Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Staastsrede-tradisies

Opsomming

Donderdagaand vind pres. Jacob Zuma se staatsrede plaas, en dit hou vir Suid-Afrikaners veel meer in as bloot dat die sepie, 7de Laan, se skedule dan verskuif.

Tipiese staatsredes soos ons dit vandag ken, het eintlik eers in 1913 in die VSA posgevat, en sedertdien wêreldwyd baie tradisieryk ontwikkel. In die post-1994 Suid-Afrika het die groot vertoon wat daarmee saamgaan besonder inval gevind, sodat daar selfs soortgelyke provinsiale en selfs munisipale redes is.

Inhoudelik stel hierdie redes egter baie teleur. Dit is nie werklike redes wat die stand van die nasie uitbeeld nie – dit is eerder vae belofteslagvelde, en oordrewe aansprake op sukses wat die botoon voer. Dit word gereeld as visieloos en inspirasieloos beskryf.

Suid-Afrikaanse staatsredes, veral sedert oud-pres. Thabo Mbeki die sogenaamde Afrika-agenda op die tafel geplaas het, dien ook meer om die Afrikaner verder in sy eie land te vervreem. Staatsredes is daarenteen eintlik veronderstel om nasionale eenheid te stimuleer en nasionale trots te skep.

Die komende staatsrede bied aan pres. Jacob Zuma die geleentheid om as staatshoof bo die interne ANC-kwessies uit te styg. Trouens, die werklikheid oor hoe die globale ekonomiese krisis Suid-Afrika raak, vereis dit. Hy kan ook baie regeerkapitaal wen deur sy verwysings na nasionale dialoog in sy toespraak tydens die ANC se eeufees verder te voer. Bykans alle belanghebbendes is op rekord dat hulle dit verlang, en dat selfs ‘n opvolgskikking verwelkom sal word. Die bal is nou in die president se hande – hy kan dit laat val, of hy kan dit lug gee en die wedstryd volgens internasionale reëls laat begin.

Volledige evaluasie hieronder

Historiese agtergrond

Donderdagaand lewer president Jacob Zuma sy staatsrede – ‘n gebeurtenis wat baie belangriker is as die blote feit dat die TV-sepsie, 7de Laan, se kyktyd geraak word.

Tog is staatsredes ‘n betreklike nuwe verskynsel.

President George Washington het so ver bekend die eerste staatsrede, in Engels bekend as die “State of the Nation”-adres gelewer. Dit was baie kort, en was gedoen omdat die Amerikaanse grondwet bepaal dat die president van tyd tot tyd die nasie oor die stand van sake moes inlig.

Thomas Jefferson het ‘n tradisie ingelui om die verslagdoening in geskrewe vorm te doen. President Woodrow Wilson het in 1913 die eerste staatsrede gelewer wat as die voorloper van vandag se tradisie beskou kan word, en in baie lande wêreldwyd posgevat het. In sommige lande word die jaarlikse gebeurtenis selfs in grondwette voorgeskryf. Die benaming, “State of the Nation” eerder as jaarverslag, het sy ontstaan by pres. Franklin Roosevelt gehad. Die tradisie om staatsredes in die aand te lewer en so die grootste moontlike TV-gehore te trek, het in 1966 ontstaan en is deur president Lyndon Johnson in die lewe geroep.

Oor die jare het die inhoud van staatsredes baie begin verskil, nuwe tradisies is gevestig, terwyl die ontwikkeling van mediategnologie ook nuwe eise en geleenthede gestel het. Vandag word dit as van soveel simboliese waarde beskou dat die geleentheid dikwels deur diplomate bygewoon word.

Omdat die staatsredes in baie lande deur monarge en staatshoofde, eerder as regeringsleiers gelewer word, het die verwagting ontstaan dat ‘n staatsrede bo partypolitiek moet uitstyg, en die nasionale kohesie en belange moet dien. Waar die regeringshoof en die staatshoof in dieselfde persoon gesetel is, is die verwagting dus groot dat die persoon dit in sy hoedanigheid as staatshoof sal lewer, hoewel regeringshoofde ook ‘n beleidsoorsig sal lewer. In die VSA in besonder tree die staatshoof in al sy ampte op – ook as regeringsleier, hoofdiplomaat, hoofaanvoerder van die weermag en die hoof-wetgewer.

Wêreldwyd, onder die invloed van praktyke dat staatshoofde dikwels nie veel meer as simboliese ampte beklee nie, is die bedoeling egter dat die staatshoof by dié geleentheid die parlement en die nasie toespreek.

Kenners van staatsredes het drie hoofkenmerke daarvan geïdentifiseer – beoordeling van openbare waardegedrewenheid, ‘n feitelike oorsig en beleidsvoorstelle.

Veral wanneer sake met die ekonomie haper, is die verwagtinge groot dat die staatsrede rigting sal aandui van hoe die staat hom posisioneer om die nasionale begroting die nodige ondersteuning tot ekonomiese groei te bied. Optimisme is dus ‘n tipiese kenmerk van so ‘n toespraak, maar kan ook nie onrealisties wees nie.

In die VSA verskil die staatsredes van presidente, maar selfs dieselfde president se staatsredes sal verskil afhangende van of dit sy eerste na ampsaanvaarding is, of dit ‘n midtermyn-rede is, of aan die vooraand van ‘n verkiesing staan. In ‘n tweede termyn neem dit meer die karakter aan van ‘n ware staatshoof.

‘n Goue balans moet tussen die verwysings na die verlede, die hede en die toekoms gevind word. Tipies sal die staatshoof nie ‘n probleem as onoorkomelik uitwys nie, hy sal eerder fokus op hoopgewende leiding oor hoe die probleem aangepak en oorkom kan word.

Suid-Afrikaanse realiteite

‘n Staatsrede in ‘n betreklik homogene land sal baie verskil van ‘n staatsrede in ‘n heterogene land, hoewel die fokus steeds op nasionale eenheid sal val. Juis daarom sal moeite gedoen word om minderhede nie in die proses te vervreem nie. Dit kan gedoen word deur die polariserende kwessies te verswyg, of dit kan gedoen word deur dit juis te opper en aan te dui hoe dit aangespreek sal word.

In Suid-Afrika het ‘n eie tradisie ontstaan, van waar die simboliese vertoon die inhoudelike by verre oortref. Die inhoud gee dikwels bitter min leiding oor wat van die komende regeerjaar verwag kan word. Van die toesprake in die verlede was duidelik sterk eenmanspogings soos duidelik die handewerk van die eertydse minister in die presidensie, Essop Pahad. Hierdie toesprake het so van tradisie afgewyk dat dit hulle tot skerp kritiek deur die opposisie geleen het, wat dan weer besonder skerp repliek deur veral pres. Thabo Mbeki getrek het. Dit het weer ‘n gelaaide atmosfeer in die parlement vir die komende jaar verseker.

Elders ter wêreld is die staatsrede die produk van ‘n omvattende spanpoging van kundiges binne en buite die regering. Trouens, dis selfs protokol dat die vernaamste bydraers eresitplekke in die galery inneem, gewoonlik in die geselskap van die land se eerste dame. Hulle kry dan ook in die staatsrede self spesiale vermelding.

Pres. Jacob Zuma se staatsredes word gewoonlik, soos sy toesprake in die algemeen, deur futloosheid en visieloosheid gekenmerk. Jaar vir jaar word dit as ‘n ongemaklike eierdans beskryf waar sy toespraakskrywers moeite het om uiteenlopende en teenstrydige verkiesingsbeloftes aan verskillende gehore, met mekaar te sinchroniseer in juis hierdie toespraak waar almal by wyse van spreke, in dieselfde gehoor sit.

Juis omdat pres. Zuma se kop in sy eie party op die blok is, sal hy waarskynlik sensitiewe kwessies vermy, maar terselfdertyd die gehoor aanspreek waar hy meen hy sy sterkste ondersteuning kan monster.

‘n Tipiese sensitiewe kwessie wat waarskynlik vermy sal word, is dié van Julius Malema. Daar kan geen twyfel wees nie – die twee weke tyd wat Malema en kie het om versagtende omstandighede voor te hou terwyl hul posisies voorlopig onaangetas bly, is doelbewus so gekies om die staatsrede daarvan te insuleer. Die kanse is immers baie skraal dat Malema juis nou die weerlig op hom sal trek met ‘n onfatsoenlike uitspraak, terwyl Malema se ondersteuners in suspensie gehou word omdat Malema se posisie nog formeel onaangetas is.

Afrikanerbelange

Afrikaners sal waarskynlik vergeefs wag om te hoor of die president enige rigting aan die taaldebat sal gee. Elders ter wêreld, waar die staatshoof ook die regeringshoof is, sou juis moeite gedoen word om minderheidsvrese te besweer en vervreemding te voorkom. Veral uit die Mbeki-era en die aanhef van die Afrika-agenda, is die Afrikaner as reënboogonderwerp min of meer melaats.

Die staatsrede bied die geleentheid om as die staatsrede van alles staatsredes in die annale opgeteken te word, maar die hoop beskaam dat dit sal kan gebeur. Die situasie waarin Malema hom nou bevind, bied byvoorbeeld aan die president die geleentheid om aan te kondig dat die appèl teen Malema se skuldigbevinding aan haatspraak laat vaar word, en dit pertinent te stel dat nasionale versoening swaarder weeg as polarisasie.

Dit sal voorts interessant wees om te sien of Zuma sy oproepe tot nasionale dialoog wat hy tydens die ANC se eeufeesvieringe geuiter het, sal herhaal en stappe sal aankondig om dit te laat realiseer. Bykans alle belangegroepe in Suid-Afrika het al sulke oproepe gedoen, en die bal is nou in die president se hande. Geoordeel aan sy staatsredes in die verlede, is die verwagting egter dat dit hoogstens by lippediens sal bly voor ook hierdie bal aangeslaan word.

Beïnvloeding

Danksy moderne tegnologie kan staatsredes tot op amper die laaste nippertjie verander word, voor dit wêreldwyd tradisioneel enkele ure voor die lewering sogenaamd aan die opposisie gelek word. Belangegroepe sal dus tradisioneel groot moeite doen om juis in hierdie laaste ure hul bod op aandag in te sit. ‘n Klassieke voorbeeld is die mediaverklaring gister deur Agri SA, ongewoon slegs in Engels. Dié verklaring is die produk van ‘n dieptestudie oor die ekonomie en verbandhoudende sake, en verweef eers teen die einde amper ongemerk tipiese landbousake in die omvattende prentjie in.

Die Afrikanerbond se inset kom in die vorm van ‘n oproep tot ‘n taal-Kodesa, duidelik ‘n lokaas vir die president om sy dialoogpraatjies verder te voer in die rigting van konkretisering. Die belangrikheid van grondwetlike beginsels wat vir pres. Zuma skynbaar dwars in die keel vassteek, word baie duidelik onderstreep.

Oor die taalkwessie gaan die FW de Klerkstigting so ver om te skryf dat die bewoording van die taalwetsontwerp moeilik op ‘n ander wyse vertolk kan word as ‘n wraaksugtige gesindheid teenoor minderhede. Skerper kon ‘n oud-president hom nie oor die administrasie van ‘n opvolger uitspreek nie, selfs al is dit versuiker deur die feit dat dit via sy stigting plaasvind.

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien