Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Stille uitroepe om hulp en gesinsmoorde

Terwyl die land se oë gerig is op die daaglikse ANC-verwikkelinge wat soos ‘n sepsie oplossingstraag is, met uitstaande hoofrolspelers soos Julius Malema en pres. Jacob Zuma wat ‘n sterk, ondergeskikte rol vertolk, word die nuustoneel gereeld geskud deur moorde binne gesinsverband waarby polisielede dikwels betrokke is. Terwyl die land se aandag deur ‘n voortvlugtige vasgevang was wat as die Modimole-monster gedoop is, was dit nie die enigste gesinstragedie wat hom afgespeel het nie.

Gesinsmoorde, wat dikwels op die dader se selfmoord uitloop, vang die aandag van sielkundiges en sosioloë vas. Die psige van die dader kan dikwels tot die sosio-ekonomiese omgewing en selfs die tyd van die jaar teruggevoer word, en is dikwels voorkombaar.

Baie dikwels het die dader vooraf soveel seine om hulp uitgestuur maar die omdat die persoon se vrese dikwels buitensporig teenoor die werklike aard van die probleme gelyk het, is dit verkeerd hanteer.

Sekere statistiese gegewens dui aan dat daar dikwels vooraf waarskuwingstekens was. Wêreldwyd word 90 % van die gesinsmoorde deur mans gepleeg, en in die meeste gevalle word wettige vuurwapens ingespan.

Sosioloë neem waar dat dit dikwels volg op tye wanneer ekonomiese resessie aanbreek. Sielkundiges neem die aflosstokkie en wys daarop dat die meeste gesinsmoorde oor die feestyd plaasvind wanneer mense alleen is, meer depressief raak en daar meer geldelike druk binne die gesin bestaan.

Sosioloë wys daarop dat sulke tragedies gewoonlik volg op veranderings soos industrialisasie en morele verval. Sielkundiges soek hierna die sneller-oorsake, soos ’n krisis, geld, egskeiding of verlies van werk. Internasionale studies dui daarop dat moorde wat op selfmoord uitloop en gesinsgeweld ‘n piek onder werkloosheid bereik. ‘n Toename is juis in 2009 met die aanbreek van die huidige wêreld-ekonomiese krisis voorspel.

Ekonomiese probleme sneller dikwels depressie en desperaatheid.

Volksblad het verlede jaar, na ‘n aantal gesinstragedies op die Vrystaatse Goudveld, gewys op die invloed van onsekerheid oor die toekoms van die Goudveld, werkloosheid, algehele verval met gevolglike spanning onder inwoners en die toestroming van onwettiges. Dit dra ook by tot die wreedheid van die misdade wat hier gepleeg word. Die rede hiervoor is algehele morele verval in die gemeenskap en drankmisbruik. “Kinders wat wreed by skole baklei soos die twee meisies waaroor Volksblad onlangs berig het is moontlik ’n uitvloeisel uit die toestand van die gemeenskap,” skryf die koerant.

Heelwat is ook al geskryf oor hoekom soveel polisielede by sulke dade betrokke raak. Die probleem is veel komplekser as die blote uitwys van statistiese gegewens soos dat die polisie oor wettige vuurwapens beskik en dat die meeste gesinsmoorde met wettige vuurwapens gepleeg word en dat dit dus te wagte is. In baie gevalle het dit na die tragedie geblyk dat die persoon aan depressie gelei het – gewoonlik weens werksomstandighede soos skynbaar onredelike verplasings, en selfs dat die persoon onder behandeling en medikasie vir depressie was. Vrae word dan ook gevra oor hoekom die persoon se vuurwapen nie teruggeneem is nie.

Dit bring ‘n derde vakdissipline in die spel wat uiteraard swaar moet leun op die sosiologie en sielkunde – die bestuurskundigheid van bestuurders.

Met kaderonplooiing en die verkeerde toepassing van “affirmative action” – regstellende aksie is iets geheel anders – beland mense sonder die nodige ervaring, kundigheid en aanvoeling vir doeltreffende bestuur dikwels in bestuursposte.

‘n Oppervlakkige analoog is ‘n feitlik blinde wat as taxibestuurder aangestel word, en noodwendig op ‘n tragedie gaan afstuur.

Waar ‘n bestuurder ‘n doeltreffende stelsel van deelnemende, mensgerigte bestuur toepas, kan selfs mense met die ergste gebreekte vlerkies besonder goed presteer. Tipies sal so ‘n bestuurder die werksladings so inrig dat elke persoon op sy sterkpunte kan fokus en ‘n werksomgewing skep waarin elke individu belangrik en gelukkig voel.

Ongelukkig is dit ingewikkelder as dit. Die bestuurder het dikwels weer sy bestuurder, en daardie bestuurder kan dalk nog ‘n hele hiërargie bestuurders bokant hom hê, wat iewers ‘n kinkel in die kabel skep deur ‘n taakgerigte benadering waarin die menslike faktor buite rekening gelaat word. So ‘n bestuurstyl kan dit vir ‘n ondergeskikte bestuurder onmoontlik maak om sy doeltreffende bestuurstyl uit te voer, veral waar die meer senior bestuurder deur die resultate van die junior bedreig voel. Dit vererger as die senior bestuurder self weet dat hy nie op verdienste in sy pos sit nie.

Selfs die mees kundige sielkundige ondersteuningsdiens is ondoeltreffend as dit nie struktureel verweef is nie. Die persoon wat onder druk van sy werksomstandighede – dikwels ‘n aanslag op sy selfbeeld – knak en dan “afgeboek” word en berading ontvang, moet na afloop daarvan na presies dieselfde werksomstandighede terugkeer. Hy moet weer die probleem – die senior bestuurder wat hom aftakel – in die gesig gaan staar en bevele teen sy beterwete gaan uitvoer.

Die gevolg is ‘n verdere afboek vir verdere sielkundige behandeling, tot die siekverlof uitgeput is en ‘n persoon moet noodwendig terugkeer na ‘n situasie wat nie aangepreek is nie, en waarvoor hy nog nie reg is nie. Uiteindelik word dit ‘n berg wat net eenvoudig te hoog is, selfs al lyk dit vir ‘n ander nie eens na ‘n molshoop nie.

In ‘n omgewing waar ‘n gemeenskap vervreemding in sy eie land begin ervaar, en selfs as vyand getipeer word, prut ook vele probleme in die drukkoker. Dit kan op die kort termyn deur ‘n toestand van euforie, soos met die land se aanbieding van die wêreldsokkertoernooi, ondervang word, maar daarna tree post-euforiese depressie of trauma aan wanneer die werklikheid weer deurdring.

Hoe kleiner die gemeenskap wat deur sulke trauma getref word, hoe kollektief erger word dit ervaar. Die trauma van plaasmoorde word dus ook besonder diep ervaar en word soms viktimonologie genoem – ‘n kleinere gemeenskap wat statisties op ‘n skaal van ongeveer tien keer hoër as die land se reeds hemelhoë moordsyfer geteister word – volgens Interpol meer as 300 per 100 000 per jaar teenoor die land se gemiddeld van sowat 32 per 100 000, gepaardgaande met afgeleënheid en blootgesteldheid, en waar die boere boonop dikwels uit die monde van regeringsleiers moet hoor hulle is aanranders en selfs verkragters wat mense uitbuit – alles dra by tot viktimonologie.

Baie van die gevalle van gesinstragedies kon voorkom gewees het as na die regte kundiges geluister is, as die familie en vriende skerper op luistervaardighede ingestel was en die gevaartekens kon waarneem…

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien