Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Realiteit versus romantiek oor revolusie

Dwars oor die wêreld ontstaan groepe wat revolusie romantiseer. Terwyl die Marxistiese leerstellings waarop baie hul inspirasie put die verheffing van die proletariaat ten doel het, is dit ook nie ongewoon dat jong mense, die kinders van welvarende ouers, deur die romantiek ingesluk word nie. Die Bader-Meinhoffs van Duitsland was ‘n goeie voorbeeld.

In Suid-Afrika, goed verwoord deur prof. André Duvenhage, het die ANC ‘n sogenaamde Nasionale Demokratiese Rewolusie bedryf. Mettertyd het dit egter duidelik geword – ook uit uitsprake binne die ANC self soos dié van Julius Malema, dat dit wat baie binne die ANC in die oog het, niks anders as ‘n gewone revolusie is nie.

Of daar in die vergesigte oor revolusie enige ruimte vir demokrasie is, is onduidelik, maar wat wel duidelik is, is dat die beginsel van die Oppergesag van die Reg, of Regstaat waar die grondwet die hoogste gesag vorm, oor ‘n breë front ‘n klip in die maag is.

In heelwat demokratiese lande, soos Australië, is daar ‘n toutrekkery tussen die gesag van die verkose wetgewende gesag, en die oppergesag van die grondwet. Die beswaar is dat dit uiteindelik regters, en nie demokraties-verkose verteenwoordigers van die bevolking is nie, wat die laaste sê het. Talle voorbeelde, soos met die afskaffing van slawerny in die VSA, word gebruik om te demonstreer dat verkose liggame eerder as regters uiteindelik die regte ding doen.

In ‘n homogene staat waar gevestigde konvensie so sterk is dat verkose verteenwoordigers nie sal droom om daardie konvensie uit te daag nie, is ‘n staat waar die wetgewende gesag oppermagtig is nog denkbaar, al tas dit ‘n wesensbeginsel van die moderne demokrasie – die skeiding van magte – aan. Uiteindelik kan net ‘n behoorlike regbank oor hierdie beginsel waak.

Teen hierdie agtergrond is pres. Jacob Zuma se aanval op die regbank onthutsend. Sy stelling dat die howe nie die verkose regering mag oorheers nie, is dalk nog geldig binne ‘n gegewe konteks, maar die konteks word versteur wanneer hy effektief te kenne gee dat ‘n verkose regering in staat gestel moet word om te doen wat hy wil.

Dit staan nie in isolasie nie. Malema het onlangs ook ‘n standpunt herhaal wat al hoe meer gehoor word – die ANC moet soos oorwinnaars begin regeer. Dit gooi die mees basiese demokratiese beginsel by die deur uit dat ‘n regering wat net in eie belang regeer, ‘n diktatuur van die meerderheid is. Omdat verkiesings in Suid-Afrika nog grootliks etniese sensusse is, verg dit ook geen Einstein om die gevolg uit te pluis nie.

Boonop beteken so ‘n stelling dat die Kemptonparkse onderhandelings en skikking nie meer erken word nie. Daar is lank reeds regsonsekerheid oor hoe geldend die grondwetlike beginsels nog is waaraan Suid-Afrikaanse grondwette behoort te voldoen. Het dit selfs nog die status van konvensie?

Uiteindelik is die grondwet self in die pad van maak of breek, en dit is die taak van die howe om toe te sien dat dit gehandhaaf word.

‘n Barometer van hoe naby die realiteit in Suid-Afrika nog aan die Kemptonparkse grondwetlike ideale is al dan nie, is die uitsprake van die FW de Klerkstigting waarin kommer oor afwykings uitgespreek word. Dié stigting neem juis die rol as waghond oor dié beginsels op hom.

In ‘n regstaat is daar geen ruimte vir praatjies van revolusie nie, al het die mense wat dit so kwistig aanwend die mees geromantiseerde idee daarvan. Revolusie bly lelik – in vier maande is daar na bewering sowat 1 600 mense in Sirië dood, die Libiese kwessie het skynbaar in die woestynsand en bloed vasgeval. Egipte ken nog nie rustigheid na sy rewolusie nie.

Die geskiedenis leer ook dat revolusies selde behoorlike demokrasieë voortbring.

Hoe ver werklikheid van romantiek staan, blyk uit Malema se peperduur luukse vakansieverblyf. Presies hoe lank sal Pofpokkel aard in ‘n Somaliese vlugtelingkamp waar sterftes weens ondervoeding aan die orde van die dag is? Die jongste krisis is wel aan die ergste droogte in 60 jaar toe te skryf, maar die chaotiese toestande om hulporganisasies operasioneel te kry is te danke aan Al-Sabaab se sogenaamde revolusie. In daardie vlugtelingkampe kan Pofpokkel se horlosie se kosprys baie honger magies vul.

Herman Toerien