Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Slaggate in die reënboog

Die inspan van die gevurkte tong is in die era van moderne kommunikasie riskant en onverantwoordelik.

Pres. Jacob Zuma is deur die loop van die jaar besig om landswyd lesings oor van die ANC se voorste leiers uit die verlede aan te bied. Gisteraand het Pixley ka Isaka Seme aan die beurt gekom – akademikus en vyfde president van die organisasie.

Ter ere van Seme, het Zuma ‘n beroep op intellektuele gedoen om te help bou aan ‘n nie-rassige, nie-seksistiese Suid-Afrika. Seme het waarskynlik meer as ander leiers van die ANC gedoen om ‘n baie negatiewe persepsie oor stamverwantskap, in die handel en wandel as “tribalism” bekend, by ‘n groot deel van die swart bevolking te bevestig, wat weer groot druk op die uitvoerbaarheid van die tuislandbeleid geplaas het.

Wat Zuma self in die plek stel, en aan Seme toedig, is dat dié versplinterdheid in ‘n gekonsolideerde swart bewustheid en trots opgaan. Zuma doen daarom ‘n beroep op ‘n Afro-optimistiese benadering, selfs wanneer kritiek uitgespreek word.

Dieselfde dag, buite die Hooggeregshof in Johannesburg waar die aansoek oor die berugte Zuma-skildery aangehoor is, het die sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantashe, ook op die tema van ‘n verenigde swart identiteit uitgewei: Die Afrika-kultuur is nie minderwaardig nie, en Afkaanskap moet verdedig word.

Van oud-president Nelson Mandela se ideaal van ‘n reënboognasie is geen sprake meer nie. Nie-rassigheid het ‘n hol term geword, en is ondergeskik aan die verheffing van die Afrka-kultuur en identiteit in Suid-Afrika tot die algemene norm.

Toegegee, hierdie retoriek word veral opgedis wanner die ANC weens interne twiste probleme beleef, of nie beloftes gestand doen nie. Dan word die retoriek aangehef, en al die ondersteuners val weer mooi in gelid in, leë magies en lendelam makoekas vergete.

Verskeie waarnemers wys reeds daarop dat die Zuma-skildery soos ‘n reddingsboei vir Zuma gekom het. Deur die kwessie in die rassepolitiek in te trek, vervaag die redes oor waarom Zuma so uitgebeeld is. Die skildery word as simbool van wit minagting van ‘n swart man opgedis, en die ANC, as meesters van rollende massa-aksie en die emosies wat dit kan opsweep, laat die kans klaarblyklik nie verbygaan nie.

Die stempel van ‘n “100 persent Zoeloeseun” waarmee Zuma sy aanslag na die presidentskap geloods het, is nou versigtig weggebêre. Hy moet nou terugval op die swart bewussyn. Hy kan hom immers nie vir sy buite-egtelike manewales op die Zoeloe-kultuur beroep nie, want die tradisionele Zoeloe-kultuur stel ‘n hoë premie op maagdelikheid tot die huwelik – en hiervoor is selfs maagdelikheidstoetse ingespan wat deur wetgewing verbied is. Ook die ander swart tradisionele kulture het geen affiniteit vir morele losbandigheid nie.

Wat nou as swart kultuur opgedis word, is veel meer ‘n anti-kultuur wat onder meer uit die trekarbeidstelsel en ontstamming gebore is, ‘n verval tipies aan ‘n kultuur in transito. Dis nie iets wat die Toearegs, die Ethiopiese Christene, of baie ander antieke Afrika-kulture as tipies Afrika-kultuur sal aanvaar nie. Trouens, dit beledig hul manifestasies van Afrika-kultuur. En hierdie “kultuur” is jonger as die Afrikanerkultuur, en die Afrikanerkultuur word nie in die bepaling van ‘n Afrika-karakter verreken nie.

Hierdie fokus verweer die slaggate in die reënboog erg.

Volgens die jongste versoeningsbarometer vir Suid-Afrika glo 32 persent van die land se inwoners dat die inkomstegaping die mees verdelende kwessie in die land is, teenoor net 20 persent wat glo dat ras dié rol vervul.

Dit blyk egter dat ras steeds die onderliggende kwessie was wat dié antwoord opgelewer het. Byna 50 % het aangedui dat versoening onmoontlik is terwyl diegene wat deur apartheid benadeel is, steeds arm bly.

Of dit ‘n spontane persepsie is, of die produk van ‘n regering wat sy beleid van neo-apartheid sonder eens die vooruitsig van ‘n sonsondergangklousule motiveer weens ongelykheid wat steeds geld, is minder duidelik.

Die barometer toon dat waar 12 % Suid-Afrikaners hulself in 2007 primêr volgens hul ras uitgedruk het, dit in 2011 tot 19 % toegeneem het. Oor dieselfde tydperk het diegene wat hulle eerstens volgens etnisiteit uitdruk, van 15 % tot 19 % toegeneem, terwyl die kultuurfaktor, taal, van 20 % tot 18 % afgeneem het. Hoewel diegene wat hulself primêr as Suid-Afrikaners uitdruk van 11 % na 13 % gestyg het, was dié syfer vir die voorafgaande twee jaar 14 % – en dus ook nou ‘n afname oor die laaste drie jaar, en is in elk geval baie laag.

Selfs die feit dat meer mense, 22 %, politieke partye as die grootste verdelende faktor beskou as wat ras so beskou, word dit ook weens die oorwegende rassesamestelling van veral die ANC na ras herlei. Dit is goed gedemonstreer in Cosatu se ontsteltenis toe die DA ‘n optog na Cosatu-huis gehou het.

Wit, bruin en Indiër aan die een kant se gevoel oor die sing van haatspraakliedjies verskil ook skerp van dié van swart mense.

‘n Onlangse meestersverhandeling aan die US toon ook duidelik hoe wit en swart uiteenlopende sienings het oor hoe blankes aan hul grond gekom het. Sowat 80 persent van die swart deelnemers aan ‘n opname het aangedui dat hulle glo wit mense het hul grond van swart mense gesteel. Sowat 9 persent wit deelnemers en 35 persent bruin deelnemers het dieselfde geglo.

Hoewel die vraag oor haatspraakliedjies baie politke-korrek gestel is, het 51 % swart respondente aangedui dat mense toegelaat moet word om “historise liedjies van voor 1994 te sing, selfs al is dit strydig met die grondwet.” Slegs 17 % blankes, 24 % bruin en 17 % Asiër het saamgestem. Oor die noodsaaklikheid oor die veranderinge van straat- en plekname het 47 % swart mense, 15 % wit, 22 % bruin en 18 % Indiër saamgestem.

Die reënboog is vol slaggate. Oor minstens sekere kwessies lyk dit of die regering meer verbete aan rassepolarisasie klou en selfs aanstig, as die breë bevolking.

Die politieke sosiologie is goed vertroud met die beginsel van relatiewe deprivasie, en die rewolusionêre druk wat opbou as die gaping tussen verwagtinge en realiteit te groot word. Dit geld sonder om nog die rassekwessie by te trek, maar dit is verstaanbaar dat die ANC, met sy span soustreinryers te midde van grootskaalse werkloosheid, die kwessie onder die rassekombers sal wil toevou.

Deborah Hargreaves, voorsitter van die Britse Kommissie vir Hoë Besoldiging, wat tans op besoek aan Suid-Afrika is, het uitgewys dat die buitensporige besoldiging wat uitvoerende bestuurslui kry, en wat vlakke bereik het wat nie geregverdig kan word nie, maatskaplike onrus aanblaas.

Maar hiervoor het die ANC ook raad: saal die rasse-eseltjie op. Die moeilikheid met ‘n donkie is dat dit donkievye agterlaat wat net vir ‘n rukkie as goue ponde verkwansel kan word, en as ‘n donkie sy bek oopmaak, val daar kaf uit.

Die erns van die inkomstegaping in Suid-Afrika, wat jare lank reeds groter as dié van Brasilië is, is lank in Suid-Afrika min of meer verswyg, waarskynlik omdat gesorg is dat die politici van al die partye self nie brandarm is nie, en dus nie die kollig hierop sal wil val nie.

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien

Volledige Versoeningsbarometer by:

http://reconciliationbarometer.org/wp-content/uploads/2011/12/2011-SA-Reconciliation-Barometer.pdf