Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Respek vir die regstaat

In die aanloop tot die verhoor van die Reitz-vier is van die hoekstene van die Suid-Afrikaanse demokrasie onder groot druk geplaas. Die vier is in die handel en wandel skuldig bevind en verguis nog voor hulle gepleit het, en nog minder skuldig bevind is. So erg het dit gegaan dat ‘n uitstellanddros ‘n bevel uitgereik het waarin die politici en die media gemaan is om die regsproses nie vooruit te loop nie. Daardie vermaning kon net sowel aan ‘n groot deel van die publiek gerig gewees het.

Onder die mees bekende regsbeginsels wat gesneuwel het is die beginsel dat iemand onskuldig is tot hy skuldig bevind is, en die audi altaram partem-reël – die beginsel dat die ander party die reg het om sy kant van die saak te stel.

Uiteindelik is die vier onder die beginsel van verminderde aanspreeklikheid aan net sommige van dit wat op hul brood gesmeer is, skuldig bevind. Onder appèl het die regters die hooflanddros, wat die vonnis gevel het, gekritiseer omdat hy die vonnis verswaar het oor aspekte waarvoor die vier nie eens aangekla was nie.

Op die oomblik herhaal die voorval hom met die voorval in Stellenbosch waar ‘n hoogleraar in filosofie na bewering deur ‘n regse aangerand is.

Vanuit ‘n juridiese hoek is daar aansienlike verskille met die voorval toe Eugene Terre’Blanche en van sy ondersteuners prof. Floors van Jaarsveld geteer en veer het. Daardie aanvallers het openlik verantwoordelikheid aanvaar.

Dit beteken nie dat die aanranding van iemand oor ‘n mening wat hy uitspreek goed te praat is nie.

Die ironie is dat diegene wat die beweerde aanvaller die ergste bydam, in ‘n groot mate kom uit die geledere wat die huidige grondwet die grootste lof toeswaai. Uit dié geledere kom gereeld stemme wat die grondwet nie net as ‘n goeie grondwet beskryf nie, maar dit ook as die beste ter wêreld beskryf. Uit dié geledere word gewoonlik, wanneer die grondwet faal, bloot geadviseer dat almal hard moet werk om dit te laat slaag.

Miskien sal die grondwet ook bietjie beter werk as hierdie meestal liberale kommentators die daad by die woord voeg en op hulself van toepassing maak.

Meestal tot hul krediet, sê hulle dat hulle almal, ook diegene wat van hulle verskil, die reg op vrye meningsuiting gun. Onder die jongste groep, wat Breyten Breytenbach insluit wat die Stellenbosse insident veroordeel het, se standpunte is ‘n insiggewende een: Die menings van hulle wat anders dink, moet ook die nodige blootstelling gegee word sodat frustrasies om verswyg te word, nie breekpunt bereik en oorkook nie.

Talle opposisiepartye sal na die afgelope verkiesings dit hiermee roerend eens wees. Party na party het gekla dat ‘n groot deel van die media sommige partye effektief verswyg het, en die DA blatant bevoordeel het. Die gevolg was dat die demokrasie ernstig geknou is deur die uitkristallisering van ‘n de facto-tweepartybedeling, waar baie menings weens die koukus-gebonden-heidsbeginsel in die doofpot geplaas word. Die teen-demokratiese beginsel hiervan word goed gedemonstreer oor die ANC se besluit om sy raadslede in ‘n Oos-Kaapse munisipaliteit aan ‘n leunverklikkerstoets te onderwerp na van die raadslede duidelik in ‘n geheime stemming vir die UDM se burgemeesterskandidaat gestem het.

Dit beteken nie van die opposisiepartye wat kla, moenie ook huiswerk doen nie. Een van die partye wat sleg agteruitgeboer het, het in vier maande in die aanloop tot die verkiesing net 23 mediaverklarings uitgereik, al beskik die party oor ‘n voltydse mediabeampte wat deur die staat betaal word. Ander het waarskynlik werklik rede om te kla.

In die finale instansie, is dit egter ook belangrik dat diegene wat hard veg vir die reg tot vrye meningsuitting, in gedagte hou dat hierdie reg in ‘n regstaat, soos alle fundamentele regte beperk word. My reg op meningsuitdrukking word byvoorbeeld beperk deur ‘n ander se reg op waardigheid en menswaardigheid. Artikel 16 (2) van die grondwet verwoord sommige van die beperkings op meningsvryheid: Dit mag nie oorlog propageer nie, dit mag nie geweld uitlok nie, en dit mag nie haat op grond van ras, etnisiteit, geslag of geloof aanblaas, as dit op die aanstigting om skade (harm) te berokken neerkom nie.

In ‘n verklaring beskryf die FW de Klerkstigting die menings van me Samantha Vice, wat grootliks onderliggend tot die jongste diskoers is, as ongrondwetlik en rassisties.

As almal by die spelreëls van die regstaat hou, en as self-aangestelde liberaliste saamstem dat die ander kant se saak ook gehoor moet word, is iets goeds reeds gebore.

Herman Toerien