Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Regering en die media stamp koppe – al weer

Dit het geen profeet behoef om kon voorspel dat die verhoudinge tussen die regering en die media op ‘n harde koppestamp sou uitloop nie. Veral na die omstrede mnr. Jimmy Manyi as regeringswoordvoerder aangestel is, is voorsien dat die vonke sou spat. In die jongste sage het die nasionale redakteursforum, SANEF, ‘n afspraak met Manyi se baas, minister Collins Chabne, aangevra.

‘n Aspek wat behoorlik uitgeklaar moet word is wat Manyi gesê en bedoel het oor die wyse waarop regeringsadvertensies se geld toegedeel gaan word. In die media is omvattend berig dat Manyi die media blatant hiermee afgedreig het om positiewe nuusdekking vir die regering te beding – maw koerante en media wat ook die negatiewe berig, sou bakhand bly staan.

Manyi maak hierdie vertolking as fiksie af. Volgens hom kan die media maar kritiseer, maar dat die staat sy bronne sou skik om die massas regeringsinligting wat na die burgers gekommunikeer moet word, gekommunikeer te kry. Waarde vir geld, noem hy dit.

Dat dit nie heeltemal so eenvoudig is nie – Manyi en Sanef het regstreeks die saak probeer uitpluis en dit het op ‘n breekspul uitgeloop.

‘n Groot deel van die probleem is dat inligtingverspreiding noodwendig ‘n groot deel subjektiwiteit behels.

Tot Sanef se krediet – dié instansie en veral sy voorsitter, Mondi Makhanya, het al dikwels gewys op die impak op gehalte wat allerlei mediabeperkings in Suid-Afrika plaas. Veral nuusredakteurs is geroskam om hul vlakke van algemene kennis te vergroot om ‘n beter diens aan die lesers- en luisteraarspubliek te kan lewer. Veral tydens die afgelope landswye munisipale verkiesings het dit ook duidelik geword dat beleidsrigtings buite die heersende gedrukte norm, toenemend van sosiale netwerke en onafhanklike radiostasies gebruik moes maak om gehoor te word. Vroeër het Koos Bekker van Nasionale Pers selfs sy kommer oor die rol van gemeenskapsmedia uitgespreek, wat so gedagtediversifikasie bevorder en nasionale kohesie kan ondermyn.

Persvryheid kom met soet en suur – die voorstander van persvryheid moet dus ook bereid wees om boodskappe te hoor wat vir hom minder aangenaam op die oor val. Daar is nie wesenlike verskille tussen selfopgelegde mediasensuur soos politiek-korrekte gelaaide beriggewing, en owerheidsafgeforseerde sensuur nie.

Of Manyi ‘n rehabiliteerbare woordvoerder vir die regering is, sal nog gesien moet word. ‘n Hospitaal sal nie sommer ‘n herontplooide munisipale bestuurder as hoofchirurg gaan aanstel nie. Tog, kom dit by die media, is geskikte kwalifikasies en agtergrond skynbaar geen vereiste nie vir die owerheid nie, en word sondermeer verwag dat ‘n uiters komplekse vakgebied moet vlot ongeag die aanstellings. Die wiel word deurlopend herontwerp gewoon omdat die vakvreemde nie weet dit bestaan reeds nie. Boonop is die media een van die snels-ontwikkelde velde, en raak die staat al verder agter.

Om dit dan die media se probleem te maak is darem dik vir ‘n daalder.

Herman Toerien

One Response to Nuuskommentaar: Regering en die media stamp koppe – al weer

  1. Edwin

    Junie 23, 2011 at 10:28 am

    Die regering sal koppe stamp, want die media word uit vergaderings gehou. Dan kom dans Zuma daarna met Malema, en beweer hulle steun nie malema se grondvergrypplan nie??

    Malema se uitlatings het veroorsaak dat Genocide watch ons nou op ‘n vlak 6 (voorbereiding vir volksmoord) gaan plaas.