Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Ras en heterogeniteit

‘n Ligte storm het ontwikkel omdat dit met die jongste sensus nodig gevind is om deelnemers se ras aan te toon. Die laaste apartheidswet, die Wet op Bevolkingsregistrasie, is net meer as twintig jaar gelede geskrap, en ander apartheidswette, soos die Groepsgebiedewet, ‘n paar jaar vroeër.

In die eerste artikel in die grondwet se tweede subartikel word die nie-rassige grondslag van die grondwet, en dus verondersteld die land beskryf. Onder die grondslae vir die selfbeskikkingsregte, soos in artikel 235 van die grondwet beskryf, word ras nie as norm genoem nie.

Tog toon verskeie meningspeilings dat die land besig is om te polariseer. Dit beteken dat die grondwet ‘n ingeboude swakheid moet hê, of dat die regering droogmaak in die nastrewing van sy grondwetlike doelwitte, of beide.

Boonop sou, as die bevolking se ras vir die sensus belangrik was, die ras maklik uit kruiskontrolerende vrae afgelei kon word.

Toegegee, was die rassevraag weggelaat, was die herrie waarskynlik behoorlik los, en heel waarskynlik grootliks uit presies dieselfde geledere as diegene wat nou lang lippie trek. Baie van die besware hou verband met wantroue oor die motiewe van die sensus, en is ‘n kwessie wat die staat waarskynlik nie ernstig genoeg opgeneem het nie.

Die rassekwessie is nie uniek aan Suid-Afrika nie. Onlangs was ‘n Nederlandse gemeenskap wat ‘n skool na ‘n nuwe perseel verskuif het met die uitdruklike doel om deur sy toelatingsbeleid voorkeur aan wit leerlinge te skenk, in die nuus. Kort hierna het ‘n ligte storm in België losgebars toe senior politici gevra het dat die ras van misdadigers in die tronke bygehou moet word.

Wat Suid-Afrika betref, raak dit baie laat in die dag dat ‘n punt aanbreek dat besluit word wanneer lippediens en uitsprake teen rassisme ook konkreet in die toepassing begin beslag kry. Gereelde uitsprake dat rassisme in Suid-Afrika oorwin is, klink hol as die praktyk op die teenoorgestelde dui – en weer eens word die persepsies ook sterk gedryf deur die ANC se appèl teen die haatspraakbeslissing teen Julius Malema.

Aksente op diversiteit – of dit nou ras of ‘n ander aspek is – moet noodwendig in die grondwet en staatkundige model weerklank vind. Die meganismes hiervoor wissel van ‘n gesonde beskerming van minderheidsregte tot volslae afskeiding soos met Suid-Soedan, Eritrea en Kosovo gebeur het.

Diversiteit en die impak wat dit op stabiliteit het, lei soms tot ‘n vorm van volstruispolitiek. In Libanon word moeite gedoen om nie vas te stel hoe die land se godsdienssamestelling van ‘n eertydse vasstelling afgewyk het nie. Op sterkte van die argaïese syfers is sekere grondwetlike bepalings gemaak, soos dat die president ‘n Christen moet wees, die premier ‘n Soenie-Moslem en die voorsitter van die Parlement, ‘n Sjiïtiese Moslem. Dit het nie altyd stabiliteit verseker nie, maar dit is die beste wat die Libanese geoordeel het hulle onder die omstandighede kan doen.

In Egipte is sowat 10 persent van die land se 83 miljoen inwoners Koptiese Christene. Hulle beleef periodiek diskriminasie en selfs openlike aanvalle wat lewens kos, terwyl Koptiese kerkgeboue gereeld in vlamme opgaan. Hoewel ‘n groot deel van die Kopte tradisioneel weens de facto diskriminasie erbarmlik arm was, het ‘n deel weens hul groter aanklank by die weste en dus geredeliker toegang tot kapitaal welvarend geword. Hierdie sigbare manifestasie het, soos in Libanon, tot verskerpte anti-Christen-sentimente gelei.

Christen-minderhede in verskeie Arabiese lande merk met kommer op die skynbaar eskalerende optredes teen Christene in lande waar die Arabiese domino-revolusie reeds ‘n bedeling omvergewerp het. In Irak, ironies, het anti-Christensentimente na die Amerikaans-geleide omverwerping van die Saddam-bewind verskerp. So onlogies soos dit mag wees, was Christene onder Saddam dalk beter daaraan toe omdat Saddam sekularisme grootliks bevorder het, met selfs ‘n Christen adjunk-premier, Tariq Aziz.

Die ongeveer 15 persent Christen-minderheid in Sirië is volgens berigte ook nie so opgewonde soos hul landgenote oor die opstand teen pres. Bashar al-Assad nie. Baie van die Siriese Christene is ook nie Arabiere nie, soos die Armeniërs en die Assiriërs, en baie van hulle is boonop afstammelinge van vlugtelinge van die Turkse volksmoorde byna ‘n eeu gelede.

In Egipte, in die aantog tot demokrasie, raak die uitsprake van die Moslem-broederskap minder gerusstellend.

Boonop begin Al-Kaïda sy stem al meer hoor, soos om die Libiërs daaraan te herinner dat hulle die weste steeds moet teenstaan, al het westerse lande hulle gehelp om van Ghaddafi ontslae te raak. Ook die inwoners van Algerië word deur Al-Kaïda aangehits om teen hul regering in opstand te kom.

Radikale Islam het ook in Tunisië na die opstand momentum gekry en al tot verskeie betogings en teen-betogings gelei, en dit lyk of die Islamitiese party, die Ennahda, die komende verkiesing gaan wen.

Die uiteindelike vraag, so lyk dit, is of gematigde of radikale Moslems die na-rewolusionêre septer gaan swaai.

Grondwetlike modelle en politieke manifestasies – ook wat Suid-Afrika betref – bied duidelik nie al die antwoorde nie. Wanneer die grondwet billik heterogeniteit ondervang, help dit egter, maar uiteindelik bly die grootste faktor die menslike faktor – ‘n veld wat politieke sosioloë besig hou – en moet mense die wil hê om konflik wat in heterogeniteit gebore is en gekoester word, te oorkom. Selfs al is dit om uiteindelik in vrede uiteen te gaan.

En ongelukkig, wat dit betref, het Suid-Afrika nog nie die hierdie punt bereik nie.

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien