Subscribe by Email

Nuuskommentaar: SA gaan weer die kreeftegang op die persvryheidsindeks

Verslaggewers Sonder Grense, met sy hoofkantoor in Parys, Frankryk, het gister sy jaarlikse persvryheidsindeks bekend gemaak. Na dié organisasie onlangs gewaarsku het dat die Suid-Afrikaanse regering die breë weg bewandel met sy beoogde wet op Staatsinligting en mediatribunaal, was dit duidelik dat die land verder op die persvryheidsindeks sou terugsak.

Suid-Afrika beklee nou saam met Botswana die 42ste plek op die indeks, ‘n daling van vier plekke teenoor die vorige jaar. Met Suid-Korea in die 44ste plek en die VSA in die 47ste plek lyk dit of Suid-Afrika hom in betreklik goeie geselskap bevind.

Boonop het verskeie media-akdemici in Suid-Afrika verlede jaar in ‘n onderhoud met Beeld laat blyk dat Suid-Afrika veel meer persvry is as wat die destydse 38ste plek aangedui het, hoewel dit aan die gesindheid en die mediaplanne van die regering haper.

Elke mediawaghond gebruik ander norme om sy indeks op te stel. Lande in die suide van Wes-Europa soos Frankryk en Griekeland neig om veel beter op Freedom House se indeks te vaar as wat hulle op Verslaggewers Sonder Grense se indeks vaar. Tog het Freedom House Suid-Afrika voorverlede jaar reeds as slegs gedeeltelik persvry verklaar.

Dit is ‘n interessante vraag oor hoekom internasionale waghonde Suid-Afrika se persvryheid met ‘n houtoog uitkyk terwyl die media en sy gevolg in die land die posisie beter ervaar. ‘n Ontleding dui egter daarop dat die menings nie so ver uiteen loop nie – dis meer ‘n geval van tydsberekening.

Verslaggewers Sonder Grense waak so sterk oor persvryheid dat dit ook voorkomend reageer. ‘n Land se posisie word dus reeds beïnvloed as die regering nog net die verkeerde seine uitstuur.

Suid-Afrika het juis sy swakste posisie op die indeks, die 44ste, in 2006 behaal toe snoerwetgewing in die parlement gedien het. Slegs enkele jare tevore, in 2003, het Suid-Afrika nog die 21ste posisie beklee en was die mees persvrye land in Afrika. Die regering het wyd en syd, soos op sy amptelike nuusdiens, Bua, oor hierdie prestasie gespog.

‘n Skrale drie jaar later dien die Wysigingswetsontwerp op Film- en Publiokasies voor die parlement. ‘n Soortgelyke storm as die huidige oor die Wetsontwerp op Staatsinligting het toe losgebars, en Sanef, die Freedom of Expression Institute en die Mediainstutuut van Suid-Afrika het met Verslaggewers Sonder Grense saamgespan om die wetsontwerp te kelder. Die angel in die wetsonwerp was nie die bepalings daarvan self nie, maar dat dit die deur vir verdere snoermaatreëls sou open.

Die wetsonwerp in sy bedreigende vorm het in die slag gebly, en teen 2009 het Suid-Afrika na die 33ste posisie verbeter. Suid-Afrika was egter nooit weer die mees persvrye land op die kontinent nie.

Op die jongste indeks vaar die Kaap Verde (9), Namibië (20), Mali (25), Niger (29) en Ghana (41) beter as Suid-Afrika.

Ander faktore wat ‘n land se posisie beïnvloed is die mate waarin misdaad in ‘n land mediavryheid knou deur onder meer die lewensgevaar vir joernaliste, die rol van mediamonopolie wat voorkom dat die media werklik vry kan berig en politieke korrektheid. Brasilië se posisie het agteruit geboer weens die misdaadkwessie, terwyl Griekeland swak vaar weens die invloed van magnate op die inligtingsvloei in Griekeland.

Hoewel politieke korrektheid voorkom dat Verslaggewers Sonder Grense hom oor die regering se ongelukkigheid met mediadiversifikasie uitspreek, tel dit tog onder regeringsinmenging in mediasake wat die rooi ligte laat flikker.

Die VSA se posisie het baie agteruit geboer sedert die Al Kaïda-aanvalle, met gevolglike veilgheidsmaatreëls wat die lewe vir joernaliste moeilik maak. Die arrestasie en teistering van joernaliste tydens die onlangse besetting van Wall Street het ook nie gehelp om die VSA se posisie te verbeter nie.

Suid-Afrika se 38ste posisie verlede jaar is juis bereik na Verslaggewers sonder Grense tydens die ANC se groot beleidskonferensie in ‘n verklaring die regering deeglik gewaarsku het – en die omstrede wetsontwerp op Staatsinligting en die beoogde mediatribunaal toe reeds genoem is. ‘n Derde faktor was Julius Malema se walglike optrede teenoor ‘n BBC-joernalis. Nou het die beplande monitering van sekere joernaliste en media bygekom.

Ongelukkig is die persvryheidsindeks nie al indeks waarop Suid-Afrika agteruit boer nie. Op die Korrupsie-persepsieindeks het Suid-Afrika nou na die 64de plek teruggesak. Hierdie twee indekse loop grootliks hand aan hand, wat beteken dat dit ook die land as beleggingsbestemming beïnvloed.

Dit is ook interessant dat verskeie van die Afrikalande wat beter as Suid-Afrika op die persvryheidsindeks vaar, ook beter op die korrupsiepersepsieindeks vaar. Hieronder tel Namibië en die Kaap Verde, terwyl Botswana wat Suid-Afrika se posisie op die persvryheidsindeks deel, ook heelwat beter op die korrupsiepersepsieindeks vaar.

Soos op die korrupsiepersepsie-indeks vaar die lande waarmee Suid-Afrika vrienskapsbande handhaaf ook nie op die persvryheidsindeks te waffers nie. Onder die Brics-lande, vaar Brasilië die beste in die 99ste posisie, terwyl Indië die die 131ste posisie inneem, Sjina die 174ste posisie en Rusland in die 142ste posisie. Ander bekende vriende is Kuba (167), Venezuela (117) en Zimbabwe (117) en die Palestynse owerheid (153).

Die belangrike lesse wat Suid-Afrikaners oor die jongste indeks ter harte moet neem is dat die land nie op ‘n geïsoleerde eiland geleë is nie, en dat die wêreld daarbuite kennis neem van die ANC se aanslag op vrye inligtingsvloei. Suid-Afrika kan planne vir ekonomiese herstel op sy maag skryf as dit sy eie werklikheid aan die burgery probeer verkwansel, terwyl die vlerkslepery by muishondlande ‘n onbekostigbare luukse is.

En enigiets wat op die toesmeer van korrupsie dui, is vir die meningsvormers buite die landsgrense onaanvaarbaar.

Die indeks dui dus ook daarop hoe gesond die demokrasie in ‘n land is, en dat Suid-Afrika agteruit boer, kan nie maar net geïgnoreer word nie.

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien