Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Stempatroon

Ontleders het weke na die landswye munisipale verkiesing nog nie eenstemmigheid oor hoekom kiesers hul kruisies gaan trek het soos hulle dit gedoen het nie.
Omtrent al wat duidelik is, is dat baie kiesers ‘n keuse uitgeoefen het wat hulle as pragmaties beskou, eerder as dat hulle vir hul eie beginsels gestem het. Dr. Pieter Mulder, leier van die Vryheidsfront Plus wys selfs daarop dat kiesers wat eintlik sy party steun, nou al ‘n tweede agtereenvolgende keer vir die DA gestem het, en nou ‘n tweede keer in hul keuses ontnugter is.
Dat kiesers, in hul eie oë, pragmaties anders stem as dit waarin hulle glo, blyk uit die ou grappie: ‘n Engelssprekende Suid-Afrikaner dink Prog, hy stem SAP en dank die Here die Nasionale Party is aan bewind.
Soms word mense deur ‘n euforie op sleeptou geneem. Die storie word vertel van ‘n Jood wat ook, voor die oorlog, na ‘n toespraak van Hitler gaan luister het. Hitler het die skare so opgesweep met sy “Onder met die Jode!” dat die Jood homself betrap het dat as die skare saam uitroep, hy self uitroep: “Onder met ons!” Dit herinner in ‘n mate aan bruin mense wat steeds ANC stem na Jimmy Manyi se uitsprake en die Kabinet se besluit om Manyi te rugsteun.
‘n Harde les wat partye geleer het, is dat kommunikasie uiters belangrik is. Die ganse mediabedryf het so verander dat nuusdekking nie sommer meer net gebeur nie. Dit moet kundig baie goed oorgedra word. ‘n Groot deel van die nuusbronne is nou gemeenskapsmedia – beide radiostasies en gemeenskapskoerante, wat feitlik volkome daarvan afhanklik is dat die inligting na hulle toe kom. Moderne tegnologie soos e-pos maak so iets moontlik. Tog is daar partye wat dié verskynsel heeltemal mis lees, en steeds verwag dat die media soos skoothondjies agter hulle sal aandraf.
Daar is verskeie redes waarom die afgelope verkiesing se stempatroon nie noodwendig op die volgende verkiesing oorgedra sal word nie. Munisipale verkiesings handel in die eerste plek oor dienslewering, en ideologie is veronderstel om ‘n kleiner rol te speel. Tog lyk dit of die kleiner partye wat steun ingeboet het, baie hard sal moet werk wanneer beginselpolitiek – kwessies soos ekonomiese beleid, die beleid oor aborsies en staatsdobbel, die hantering van buitelandse sake, en vele meer aan die bod kom.
Dit is egter ook duidelik dat die land nie die kapasiteit het om meer as ‘n honderd politieke partye te dra nie. Selfs in Nederland waar heelwat nispartye parlementêre en selfs Kabinetsverteenwoordiging het, is daar net ruimte vir ‘n sekere hoeveelheid. Die Groenes, die party vir dieregte, sosialiste, Christen-demokrate, regses en so meer steek almal kleims af.
Hoekom kan dit nie ook in Suid-Afrika nie? Veral omdat die land so ‘n groot Christenbevolking het?
Die ironie, so wys kommentators uit, is dat ten spyte van wisselende intensiteitspogings om keuses op sterkte van ras te beperk, dit steeds die hoofdrywer is. Trouens, dit was taamlik duidelik dat, toe die ANC besef hy is in die sop oor dienslewering, hy doelbewus weer die rassetamboer ingespan het.
En solank ras, eerder as beginsels, die norm vir stemkeuses is, het die land ‘n baie gebrekkige demokrasie.