Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Renosterstroop

Die aankondiging van die WWF dat ‘n rekordaantal van 341 renosters vanjaar reeds in Suid-Afrika gestroop is, kom terwyl die oë van die wêreld in die aanloop tot COP 17 op Suid-Afrika gevestig is. Twee maande van die jaar is nog oor en reeds is meer as die 333 wat verlede jaar afgemaai is, vanjaar gestroop.

Dit kom ook terwyl ‘n groot deel van die wêreld se omgeebevolking nog die naarheid in is oor die nuus dat die laaste Javaanse renoster onlangs in Viëtnam gestroop is.

Ook die ander Asiatiese spesies se voortbestaan word ernstig bedreig, wat beteken dat die sindikate hul gierige oë op Suid-Afrika rig, waar wildboere daarin geslaag het om ‘n redelike witrenosterbevolking te bestendig.

Dit beteken ook dat die Indonesiese regering nog meer op hul hoede moet wees vir stropers, aangesien nog net 60 die Javaanse renosters in die Ujong Kulon-natuurresrvaat voorkom.

Ook van die ander lewende Asiatiese renosters is nie veel oor nie. Die Indiese renosters, wat soos die Javaanse renosters net een horing het, kom nog net op ‘n paar plekke voor, veral in die gebied tussen Indië en Nepal. In die natuur tel hul getalle sowat 3 000.

Van die kleiner Sumatrarenoster, wat soos sy Afrika-soortgenote twee neushorings het, is nog net ‘n geraamde sowat 275 oor.

Al die renosterspesies word egter genadeloos op jag gemaak en stropers ontsien geen metode nie, hoe grusaam dit ook al mag wees nie. Baie van die metodes wat veral in die jag op Indiese renosters gebruik word is te grusaam om hier weer te gee.

Wat renosters in Afrika betref: die getalle witrenosters wat nog oor is, lyk heelwat beter as dié in Asië. Na raming is daar nog meer as 14 000 witrenosters oor. Dit is egter ook nie die volle verhaal nie – van die noordelike subspesie is waarskynlik geen oorlewendes in die natuur oor nie, en slegs enkeles in dieretuine.

Swart renosters se getalle het sedert 1960 skerp afgeneem van sowat 70 000 tot nog net sowat 2 400 in 1995. Ook hier is die situasie nie heeltemal eenvoudig nie; van die vyf subspesies het een heeltemal uitgesterf, terwyl van die ander subspesies se voortbestaan ook ernstig bedreig word.

Volgens ‘n nuusuitsending van die SAUK is meer as 200 van die renosters wat vanjaar hier te lande gestroop is, in die Sanparke gestroop. Danksy bydraes van die privaatsektor word wilbewaarders nou beter toegerus om die stropers te kan hokslaan.

Die herontplooiing van die weermag aan die grense in die plek van die polisie het volgens aanvanklike berigte ook die lewe vir stropers moeiliker gemaak, maar dit lyk asof sindikate al hoe meer maniere vind om die slagting gewoon te laat voortduur en intensiveer.

Die voortbestaan van renosters is veel komplekser as die blote bymekaartel van die getalle van verskillende bevolkings. Hoewel die swartrenoster se chromosoomgetal van die ander spesies verskil, is hy tog nader verwant aan die witrenoster as wat die witrenoster aan die Asiatiese spesies die Asiatiese spesies is. Die kwessie van subspesies, veral baie skaars subspesies, kompliseer ook die voortbestaan as enige waarde aan diversifikasie en aanpasbaarheid geheg word.

Die gebruiker van renosterhoring as gewaande medikasie of opkikker is egter nie kieskeurig oor van watter soort renoster die horing kom nie. Enige renoster wat selfs maar net ‘n stompie het soos renosterkalfies word nie ontsien nie.

Tot ‘n oplossing gevind word, soos moontlik die wettiging van handel in renosterhoring deur wildboere toe te laat om die horings jaarliks te oes en wettig te verkoop sodat die smokkelaars uit die oorversadigde mark verdring word, is wetstoepassing al opsie.

Suid-Afrika kan ook daaraan dink om sy buitelandse beleid wat gereeld onder kritiek deurloop, koers te gee deur vriendskaplike bilaterale verhoudinge te koppel aan die erns waarmee daardie lande teen smokkelaars optree, en of daardie lande die oortreders tronk toe stuur. Die vinger word juis na Viëtnam gewys met bewerings dat diplomate soms as koeriers en tussengangers optree.

Sodra Suid-Afrika se buitelandse beleid, of gebrek daaraan, minder die karakter van ‘n afkophoender aanneem, kan heelwat bedenklike oorgrens-aksies hokgeslaan word – soos deur die uitlewering van plaasmoordenaars en veediewe wat na buurlande terugglip – maar ook die land ook in staat stel om een van sy grootste bates, sy renosters, te bestendig. Toerisme kan net daarby baat.

Suid-Afrikaners sou onlangs verstom gestaan het om te sien hoe Nederlandse koerante ‘n ophef gemaak het oor ‘n springbokkie wat in ‘n Nederlandse dieretuin gebore is. Die ophef is nog groter as skaarser diere gebore word. Die skade wat die land ly as daardie mense die naarheid in is oor elke renoster wat wreed gestroop word, kan kwalik oorskat word.

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien