Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Siriese lesse vir Suid-Afrika

Op die oog af klink die voorgenome wettiging van politieke partye in Sirië na vordering. Dié wetsontwerp maak deel uit van ‘n aantal beloofde hervormings deur pres. Bashir al-Assad, en is reeds deur die kabinet goedgekeur onderweg na die parlement.

Soos die ander sogenaamde hervormings is dit egter op die oog af blote maneuvers om die mees belangrike kernprobleem te verskans, naamlik dat die land deur ‘n magtige minderheidskliek regeer word.

Sirië is ‘n heterogene land met ‘n groot Arabiese meerderheid. Die Arabiere is hoofsaaklik Moslems, maar die Moslems is soos in ‘n aantal ander Arabiese lande tussen Soenies en Sjiïete verdeel. Anders as in byvoorbeeld Irak is die meerderheid Moslems in Sirië Soenies. Die land word egter deur ‘n magtige Alawiete-kliek regeer, en die Alawiete is ‘n Sjïïete-sekte – ‘n minderheid van ‘n minderheid.

‘n Omvattende stel maatreëls was reeds vir dekades in plek om te verseker dat die Alawiete se magsposisie onaantasbaar bly, en verklaar in hoofsaak hoekom die oogarts, Bashir, sy pa, Hafiz, as president opgevolg het.

Benewens die grootliks politiek-gestroopte Soenie-meerderheid is daar talle minderhede. Onder die nie-Arabiese minderhede tel die hoofsaaklik Christen-Armeniërs en die Moslem-Koerde. Ook die Assiriese minderheid is hoofsaaklik Christene. Daar is ook Chisten-Arabiere, sodat sowat 15 % van die bevolking Christene is, wat gereeld onderdrukkende maatreëls ervaar.

Bykans alle groepe, ook die, ook die Sjiïete, word van buite die landsgrense beïnvloed. Die Koerde maak deel uit van die Koerdiese volk wat tussen Iran, Irak en Turkye verdeel is, en in elkeen van hierdie lande onderdruk was, en dikwels nog onderdruk word. Sedert die Bush-senior-administrasie ‘n vlugverbod oor Irak se Koerdistan afgedwing het, beleef die Koerde in Irak ‘n soort de facto-outonomie, en dit is in die post-Sadam-Irak grondwetlik voortgesit. Dit het in veral Turkye, waar selfs die praat van Koerdies lank verbied was, Koerdiese nasionalisme versterk, en Turkye het verskeie strafoperasies in Irakese Koerdistan uitgevoer. Turkye, om lid van die Europese Unie te kan word, het egter intussen toegeefliker teenoor die Koerde geword, maar onlangs nog het Koerdiese rebelle 13 Turkse soldate in ‘n hinderlaag doodgeskiet.

Presies hoe oorgrens die groepe se invloed strek, blyk daaruit dat Assad in Libanon, wat nog meer heterogeen is, waarskynlik groter sigbare steun het as in Sirië, waar sy steun hoofsaaklik tot Damaskus beperk is.

Teen dié agtergrond is dit duidelik dat die beperkings wat op die gewettigde politieke partye geplaas gaan word, min aftrek gaan kry. Politieke partye mag byvoorbeeld nie ‘n etniese of godsdienstige karakter hê nie. Dit mag nie ‘n streekkarakter hê nie, en mag nie ‘n professionele karakter hê nie. Dit mag nie op grond van ras, geslag of kleur diskrimineer nie.

Net iemand wat die karakter van Sirië se bevolkingsamestelling glad nie ken nie, gaan die ingeboude konflikpotensiaal nie insien nie. Dit beteken dat die Koerdiese partye nie gewettig kan word nie, en so ook ander belangegroepe wat nie tot partye sal kan ontwikkel nie.

Twee elemente dui egter die meeste op die verskansing van die status quo: Die regerende Baath-party word in die wetgewing tot “leidende party in die gemeenskap en staat” verklaar en daar is ‘n verskerpte aanslag teen selfs die geringste spore van persvryheid. Soos sake staan, het Sirië nie veel speelruimte om sy posisie op die persvryheidsindeks te verswak nie, omdat dit reeds met die tien grootste muishondlande om die laagste plek meeding.

In die konteks van die wêreldwye euforie oor Suid-Soedan se onafhank-likheid, en die emosionele aspekte rondom Kosovo se onafhanklikheid, is die wêreldpersepsie oor etniese selfbeskikking nou ietwat anders as toe die anti-apartheidsgolf die wêreldmening gedikteer het. Aan die ander kant het baie ander lande etniese minderhede wie se grondwetlike posisie nie in pas met die internasionale reg hanteer word nie, en is sulke lande, soos Turkye en Iran, nie te begerig dat Sirië volkeregtelik suiwer ontwikkel nie omdat dit hul eie lande onder druk kan plaas. En daardie lande is weer ander lande se strategiese vennote. Turkye is byvoorbeeld ‘n Navo-lidland, en as Moslemland vir Navo van ontsaglike strategiese belang.

In kort – Malema en kie se uitsprake is nie bevorderlik om vertroue in die huidige grondwetlike bedeling onder minderheidsgroepe te verseker nie.

Boonop stuur die gewelddadige wyse waarop die opstande onderdruk word, nie juis bemoedigende tekens uit nie. Feite word geplooi, soos dat die opstande die werk van buitelandse agente is. Invloed van die buiteland mag daar wel wees, maar presies dieselfde geld vir die regerende kliek wat van buite deur Sjiïete gesteun word.

Daar is volkeregtelik-erkende grondwetlike modelle om heterogeniteit aan te spreek, en word deur lande soos Indië, Nieu-Seeland, België, Spanje en toenemend deur die Verenigde Koninkryk ingespan. Lande wat heterogeniteit deur geweld probeer hanteer, soos Sri Lanka, gaan waarskynlik vorentoe weer probleme ervaar, soos aanduidings dat Tamils in die buiteland fondse werf, en selfs afdwing.

Herman Toerien

One Response to Nuuskommentaar: Siriese lesse vir Suid-Afrika

  1. Pingback: Nuuskommentaar: Oorlogpraatjies - Sirië en die Midde-Ooste : Maroela Media