskap self groot spronge gemaak.
Tog, interessant, dat die Britse politici besonder stadig uit die blokke was om by die werklikhede aan te pas. Die Britse politiek word nog grootliks volgens kiesafdelings beslis, en die tradisie was dat die parlementslede, as orators, in hul eie oë die meester-kommunikators sou wees. Daar is dus neergesien op die nuwe ontwikkelinge in die kommunikasiewese, en is by geykte praktyke gehou…tot die destydse jong Margaret Thatcher ‘n nuwe blaadjie omgeslaan het, en gesorg het dat haar Konserwatiewe Party kommunikasiekundiges kontrakteer, en met ‘n moderne kommunikasieveldtog die pad aandurf.
Die gevolg was dat ‘n vars Konserwatiewe Party onder die stoflae uitgekom, en die andersins meer moderne Arbeiders die loef afsteek. Later het die rolle min of meer omgekeer.
Met ‘n voormalige professor in Kommunikasiekunde as partyleier het die Vryheidsfront, en later Vryheidsfront Plus dikwels die toon aangegee om die publiek met mediakommunikasie en ander kommunikasie te bereik. Dié party het die standaard gestel, en partye wat beter wou vaar, moes ‘n trappie beter op hierdie terrein presteer, dikwels deur die hand diep in die sak te steek.
In Libië het die betogers nog nie eens met hul skadukabinet kontak gemaak nie, of hulle het al koppe bymekaar gesit en ‘n webtuiste gebou, en hul boodskap wêreldkundig begin maak. ‘n Wye verskeidenheid instansies moet via e-pos bereik word. Die sosiale media het die verskeidenheid teikengehore nog oneindig vermeerder.
Te midde van al die moderne verwikkelinge, bly die ou Bybelse waarheid nog staan: Moenie die een ding doen en die ander nalaat nie. Elke soort media spreek ‘n ander soort gehoor optimaal aan, en dikwels is die gehore of generasies nie ewe ontvanklik vir ‘n politieke boodskap nie. ‘n Party wat weens politieke korrektheid of ander rede nie ook interkulturele kommunikasie inspan nie, doen dit tot sy eie nadeel. Instinktief word nog gevoel dat die groot dagbladpers nog grootliks die mees geankerde meningsvormers aanspreek. Die TV tref ‘n ander tipe gehoor, en die radio bereik op verskillende tye van die dag verskillende gehore.
Met die vorige sensus tien jaar gelede was die publisiteitsveldtog reeds ver gevorder, dit was al verskeie kere in betrokke ‘n streek se dagbladpers, dit was al verskeie kere oor die plaaslike en streekradiostasies, dit was al etlike kere op TV en is by groot vergaderings geopper, maar toe toesighouers uit die meer opgevoede deel van die bevolking gewerf is, is gevind bykans niemand weet van die komende sensus nie. Eers toe die kondoomstorm – via ‘n wakker koerantjoernalis – losbars, het bykans almal dadelik kennis geneem. Al hoe meer word sepies ingespan om belangrike boodskappe soos verkiesings, belastingseisoene ens na die publiek oor te dra. Dié noodsaak dryf standaard-analiste die mure uit.
Jare gelede het ‘n minister, Blaar Coetzee, gesê vir ‘n politieke party is daar nie so iets soos slegte publisiteit nie, net goeie publisiteit. Die element van waarheid daarin blyk uit die gemengde reaksie op die Julius Malema-haatspraakverhoor. Tog lyk dit of die ANC nou geraak word deur die vrag slegte publisiteit. In die jongste geval het die regering probeer walgooi deur ‘n Tesourie-verslag oor die stand van munisipaliteite na die opstellers terug te verwys vir – soos die regering dit stel – herverpakking, of soos die opposisie dit sal noem, om die boeke te kook.
Omdat die regering die verkiesingsdatum bepaal en die bekendmaking van gunstige verslae daarmee sinchroniseer word om die maksimale gunstige publisiteit te genereer, kan aanvaar word dat dit nou ook die bedoeling was – maar dat die regering deur sy eie funksionarisse aan die neus gelei is oor wat werklik op grondvlak aangaan.
Iemand moet werklik met oogklappe deur die lewe gaan om nie tydens ‘n verkiesingsveldtog iewers by iemand wys te word nie. Dan verdien hulle, by wyse van spreke, dat die koning se laksman sy byl inspan vir die ongewone delikate werkie om ore af te kap.
Eina Payne!